Mispa. Helena Christina Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Mispa - Helena Christina Hugo страница 6
“Ek hou van my vrou op haar plek.”
“Dit weet ons almal. Jou baard verraai jou.”
Willem hark met sy vingers deur sy baard. Dit tref hom skielik dat Caroline dit eens op ’n tyd gekam en geknip het. Sy doen dit nie meer nie. “Wat het my vrou met my baard te make?” Sy stem klink selfs vir hom rou.
“Niks, behalwe dat sy lyk asof sy met haar oom getroud is. Jy is uit die oude doos, broer Willem. Skeer, voor jy en Caroline weer Kimberley toe kom.”
Willem byt op sy tande, maar dis uit voor hy kan keer. “Jan Adriaan, jy het niks om my mee te troef nie, nou raak jy persoonlik. Los liewer jou stadsmaniere, voor ek jou die hek wys. Of het jy vergeet hier op Mispa maak ek die reëls?”
Jan Adriaan blaas die rook van sy winkelsigaret eenkant toe. “Kleinboetie! Moenie jou so opwerk nie – ek terg soos toe ons kinders was.”
“Ek’s nie meer ’n kind nie en ek laat my nie terg nie.”
“Goed-goed, ek hoor jou.” Jan Adriaan lig sy hande kalmerend. “Ons sien mekaar ook so min – dalk verstaan ons mekaar nie meer nie. Wanneer kom julle weer stad toe?”
“Sodra die nuwe kleintjie sterk genoeg is – vir die doop.”
“In die winter?”
“Of volgende somer. Hang af van die kind. Dis nie asof julle so gereeld hier kom kuier nie.”
Jan Adriaan suig aan sy sigaret. Hulle loop in stilte tot by die eendedam en gaan staan in die koelte. Die ou wilger se takke sleep in die modder. Eende en makoue plons in die water en roei weg. Vinkmannetjies bou fluks aan die soveelste nes. “Ek weet nie of ons weer hier moet afpak nie,” sê Jan Adriaan.
“Hoekom nie? Ma en Pa se grafte is hier, ons is familie.”
“Juis. Pa het nie nodig gehad om ons te onterf nie – dis teen die wet en jy weet dit. Deel van Mispa moet my toekom.”
“Jou ou deuntjie, en spyt kom altyd te laat.”
“Ek was nog nooit spyt oor Kimberley nie. Die stad het my goed behandel. Oor een ding verwyt ek my en dis broer Daan. Ek is jou en Caroline ewig dankbaar dat julle sy naam laat voortleef. Ek en Susanna werk nog daaraan.”
“Dis Pa se name en jy hou nie van Pa nie.”
“Asof jy met Pa klaargekom het.”
“Ek was dertien, een jaar jonger as my oudste seun toe ek saam met Pa begin boer het en nie geweet het of ek die volgende dag gaan haal nie. Julle – jy en broer Daan – het my in die steek gelaat.”
Jan Adriaan gooi sy sigaretstompie op die grond. Hy trap dit fyn en flenters. “Kom ons vergeet van die verlede voor ons mekaar nog ’n keer pak.”
“Jy soek daarna.”
“Jy gee dit vir my op ’n skinkbord.”
“God vergewe jou jou onregverdigheid,” prewel Willem. “Ek kan nie.”
Of Jan Adriaan gehoor het wat hy sê, weet hy nie. Hy vat koers en loop koeikamp toe waar hy swaer Neels druk in gesprek met Klaas sien staan.
Hoofstuk 3
Caroline het ingesluimer en droomloos geslaap. Toe sy wakker skrik, is dit laatmiddag. Sy is natgesweet, ongemaklik en dors. Die hoofpyn waarmee sy gaan lê het, het nie opgeklaar nie. Sy buig haar bene. Die kind roer en rek hom uit.
Hoe het die dag begin en waarheen gaan dit?
Stemme ruis op van die voorstoep se kant. Die gekletter van teelepels teen porseleinkoppies word afgewissel met die uitroepe van mense wat gemoedelik verkeer. Wat soek hulle op Mispa se werf? Toe onthou sy. Dit is die dag voor Kersfees en die familie is hier: Willem se broer Jan Adriaan en sy opgemaakte pop van ’n Susanna, die meisiekinders Anna Catharina en Elsje, Hester en Neels en Klein-Neelsie. Caroline span haar in om uit te maak wie praat. ’n Vrou lag senuweeagtig. Dis nie Susanna of Hester nie. Wie dan?
Here, wat dink hulle van my? Ek is die huisvrou en ek kruip weg.
Te oordeel na die skaduwees teen die engelmuur, is dit lank ná middagete. Verbeel sy haar of hoor sy koeie huis toe kom en potdeksels in die kombuis klap? Kosgeure dring deur die skrefies van die toe deur. Iemand is in beheer – ousus Hester. Sy het gesê sy sal sorg.
Caroline kom langsaam orent. Daar is ’n kraffie met water en ’n omgekeerde glas langs die bed. Sy skink en drink. Die water is koel en sy lei af dat dit net ’n rukkie gelede uit die kleipotte geskep is. Hoekom het die persoon wat dit gebring het, haar nie wakker gemaak nie? Sy skaam haar so bloedrooi sy sal haar voet nie uit die vertrek sit nie. Hier bly sy tot almal huis toe gegaan het en sy in vrede kan sterf.
Maar sy moet eers die kommode gebruik.
Sy is nog besig toe iemand aan die deur klop. “Wie’s dit?”
“Jy’s wakker!”
Klink soos Hester. Sy draai aan die deurknop. “Jy’t gesluit?”
“Ek’s amper klaar.”
Caroline loer in die spieël en druk die los haarslierte agter haar ore in voor sy deur toe stap en oopsluit.
Daar staan Hester met ’n gedekte skinkbord. “Tee en skons soos Mother ons geleer het. Lekker geslaap?”
“Soos ’n klip. Ek skaam my dood.”
“Moenie! Ek kon jou wakker maak as ek wou.” Hester sit die skinkbord eers op die bed neer. “Jy’t jou rus nodig sodat jy môre Kersdag kan vier. Toe, gaan sit op daardie stoel, ek sleep die tafeltjie nader.”
Caroline gehoorsaam haar oudste suster se opdragte – sy is immers al jare soos ’n moeder vir haar.
“Nie kaalvoet nie!”
Sy steek haar voete in haar pantoffels en gaan sit in Willem se stoel.
Hester skuif die voetstoeltjie onder haar voete in. Sy gooi die venster oop en ’n koelerige luggie trek deur die kamer. “Ek kry jou tjalie voor jy koue vat.”
“Dis nie nodig nie.”
“Jy sit in ’n trek en jy kan nie bekostig om nou siek te word nie. Waar bêre jy jou tjalies?”
“In die laaikas, tweede laai.”
Hester haal een uit en kom hang dit om. Dis ’n syerige lap, beskilder met bont blomme en helderkleurige voëls wat net in lande soos Indië en Java te sien is.
“Is dit die een wat Willem vir jou van die Kaap af saamgebring het?”
“Pleks hy my saamgevat het.”
“Hulle het gaan perde laai, Caroline, en jy was verwagtend.”
“Ek was nog nooit in die Kaap nie.”