die na-dood. Breyten Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу die na-dood - Breyten Breytenbach страница 7
die woorde deur ’n siffie syg
om te sien of ’n muggie
sig sou manifesteer
die marsjerende geledere klanke
ledige betogers
wat uit één keel
die afwesige gesig se bewering
probeer besweer
jy vra of ek in my gedigte is
en ek moes dink aan die nadrink
van die versuipte denker
in die leivoor terwyl die rye
leuseskellende ketters om die hoek
verdwyn soos waarhede
vergek tot ekke
se holle betoog
wegsyg in ’n boeksoekbeweging
geletter in papier
en die wêreld het met my gepraat
en die wêreld/die skepping/die kosmos
het met my gepraat in Afrikaans
en ek het gesug en gesê:
no comprende, please don’t speaka dog
wiz mich –
sou dit nie beter wees
om die wis en die onwis
vir my uit te lê in Mandaryns nie?
maar nee, het die wêreld/skepping/kosmos
geadem: die bedoeling is nie om volledig te wees
of dat jy alles sou verstaan nie –
dis dan juis om jou seer te maak
in daardie naelstringvloei tussen wees en weet
wat die lus sal vleg en vergestalt
wat wil jy tog méér begryp voor jy hang
anders as koekemakranka, koek, ma, krank,
kake, klem-in-die-kaak,
ongehoordhede, ont, oor, gede,
aa vrotpootjie?
is dit dan nie diep bevredigend
om die laaste duisternis van jou asem
te mag mond in Afrikaans nie,
ondankbare hond!
die dubbele ontkenning
jy kan tog nie wil sê
ek mag nie treurig wees
wanneer ek die nuus kry
dat my vader oorlede is
en ek twee knippies snuif neem
om my vir ’n oomblik te verplaas
na daardie ander woordelose wêreld
terwyl ’n klassieke Griekse tragedie
repeteer word hier op die verhoog
van die Salt River-teater nie:
het jy dan geen hart nie?
die gedig se onbekende gesig
gedig is die distillering van gedagte
het ek gedog
en daarmee is dit van die hande af
maar wat soms nog gis in die trog woorde
is waarvoor nie voorsiening gemaak is
wie se naaktheid nie met betekenis
geknip uit poëtiese patrone
kan bedek wat ouer en gedagteloos
besope saam wil dans nie
(o waar is my waarheid
my waarheid my waarheid
o waar is die waarheid
die waarheid van my
o waar is die wees-is
die wees-is die wees-is
o waar is die wees-is
die wees-is van my
o hier is die waar-is
die is-wees die waarkis
o hier is die wees-waar
die isheid van my)
vir Mari, Neo, Dominique en Annalet
julle het gekom soos geeste van gisters
om asse oor die water te strooi
en ek het my eiland vir julle bedroom
luister hoe diep roer en sing die see
kyk hoe bewe wind in die takkies
hoe voëls die hemel betree
julle drink my whisky en my wyn
julle eet die vis en die eiers
julle lag om die tafel
en soms is daar die hunkerende herkenning
van pyn in julle somber gevlerkte oë
want julle het alles vergeet
maar onthou die onrustige bewegings
van asse in die water
gaan asseblief weg
noudat julle die glinstering van lig kon sien dans
en die gordyne soos stil kolkende voue
van ’n kleed
gaan asseblief weg
voor dit te laat is