Jesus ruik na mirre en stof. Pierre du Plessis
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Jesus ruik na mirre en stof - Pierre du Plessis страница 6
![Jesus ruik na mirre en stof - Pierre du Plessis Jesus ruik na mirre en stof - Pierre du Plessis](/cover_pre707355.jpg)
Soms is die korrels of die poeier van mirre in ’n klein sakkie om die nek gedra as ’n lekkerruikdingetjie. In Hooglied vergelyk die vrou haar geliefde man met ’n sakkie mirre wat heelnag tussen haar borste lê. 16
Hooglied is nie vir kinders nie en definitief nie vir tieners nie.
* * *
Ons lees slegs drie keer van mirre in die evangelies. Ons lees die eerste keer daarvan wanneer die wyse manne dit as een van die geskenke op hul besoek uit die ooste bring. Mirre is vir ’n nuwe Koning gebring as ’n heilige salwingsolie.17 Daarna lees ons eers weer by die kruisiging van mirre wanneer een van die soldate dit vir Jesus aanbied om te drink. Gemeng met wyn was dit ’n verdowingsmiddel, ’n klein bietjie genade vir diegene wat gekruisig word. Jesus het dit uitgespoeg toe Hy proe wat dit was. Dieselfde dag is mirre vir die derde keer deel van Jesus se storie. Nikodemus het ’n mengsel van mirre en aalwyn gebring, omtrent 33 kilogram (50 liter), om Jesus se liggaam mee te behandel en vir die graf reg te kry.18
Die feit dat mirre by Jesus se geboorte teenwoordig is en ook by Jesus se teregstelling en begrafnis is vir my fassinerend. Dit is teenwoordig wanneer Jesus sy aardse reis begin en wanneer sy reis eindig. Dit is daar wanneer sy lewe begin en wanneer dit uitgedoof word.
* * *
Die manier waarop mense van verskillende kulture hul dooies hanteer, sê baie oor wat daardie kultuur glo oor die hiernamaals en oor die lewe hier en nou. Dit sê veel meer oor dié wat agterbly en wat hulle glo as oor dié wat gesterf het.
Ek wonder wat die rede is vir die eierbroodjies by ons begrafnisse. Ek is seker dit is al waar ’n mens dit ooit sien en eet. In elk geval, begrafnisse gaan nie oor die persoon wat in die kis is nie, maar oor die mense wat groet; dit gaan nie soseer oor wat die persoon geglo het as die hoop van die mense wat agterbly.
In die Joodse kultuur was die dood deel van die daaglikse lewe en daar is baie spesifieke reëls in die Ou Testament uiteengesit oor hoe om ’n liggaam te hanteer, vir hoe lank jy na die tyd onrein was en wat jy moes doen om weer rein te word.19
Hulle het ook liggame met speserye, olies en parfuum behandel. Die Jode het dit nie gedoen sodat die liggaam behoue sou bly soos die Egiptenare se mummies nie, maar om die verrottingsproses aan te help. Die parfuum en speserye is gebruik om die reuk ietwat te verdoesel en so die waardigheid van oorledenes te beskerm totdat hulle in die graf gesit is.
Joodse grafte in die tyd van Jesus was nie soos die tombes van die farao’s nie. ’n Graf in Jesus se tyd is sommer ’n paar keer deur byvoorbeeld dieselfde familie gebruik. Dit is ook die rede vir die klip voor die graf wat heen en weer gerol kon word. Die liggame is in die graf geplaas sodat al die sagte weefsel kon verrot. Die beendere van die persoon is dan ’n jaar of wat later bymekaar gemaak en in ’n houer gesit. Daarna is dit in die familie se grafkamer gesit.
Die manier waarop die Jode die dooies hanteer het, het gewys hoe hulle glo. In daardie stadium het baie Jode geglo dat almal opgewek sou word op die laaste dag, die dag van God se oordeel, en dat God nuwe liggame sou gee aan die regverdiges. Daar was net een vangplek, daar moes iets van jou oor wees.
Die rabbi’s het verskil oor hoeveel van jou oor moes wees. Sommige het gesê slegs een rugwerwel is genoeg en ander het weer geglo die hele skelet was nodig voordat God weer vleis en vel kon aansit soos in die visioen van Esegiël waar God die geraamtes weer lewend gemaak het.20
* * *
Ek lewe asof ek nooit gaan sterf nie; ek dink baie van ons leef so. Dit klink poëties en sterk asof dit so moet wees, maar eintlik is dit ’n simpel manier van leef. Ek gaan sterf, herinner ek myself elke nou en dan. In ’n stadium gaan iets gebeur of my lyf gaan besluit dit is nou klaar en ek gaan, wel, gaan.
Gesigroomadvertensies help ook nie. Jy ken die advertensies met die 3D-animasie wat jou wys hoe die goue balletjie hierdie keer, met hierdie nuwe tegnologie, diep onder jou vel gaan insypel en dan so van onder af die plooie gaan uitdruk en jou vel glad stryk. Jy is dit mos werd, of hoe? Ons wil tog almal so nuut, vars, en jonk lyk.
Die hele wêreld is ietwat behep met nuut en vars en lekker ruik. Die oomblik as daar ’n krappie of ’n skrapie op is, moet dit uit en vervang word en dan verkieslik met die nuwe, beter model. Kyk almal se tande is selfs wit en perfek. Botox is deel van partytjies. Ons verf so ’n mooi lagie vernis oor die wêreld en kyk vinnig anderkant toe as ons die stukkende dele en die dood raaksien. Ons sluit ons toe in perfekte estates met mooi tuine en hoë mure en ignoreer die wêreld daar buite.
Koop net vir jou ietsie moois, dan voel jy beter. Eet gou iets. Drink net vinnig hierdie slukkie wyn, hierdie klein pilletjie. Ons bedwelm ons seer sodat dit kan verdwyn.
Kyk, jy moet my mooi verstaan, ek self lewe al lank met antidepressante waarvoor ek baie dankbaar is, maar dit is iets anders as wanneer ek ’n ma sien wat blitsvinnig ’n koekie in ’n dogtertjie se hand druk wanneer sy hartseer is, of wanneer daar vinnig die aandag van verlange afgetrek word of wanneer iemand hul pyn onder wyn toegooi in plaas daarvan om dit in die gesig te staar, jouself uit te huil en sterker op te staan.
Hartseer is mos ’n sonde.
Hulle het vir Jesus aan die kruis mirre, gemeng met wyn gegee om te drink.21 Dit was ’n verdowingsmiddel. Jesus het dit uitgespoeg toe hy proe wat dit was. Jesus het nie bedwelmd deur die kruisiging gegaan nie; die pyn en die dood moes deur Hom gaan.
Die dood is lankal nie meer deel van ons samelewing nie. Ons bedwelm en beskerm onsself mooi daarteen. Ek is seker ’n honderd jaar of dalk nie eers so lank terug nie was dit heel anders. Die dood was nader en deel van die daaglikse lewe soos dit in die tyd van Jesus was. In Jesus se tyd het die meeste mense net-net hulle 20’s gehaal en die meeste kinders is oorlede lank voor hulle vyf jaar oud was. Die dood was ’n deel of ten minste ’n aanvaarde deel van hul bestaan.
Die klein familiebegraafplase wat so verwaarloos langs die teerpad staan, laat my daaraan dink dat die dood voorheen deel van die lewe was. Wanneer iemand in die plaashuis gesterf het, moes mense self die graf grawe, die lyk was en hanteer en self die graf toegooi. Vandag het ons die dood uitgekontrakteer aan hospitale en begrafnisondernemers en die meeste van ons sal heel moontlik deur ons hele lewe gaan sonder om een keer aan ’n lyk te vat en sommige seker sonder om eers ’n lyk te sien. G’n wonder ons dink die dood is iets wat met ander mense gebeur en iets wat ver en onbekend is. Geen wonder ons dink ons gaan vir ewig leef nie.
* * *
Mirre het ook ’n ander gebruik gehad. Dit was ’n uitstekende geneesmiddel. Mirre is antisepties, anti-inflammatories en is vir verskeie kwale gebruik. Die helende eienskappe van mirre was ook aan die Grieke bekend. Elke Griekse soldaat het so ’n klein bietjie vloeibare mirre saam met hom in die oorlog gedra.
Aalwyn, die vetplant waarvan Johannes skryf, was ook bekend vir sy helende eienskappe, veral vir veltoestande, swelling, brandwonde, snyplekke en so meer. ’n Bietjie Aloe Vera doen wonders.
Wat vir baie ’n vreemde ding is, is waarom Nikodemus so ’n groot hoeveelheid mirre en aalwyn – 33 kilogram of amper die helfte van ’n volwasse man se gewig – gebring het om Jesus se liggaam mee te behandel. Sommiges reken dit was ’n koninklike hoeveelheid om Jesus te eer, maar selfs daarvoor was dit steeds te veel.
Daar is ’n ander teorie, naamlik dat Nikodemus die helende eienskappe van mirre en aalwyn goed geken het. Die teorie is dat hulle dalk nog ’n klein bietjie hoop