Hanna. Maretha Maartens
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hanna - Maretha Maartens страница 10
Dieselfde begeerte wat in hul verste voorouers was, was in hulle. Hulle wou ’n tasbare voorwerp as god tussen hulle hê, soos die bulle van die Egiptenare, soos die goue bulkalf wat Aäron vir hulle uit die gesmelte oorbelle, armbande en goue orrnamente gegiet het; uit hul kosbaarhede wat van Egipte af saamgekom het. Maar daar was ’n oorblyfsel wat die knie nie voor die Baäls gebuig het nie, en dit was hulle wat hul seuns na Suf, die Leviet van die Efraimsberge, gebring het.
Togu die pottebakker, seun van Suf, het Rama verlaat en ’n halwe dagreis ver van Silo af in tente gaan woon. Togu was die oue wat elke nag in die derde nagwaak sy olielamp opgesteek en uit sy tent gegaan het om alleen in ’n grot daar naby klaagliedere oor die toestand van sy volksgenote te gaan sing en vir hulle voorbidding gedoen het. Toe hy sterf, het sy tien seuns en vier dogters hom in sy aanbiddingsgrot begrawe.
“Ná Togu was dit Elihu, Hanna,” het haar skoonpa vir haar gesê. “My pa, Elihu. Almal voor hom was gewone Leviete. My pa is méér as ’n Leviet. Niemand het verwag dat hy so sou wees nie. My pa was die eersgeborene van my oupa Togu en my ouma Bat-Sua, die oudste van 14 kinders. As seun en jong man was my pa eintlik maar ’n man van die veld, soos Esau, die broer van ons voorvader Jakob. Anders as Esau, was my pa as jong man reeds ’n man van God. Hy was uit vrye wil lewenslank ’n nasireër. Hy het eers op 40-jarige ouderdom tot trou gekom – lank ná sy broers.
“Ek wil jou die storie van my en my pa vertel. Ek was sy eersgeborene, sy enigste seun en sy opvolger in die heiligdom. Ek het susters gehad, maar geen broer nie. Ek was die seun wat in my pa, Elihu, die Leviet en nasireër, se voetspore moes volg. Ek is die kind vir wie hy in sy arms vasgegryp het toe hy my weer ná die groot brand gevind het. Ek is die kind wie se gesig hy tot op die been skoongemaak het sodat ek kon leef. Vir my is daar niemand soos my pa nie.”
Haar skoonpa met die halwe gesig het sy kop gedraai. Sy, wat altyd net na die regterkant van sy gesig gekyk het, die ongeskonde kant, kon haar kyk dié keer nie beplan nie. Sy moes bly kyk. Sy regteroog het haar vasgepen. Die lapverband oor die linkerkant van sy gesig het geskuif. ’n Stukkie van die litteken bo sy neus was oop en bloot.
As sy die lapverband wat hy daardie dag ook maar weer oor die helfte van sy gesig aangebring het, tog maar kon terugskuif. Of dit heeltemal kon afhaal en die doek van sy linkerkant kon verwyder …
“Hy hoef dit mos nie te dra nie,” het sy lank tevore al vir Elkana gesê. “Moet ons mekaar dan nie met letsels, littekens en al aanvaar nie? Ons kan mos daarby leer verbykyk. Hy kan mos net soos wat hy nou is, tussen ons wees. Jou ware pa is tog … Hy is tog binne-in sy liggaam! Sy liggaam en sy verminkte gesig is mos nie wie jou pa regtig is …”
“Oortuig jý hom, Hanna,” het hy gesê. Asof sy, die skoondogter, so iets ooit sou kon waag.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.