.
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу - страница 11
Daarna beëindig hy die onderhoud. “Ek wil julle graag bedank.”
Rivkah het binnegekom kort nadat die onderhoud begin het, die twee kinders elkeen op hul hare gesoen en toe by Marc gaan sit. Toe hy sien dat sy moeg is, het hy haar hand in syne toegevou en vraend na haar gekyk. Maar sy het haar kop geskud en hulle het die res van die program so gesit en luister.
Nou sug sy. “Mag die wêreld hoor wat hy sê.”
“En glo.”
“Nie baie waarskynlik nie.”
Marc druk haar hand ’n oomblik teen sy lippe. “Het jy al geëet?” vra hy toe.
Sy knik.
“Wat nogal?”
Sy lag verleë en sê sag sodat net hy hoor: “’n Yslike stuk sjokolade.”
Dit maak dat hy haar teen hom aantrek en op haar wang soen. “Soos die vorige kere,” sê hy net so sag.
“Wat maak jy?” wil sy by Yhoshi weet om sy aandag af te trek. Hy het as gevolg van die fluistergesprek opgekyk van die boek waarin hy skryf.
“Ek is met ’n essay besig.”
“O ja? Waaroor dan?”
Hy sug belangrik. “Oor wat ek op die oomblik van my land dink.”
“O genade! Is dit hoekom julle na Bibi geluister het?”
“Ken.”
“En,” vra sy wakker ma, “is dit weer die aand voor die stuk ingegee moet word?”
“Ken, speurhond Imma. Dit moet net 600 woorde wees.”
“Dis eintlik moeiliker as wanneer dit 6 000 woorde is.”
“Nie vir my nie.”
“Hoogmoed kom tot ’n val, Yhosh, oppas.”
“Dis nie hoogmoed nie, Imma, dis net vir my maklik.”
“Beseder, ons kyk wat jy regkry. En jy, Natani?”
Natan het nog nie van sy werk opgekyk nie. Hy is druk besig om met sy pastelle in te kleur. “Ek is nog besig, Imma.”
“Hy teken wat hy Bibi hoor sê het,” verduidelik Marc en knipoog vir Rivkah.
“Wow. Dit sal ek nie kan doen nie.”
Natan reageer nie daarop nie en gaan net aan met sy werk.
Dis eers toe Marc vir hulle almal glase bessietee skink en hulle al vier opstaan dat Natani met sy tekeninge na Marc en Rivkah kom. Yhoshi het intussen na die rekenaar in Marc se studeerkamertjie koers gekry om meer dinge op die internet na te lees.
Natan het sy groot sketsboekblad in vier blokke verdeel. Sy ouers kyk sprakeloos van verwondering daarna.
“Hoe het jy geweet om vier blokke te maak?” vra Marc geïnteresseerd in die kind se tegniek.
“Bibi kan partykeer lank praat.”
Toe bekyk hulle die tekeninge een vir een. In die eerste blok lê ’n swart fiets, wat duidelik op die grond laat val is, langs ’n rooi plas bloed. ’n Groot wit wolk wat water soos trane drup, hang bokant die fiets.
Natan druk met sy vingertjie daarop. “Dis Naor Slav Ben Rut se fiets, waarvan Bibi vertel het. ”
Marc beduie na die huilende wolk. “En dié?”
“Dis HaShem wat saam met ons huil.”
Rivkah neem die handjie in hare. “Natani, net voor ek by die werk weg is, het ons gehoor dat Naor wakker geword het ná byna ’n week.”
Die seuntjie se oë word rooi van die trane. “Ek het vir Yeshua gevra dat Hy hom nie moet laat doodgaan nie.”
In die tweede blok is ’n brandende huis met wilde vlamme wat teen die donkerblou hemel opskiet. ’n Pet met ’n duidelike blou Magen David daarop lê reg voor in die tekening op die grond.
Marc en Rivkah kyk vlugtig na mekaar. “Hoekom is dié pet hier, Natani?” vra Marc.
Die kleine plooi sy voorkop. “Abba, Bibi het mos gesê dis Joodse terroriste wat dit gedoen het.”
“Ek sien,” sê Marc, ontnugter deur wat die stil kind dikwels verstaan.
Die derde tekening is selfs meer ontnugterend. Daar vloei ’n stroom bloed langs die Ou Stad se muur verby. In die lug hang daar ’n maan wat so groot is dat dit meer as die helfte van die blok inneem.
“Hoekom is die maan rooi?” vra Rivkah onnodig, meer om haar skrik te vermom.
“Dis mos die bloedmaan, Imma. Onthou jy nie dat hy die eerste nag van Sukkot daar was nie?”
“Maar hoekom het jy hom nóú geteken, babbelossie?” vra Marc ook ontsenu deur die kind se insig en sy artistieke vermoë.
“’n Bloedmaan beteken ons gaan swaarkry.”
“En nou krý ons swaar,” sê sy pa gedemp.
In die laaste blok is daar ’n groot goue menorah. Aan die voet daarvan sit ’n duif.
“Vertel vir ons van dié prentjie?” vra Rivkah, wie se stem wankelrig klink.
“Dis mos Eretz Yisra’el, Imma. Ons gaan goud bly. Hulle gaan ons mos nie uit die land jaag nie. HaShem het so gesê. En Bibi het so gesê.”
Sy ma snuif en knip haar oë teen die trane wat daarin brand.
Marc trek die seuntjie styf teen hom aan, sy hart verteder deur die kind se onmiskenbare talent. “Hoekom sit jou duifie dan op die grond, Natani, en hoekom is hy so klein?”
“Ons het mos amper nie meer shalom nie, Abba. As ons kry, sal die duifie opvlieg.”
Yhoshi het intussen uit die studeerkamer teruggekom. Hy kyk ietwat verwonderd na sy boetie se tekeninge, maar hy sê niks daarvan nie.
“Weet jy nou al wat jy op die oomblik van jou land dink?” vra Marc.
“’n Mens kan nie net van nóú praat nie, Abba. Jy moet kyk wat vantevore gebeur het.”
“O?”
Hy het ’n bladsy by hom wat hy vol geskrywe het. “Dis wat my inleiding gaan wees. Dis wat die Amerikaanse skrywer Mark Twain in 1867 geskryf het toe hy na die land kom kyk het. Hy het baie gereis.”
Marc en Rivkah kyk