Ultrasatyn 2. Elsa Winckler
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ultrasatyn 2 - Elsa Winckler страница 3
“Ons sal almal help – aandra, optel, wat ook al, maar asseblief, kan jy nie ’n plan maak nie?”
Ella gryp in. “Ons kan jou tannie Lisa vra om die Vrydagaand se blomme te doen?” stel sy opgewonde voor.
Corinne kou haar onderlip besluiteloos en Alan sluk ’n kreun. Wat de hel? Sy lyf ervaar alles wat die vroumens doen as ’n soort geheime sein.
“Wat het julle in gedagte?” vra Corinne toe sy uiteindelik opkyk.
Doug haal die vel papier wat hul ma hom in die hand gestop het uit en oorhandig dit plegtig aan haar. “En o ja, hier is ook ’n foto van ’n tipies Skotse ruiker,” beduie hy. “Dis presies so een wat Annabel wil hê.”
“Dankie,” sug sy gelate en gaan sit op ’n hoë stoeltjie terwyl sy deur die lysie kyk. “Ek het al iets soortgelyks gedoen. Skotse troues is baie gewild.”
“Waar was jy?” vra Edward, een van die ander broers, vir Alan.
“Ek … het my hande gewas,” sê hy kortaf en ignoreer sy broers se opgetrekte wenkbroue. Sy oë dwaal terug na die vroumens op die stoel.
Terwyl sy deur die lysie lees, swaai sy haar bene heen en weer en vir ’n oomblik flits iets aan die onderkant van haar lang romp in sy oë. Met die volgende skopslag sien hy dit raak – ’n ragfyn goue kettinkie om haar enkel. Let wel, haar dun, sexy enkel. Met nog ’n onderdrukte kreun draai hy sy rug op almal en loop ’n ent weg. Bliksem. As hy soos ’n agtiende-eeuse ridder begin dink ’n vrou se enkels is sexy, is sy broers seker reg – dis tyd dat hy weer ’n slag uitkom, ’n vrou uitneem, saam met haar in die bed spring. Hy is duidelik sekshonger. Dis belaglik om so te reageer op ’n wildvreemde vrou met lang, los hare en wasige klere, net omdat haar armbande klingel.
Agter hom treiter die einste armbande weer ewe parmantig saam met Corinne se stem. “Goed, as julle almal sal help aandra, kan dit werk. Die kleure is nie ’n probleem nie, maar ek sal moet vasstel of ons Skotse heide kan kry.”
“Ons kan die heide invoer,” bied Doug gretig aan. “Alan, wat dink jy? Ons het mos kontakagente in Skotland?”
Alan draai vinnig terug en stap tot by die toonbank. “Is jy nou heeltemal bedo-,” begin hy, maar Corinne spring op en sit haar hand kalmerend op sy arm. Sy woorde droog summier op. Haar aanraking steel sy asem, sy gedagtevloei, die werking van sy brein.
“Ek het ’n voorstel,” sê sy sag maar ferm. “Hier om die hoek is ’n gesellige koffieplek. Gaan bestel vir julle koffie, eet ontbyt, ontspan. Blomme is my besigheid. Ek en Ella gaan gou kyk wat ons kan kry by ons eie verskaffers. Sodra ek ’n plan het, kom gesels ek met julle. Gee ons so ’n halfuur?”
Doug se glimlag is breed. “Dankie, Corinne!” Hy buig oor die toonbank, trek haar kop nader en soen haar op die wang.
Laggend druk sy hom weg. “Ja, toe nou. Uit is julle, ek kan nie dink met so baie mense in my winkel nie.”
Met ’n vinnige knik in die algemene rigting van die vroumense, is Alan uit by die deur terwyl sy broers nog groet. Sy vuiste is gebal en met ’n swetswoord druk hy sy hande in sy broeksakke.
Doug het net ’n grap gemaak toe hy vir Corinne soen, hy weet dit. Maar hy is gereed om sy vuis in sy broer se gesig te druk. Hard. Wat de hel het dit met hom uit te waai? Sy kan soen wie sy wil – hy ken die vroumens van geen kant af nie.
2
“Sjoe,” giggel Ella en gryp die naaste vel papier om haar koel te waai. “Ek het lanklaas soveel manlike manne bymekaar gesien. Dis die ene …”
“Testosteroon?” skerts Corinne half uitasem, lig haar hare op met haar een hand en trek haar notaboek nader met die ander. Ook sy is die ene gloede. “Dié dat ek hulle uitgestuur het,” lag sy en begin kyk deur die telefoonnommers van haar verskaffers op haar foon. “Dis onmoontlik om te werk met daardie spul in die omtrek.”
“Die een wat agter jou aan in die gang af is …”
“Alan,” prewel Corinne, terwyl haar wysvinger oor die name op die lysie gly.
“So, jy het darem sy naam gehoor,” sê Ella. “Wat het in die kombuis gebeur? Jou wange was rooi en jy het ’n trui aangehad toe jy terugkom.” Haar oë rek. “Hy’t jou gesoen!” roep sy opgewonde uit.
“Ella!” raas Corinne ontsteld. Doug se piksoen was soos dié van ’n broer, maar net die gedagte aan Alan se lippe op hare, laat haar die trui weer styf om haar lyf draai. Goeiste aarde tog. Hulle was sentimeters van mekaar af, dit sou so maklik gewees het om op haar tone te staan en met haar lippe aan syne te raak.
Help! Ontsteld soek sy rond op die toonbank. “Niemand het niemand gesoen nie. Hierso,” sê sy en gee ’n boek met telefoonnommers van nog verskaffers aan Ella. “Begin bel jy hierdie name, ek bel dié op my selfoon. Ons het ’n bestelling om aan te werk. Daar is g’n tyd om oor ’n soenery te staan en praat nie.”
Ella trek die boek nader. “Jou wange gloei al weer,” terg sy voordat sy aan die werk spring.
Corinne druk ’n hand teen haar warm gesig. Sy het dalk iets onder lede. Seker ’n vreemde virus. Hierdie waansinnige geklop van haar hart is ’n heel ongewone ervaring. Sy moet iets makeer, haar hele lyf kan tog nie so vreemd koorsig reageer en dit net omdat sy naby ’n aantreklike man gestaan het nie.
Sy gryp ’n stuk papier en begin haar ook koel waai. Net die gedagte aan die man se geur, sy nabyheid, maak haar van voor af warm. Hy het die mooiste blou oë en ag aarde, daai kuiltjie in sy wang is genoeg om elke vrou se bene lam te maak.
“Wel, as ek so na jou kyk, is daar net een afleiding. Jy het ten einde laaste ’n man raakgeloop wat jou liggies aanskakel!” giggel Ella.
Corinne laat val haar papierwaaier en kyk verdwaas na Ella. “Waarvan praat jy tog?”
“Kyk na jou, jou oë blink, jy kan nie op jou werk fokus nie – en dit het alles begin vandat die Sutherland-broers in die winkel was.”
Corinne waai Ella se aanmerking weg. “Ek weet nie van watter liggies jy praat nie. Ek was nogal uit die veld geslaan oor die vyf mans in die winkel, maar selfs jy was ’n paar minute sprakeloos. Hulle is … ’n fees vir die oog, maar ek dink ek het iets onder lede.”
Ella stik in ’n giggel.
“Ek voel effens koorsig, maar dit het niks met die mans te doen nie,” kap Corinne vieserig terug.
Nou lag Ella kliphard. “Niemand het van mans in die meervoud gepraat nie, my liewe Corinne. Uhm … ek dink die koorsigheid is te wyte aan een baie spesifieke man. Die een wat netnou agter jou aangeloop het kombuis toe.”
Corinne trek haar asem verstom in. “Maar dis tog nie moontlik nie, is dit? Hy is ’n beeld van ’n man, ja, hulle almal is – en dis nie asof ek nog nooit mooi mans gesien het nie! ’n Mens kan nie so vinnig … kan ’n mens? Dis seker net …”
“… omdat hy jou liggies aanskakel. Is dit nie wonderlik nie? Net vanoggend het jy nie gedink daar is ’n man wat dit sal regkry nie, en kyk nou vir jou!”
Corinne