’n Muse vir Tess. Lucille du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу ’n Muse vir Tess - Lucille du Toit страница 9
Sy soen hom op sy wang. Ten minste laat sy kinders hom nog in liefde glo.
“Kom in. Mamma is nie hier nie,” nooi Emma hom binne.
Hy gaan nie nee dankie sê nie. Uiteindelik gaan hy sien waar sý gesin nou bly.
Binnekant is die huis elegant gemeubeleer. Dan merk hy die groot bruin leerstoel waarvoor sy eks so baklei het. Hy wonder of die ander man nou elke aand sy koerant daarin sit en lees? En weet die vent dat dit eintlik sý gunstelingstoel was? Miskien sou die bliksem dan anders daaroor gevoel het.
Daar hang pragtige skilderye teen die mure en … familiefoto’s? Hulle het duidelik nie op hulle laat wag nie. Hy en Sulien is skaars ’n maand gelede geskei en dié twee is nog nie eens getroud nie. Dit voel eienaardig om sy kinders en sy vrou saam met ’n ander man op ’n foto te sien. Daar is twee meisiekinders ook op die foto’s, seker die vent se dogters.
Jan-Daniel bal sy vuiste. Woede stoot weer soos suur melk in sy keel op. Die man op die foto’s lyk omtrent dieselfde ouderdom as hy. Dalk ’n bietjie bruiner gebrand?
Miskien moes hy eerder nie gekom het nie, dink hy. Hy hoort nie hier nie. Om hulle in ’n nuwe lewe voor te stel is een ding, maar om hom hier in hulle alledaagse bestaan in te wurm breek nie net sy hart nie, hy tree ook oor ’n onuitgesproke grens.
Emma se pluk aan sy hand ruk hom terug realiteit toe. “Kom sê vir Joshua hallo. Hy is in sy kamer. Hy het al weer ’n skêr beetgekry, nou moet hy sy kas regpak,” sê Emma.
Ag, hemel, die arme kind is skaars ses.
“Nie een van die oom se katte het meer snorbaarde oor nie,” verklik Emma haar kleinboet.
Jan-Daniel lag, want hy wil amper vir die kind sê: “Welgedaan!” Joshua was nog altyd kreatief wanneer hy ’n skêr in die hande kon kry. Wanneer die kinders naweke by hom kuier, is daar nie tyd vir stout wees nie, hy hou hulle te besig.
Hy wonder wat dink die nuwe man van sy twee kosbare kinders? Is hulle vir hom ’n irritasie of gee hy darem vir hulle om ook?
Toe die kamerdeur oopgaan, helder Joshua se oë op. Hy lyk verlig om sy pa te sien. Die kind kom gryp hom om die middellyf. “Pappa!”
“Wat hoor ek van jou?” vra Jan-Daniel. Die kamer is besaai met klere en speelgoed. Vir hom lyk dit of Joshua alles net uit die kas gesmyt het.
As Sulien darem weet wat op haar wag wanneer sy by die huis kom …
Joshua lag verleë en byt sy onderlip vas. “Niks,” sê hy toe met ’n ondeunde glimlag.
“Jy moet soet wees, ou perd, moenie jou ma moeilikheid gee nie.” Jan-Daniel vryf Joshua se hare deurmekaar. Miskien moet hy hom juis aanmoedig om stout te wees. Miskien pos sy dan die kinders vir hom sak en pak terug.
“Is die oom hier?” vra Jan-Daniel sag vir die kinders.
Emma knik.
Hy trek sy asem diep in. Dit is tyd om die man te ontmoet of hy nou wil of nie.
Emma trek haar pa aan die hand, met klein Joshua agterna.
In die gang hoor Jan-Daniel gedempte stemme. Word daar baklei? Is dit dalk die verliefdes? Hy verlekker hom amper in die gedagte. Hy sal nie omgee om Golden Circle-kaartjies vir hul eerste behoorlike argument te hê nie.
Toe hy en die kinders by die toe deur kom, ruk iemand dit skielik van die ander kant af oop.
Jan-Daniel se verbasing kon nie groter wees nie. Sy hart slaan ’n vuishou teen sy borsbeen. Wat maak sý hier?
“Tess, jy moet verstaan,” die manstem klink buierig en ongeduldig, “daar is net nie geld vir alles wat julle wil hê nie. Jy sal moet leer om self reg te kom.”
“Dit is vir jou kind! Jóú kind!” skree-praat sy terwyl sy inderhaas by die deur uitstorm.
Reg in Jan-Daniel vas.
Tess plant haar hande teen sy borskas.
Kan dit wees? Is dié pasiënt al die tyd Tian Meyer se eksvrou? Natuurlik – Tessa Meyer. Natuurlik is sy Tian se eks.
Jan-Daniel vou sy hande om haar boarms om te keer dat sy seerkry: “Hokaai …”
En om te dink hy het oorweeg om haar uit te vra. Veral nadat hy haar Saterdag buite daardie winkel Hartstog raakgeloop het op pad apteek toe. Hel, hy het ure daarna nog gewonder wat sy daar gekoop het. Sy het onweerstaanbaar oulik gelyk met haar nuwe haarstyl, terwyl sy die pakkie agter haar bene probeer wegsteek het.
Sy kyk met onsiende, verstarde oë na hom. Mooi oë. Hy kan steeds nie uitpluis wat die vroumens hom laat voel nie.
Toe Carla ’n groot rooi kring om Tess se selnommer in die praktyk se dagboek getrek het met ’n hartjie daarby, het hy net gelag. Sy ontvangsdame het haar eie afleidings gemaak nadat hy haar van Tess vertel het. Een ding is seker: Tessa Meyer het ’n onuitwisbare indruk gelaat.
En nou staan sy hier reg voor hom met haar hande teen sy lyf. Hy wonder of sy kan voel hoe wild sy hart klop.
Sou Tess besef het wie hy is toe sy hom so ontydig daardie Saterdag gepla het? Dalk het mevrou Tessa Meyer ’n paar vrae van haar eie.
In haar oë wel daar nou trane op. Tess het daardie dag iets van haar broosheid verraai. Nou weet hy hoekom.
Vir ’n oomblik voel dit of iets in hom breek.
Hy gluur die vent aan wat kort op Tess se hakke by die deur uitkom. So dít is nou die man vir wie Sulien hom gelos het? Dit klink of hy nie eens na sy eie kinders se welsyn wil omsien nie. Bliksem.
Hier teen hom ruk Tess skielik.
Toe hy afkyk, registreer verbasing in haar oë. Maar sy sê nie ’n woord nie. Albei van hulle staan doodstil.
Hy kan haar hoor snak na asem terwyl sy haar oë op skrefies trek. Aan haar uitdrukking kan hy sien Tess se hartseer is besig om in woede om te sit. Haar bewolkte blou oë blits.
Is sy nou sowaar sommer vir hóm ook weer vies? Die vroumens is dalk meer kompleks as wat hy gedink het.
“Ken julle mekaar?” vra die vent wat in die deur bly staan het. Dan kom daar herkenning in sy oë toe hy weer na Jan-Daniel kyk. Tess se eks trek sy kraag van sy keel weg, steek dan sy hande in sy broeksakke.
Voor Jan-Daniel kan antwoord, sis Tess net: “Nee … ek moet gaan.”
Sy draai ongeduldig om en storm weg.
Tess knip haar oë en kyk oor haar skouer. Dokter Dan is wragtig hier. Hiér waar sy nou pas met haar eksman oor geld baklei het. Waar sy nou weer moes smeek en Tian se verdomde skoensole blink lek net sodat hy vir sy eie dogter se skooltoer sal betaal.
Sy haal diep asem en trek haar skouers reguit.
“Tess!”