Hanna. Maretha Maartens
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hanna - Maretha Maartens страница 6
“Oor die patrone wat ek in die vloere wil hê,” het sy geglimlag. Dit was vir haar heerlik om die granaatmosaïek in die middel van die vloer met gladde klippies in te lê.
“Mooi,” het Elkana verwonderd gesê. “Kom die klippertjies uit die spruit? En hoe kry jy dit reg dat klippe soos vrugte en blomme begin lyk? Ek kan nie eens ’n palmboom se stam uitpak dat dit soos ’n palmboomstam lyk nie.”
Hoe koel in die hoogsomer en droog in die reënseisoen was haar voltooide huis ná die nege jaar in tente! Hoe privaat was dit! Hoe salig privaat was sy en Elkana nou. Familielede van Elkana – tantes en kinders, sy neefs en ander stamgenote – kon nie langer ’n blote groet van buite af gee en die tentflap dan sonder waarskuwing oplig nie. In die tyd toe Elkana se oom sy harem se tente vlak agter hulle s’n opgeslaan gehad het en haar skoonpa se groot balke-en-bokvelhuis skaars ses el van haar en Elkana se tentopening af was, het selfs die wind haar moedeloos gemaak. Die wind het die tentflap gereeld brutaal en ontydig oopgeruk.
Hier tussen die baie tente van my skoonpa, Jerogam, se neefs, veral sy brutale neef Sagaria se kwetterende harem, het sy dikwels half in trane gedink, sal ek bly opspring uit Elkana se omhelsing. Hier bied selfs die nagdonker geen privaatheid nie. Sagaria se vroue, dogters en dié se kinders is soos geitjies in die dag en skerpioene in die nag. Probeer jy hulle met woorde van jou tent af wegkry, weet jy by voorbaat jy mors jou asem.
Toe die kliphuis ingewy was en hulle saam met haar skoonpa ingetrek het, het sy elke dag soos ’n jong bruid na Elkana se tuiskoms uitgesien. Hy het die deur agter hulle toegemaak en dié wat nou oor verlore bokke, slange, voorvalle by die waterput, miet in die meel, die onbehoorlike gedrag van die priesterseuns, Hofni en Pinehas, of oor die geel blaas van ’n spinnekopbyt wou kom praat, moes klop en wag totdat sy of Elkana oopmaak.
Die buitetrappe aan die noordekant en die plat dak bo was haar en Elkana s’n. Sy het spoedig ontdek dat daar gras-, gars-, koring-, duwweltjie-, veldblom- en draboksaad op die dak ontkiem elke keer nadat dit gereën het. Wanneer dit snags te warm in hul vertrek was, het sy en hy soms diep in die nag in die lig van die maan en die sterre teen die buitetrap opgegaan en op die kliphuisie se dak onder die sterrehemel gaan slaap. Daar het hy sy mantel en onderkleed saam met haar eie vir haar oopgesprei en gemeenskap met haar gehad. Nege, ja, byna tien jaar ná hul troue was dit nog met dieselfde oorgawe en teerheid as die nag toe hul huwelik amptelik voltrek is en die bruilofsgaste buite musiek gemaak en feesgevier het.
Elkana het die binnemure van die kliphuis later afgekalk. ’n Tiende van die bovertrekmure was van klip. Die res is steen vir steen opgebou met die gebakte modderstene wat sy hom gehelp maak het.
“Buite moet ons huis die kleur van die rotse hê,” het hy gesê. “Ons vyande moet dit nie van ver af kan raaksien nie. Maar binne moet jy elke ding wat op die mure loop, dadelik kan sien – perdebye, skerpioene en spinnekoppe. G’n spinnekop gaan ons kinders byt nie.”
“Hulle het nie ’n kans nie,” het sy geknik. Die binnemure was witter as wit. Hulle was beenwit.
Sy het ’n gewoonte daarvan gemaak om saans ná sy werksdag vir hom wyn of dikmelk dak toe te neem. Daar het hulle dan alleen in die aandkoelte gesit en gesels met die familietente laer af teen die helling en kinders soos mossies en spreeus net waar jy kyk. Die geur van die tentdorp se aandkos – brood, sop, bokvleis- of groentebredie – was in die aandwind en die gejil van jong kinders in die lug.
Sy en Elkana het oor alles gepraat. Plundertogte in die nag deur plunderaars wat deur die woude ingesluk word, leeus en luiperds en jakkalse, die droogte, dié en daardie een se begrafnis of troue, sy waterputte, die drabokplaag of hoeveel dae voor elke fees hy en sy Silo toe sou gaan.
Aand vir aand het sy hom van haar dag vertel. Van die ooi wat onverwags op pad na die drinkplek gelam het en die vierde slang in drie dae tussen die tente van Sagaria se harem. Dan sou hulle saam lag oor sy pa, Jerogam, wat kierie omhoog reg voor die aggressiewe kobra beland en bo die gegil uit vir die vroue aanhou vra het: “Waar moet ek slaan? Regs, links?”
Partykeer het sy hul aandete dak toe gebring. Dan het Elkana die Here met die breek van die brood in die lig van die ondergaande son of onder die eerste sterre vir sy goedheid gedank. El Shaddai, sou hy Hom dan noem. Almagtige God.
En dan, onvermydelik, het hulle half fluisterend oor ’n nageslag begin praat. Oor dié vir wie se veiligheid hy die binnemure gekalk het. Male sonder tal het hy hul klere in die maanlig op die dak oopgesprei om haar te bemin en ’n kind in haar te verwek.
Laat dit gebeur, Here ons God. Vergewe ons dat ons nog nooit ophou vra het nie, El Shaddai.
Wanneer sy dan ’n week of twee later vir hom sê dat die bloedvloeiing gekom het, was daar magteloosheid in sy oë en het hy net stil geword. Hy kon nie sy arms om haar slaan nie; hy kon haar nie teen sy bors druk nie, want sy was onrein. Stiller en stiller het hy geword. En sy het gedink dat dit net om een rede was. Teleurstelling.
Die dor seisoen van daardie jaar het verbygesleep. Die vroeë en die laat reëns het gekom en gegaan. In die droë seisoen het die wind bruin stof op die klippe van die binnemuur kom smyt. Waar die reën later ingekom het, het daar vaalbruin vlekke op die gekalkte mure vorm aangeneem.
Ag, nee. Moddervlekke op die wit muur, het sy onrustig gedink. En soms, onontwykbaar: Skryf die Here die rede vir my kinderloosheid in modder teen die gekalkte muur sodat ek sal weet dat Hy sonde nie ongestraf laat bly nie?
Moses het die hele Israel voor die intog op Gerisimberg en Ebalberg3 laat staan. Daar rus ’n vloek op elkeen wat sy pa of ma minag, het die Leviete aangekondig.
“Amen!” het die hele volk geantwoord.
Wys die Here die vlekke van my ongeregtigheid só met moddervlekke vir my uit? Is dit die rede waarom Hy my met kinderloosheid straf?
Weke lank het sy vrou-alleen in die huis met die smal vensteropeninge waardeur die sonlig soos geelwit houtbalke ingeskuif kom om teen die oorkantste muur vas te slaan, die moddervlekke bekyk en haar oor hulle ontstel. Op ’n dag het dit tot haar deurgedring dat sy die vlekke kon afskrop.
Sy het water en ’n stuk seep van sederhoutolie, hisop en loog gaan haal, ’n growwe stoflap gevat en die vlekke afgeskrop. Die vlekke het afgekom, maar so ook die kalk agter hulle almal. By Elkana se tuiskoms het sy hom gevra om die dieper vlekke wat sy teen die muur gemaak het, weer toe te kalk.
“Die volgende wat jy afskrop, is die vel van jou hande,” het hy gesê en sy kop geskud. “My dierbare vrou, die moddervlekke het my nie eens gepla nie.”
“Maar sal jy die kolle weer toekalk? Of kan ek dit maar doen?”
Hy het belowe om dit te doen. Later. Sy muurkalk was op. Hy moes kalk-oond toe gaan om sy voorraad aan te vul en dié was byna ’n dagreis ver op ’n uitdraaipad uit die hoofpad na Gibea. Die vlekke het maande lank teen die muur bly sit. Wanneer die balke sonlig dan deur die vensteropeninge val en twee vingers, vier vingers, een palm en later een span afskuif om soos fakkellig op die rou vlekke te skyn, was dit asof sy haarself tot op die been gesien het.
Dit was ondraaglik.
“El Roï,” het sy dit gewaag om die Here aan te spreek, “o, Lewende Een