die na-dood. Breyten Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу die na-dood - Breyten Breytenbach страница 3
as flonkerpetale oor ’n swart tafeldoek
ek lig ’n glasie op die stilte van jou verkoolde lippe, vriend –
al het die kyk my oë verblind
en is daar niks meer om te sien nie
3
. . . het onthou van die halfmaanmuur
in die onderste tuin
waar twee suurlemoenboompies
nou skuilte soek
. . . daar byna uitgevee deur seisoene
geskryf sien staan:
rug téén die muur
van bergwindkoue uit die noorde
anderkant die grens om ballingskap
om die rug te draai
en oor einders te soek
na gerugte van vryheid
die inwoner se boekery
(ter herinnering aan Japie Basson)
iets roep my uit die slaap
nog voor dit lig word buite
en ek loop op geheue af
deur die woonkamer van ’n houthuis
wat nie ons s’n is nie
waar ons eens per jaar
’n seisoen vertoef: trekvoëls
in ’n somergebied
of ontheemde reisende krappe
in die tydelike kluisenaarsbeskutting
van ’n ander se skulp
my geheue in hierdie woonvertrek
is omsoom met boekrakke
van vloer tot plafon
al die donker volumes van reise
deur ’n duisend geskiedenisse
oor die topografie van vreemde lande
geklinker in die nagvertellings van denkers
en dromers en minnaars en prinsesse
wie het my geroep om kennis te neem
van die oorledene se lewe
as ingesamelde murmeling?
het hy ooit al hierdie boeke wat nou rug
aan rug geslote in die halfdonker glim
geléés om verdwaal te raak
of met woorde aan die lippe ’n dieper sin te kry?
sou hy die totale som kon wees in afwesigheid
van al die ingebinde stemme
wat elk geryg aan die fluisterdraad woorde
spreek van ’n duisend geskiedenisse?
hoe doen die mens van aanwesigheid verslag?
die skulp dra in ’n wenteloor die gestilde patrone
van branders se eindeloos herhaalde variasies
op die verteerde geheue aan wrakke en lyke
en seeperdjies en walvisliedere in bewegende dieptes
waar die maan ’n duisend keer in donkerte
geskil word tot gestalte
en reeds word dit lig buite
kom die berge se strakke ingekeerdheid na vore
in boom en struik
en die see se geruis
skitter sigbaar soos die wind
vorm vang in wolke
om ’n uiterlykheid te span
lig soos ’n huid
oor die verhuidiging van vergeet:
om ons teen die tyd te beskerm
The Ridge 80A, Clifton – 9 Maart 2013
bruid in die water met swaeltjies
wanneer dit lig word
dryf ek op my rug in die see
tussen opdrifsels plastiek en papier
al die ou gedagtes
aan die een kant het die maan gaan lê
in die gevlekte lakens van ’n sterwende nag
ver oorkant ’n ander land
van woude en woestyne
gaan die son opstaan uit wolke
soos komberse oor die see
al die ou gedagtes
bo draai swaeltjies die tydwiel se ratte
eers net twee want so was die teken
van paring en verbintenis
en dan ’n dartelende en uitrygende swerm
vliegwieletjies
soos gate in die huweliksrok
motte se ou-onrus gedagtes vertel
hierdie rots gaan swart gloei
die stank van bokbloed weggesyg in die sand
sal mettertyd uitspel
tot sillabes vlieë van die eindelose taal
wanneer die begrawe derms vervel
en die bruid se hemelruim ’n slaapvertrek word
in die woorde van die moskeeroeper
wat al die ou gedagtes bring en laat kring
tot bid in die gebede bed
dancing