Ena Murray Keur 14. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 14 - Ena Murray страница 16
Hy swyg toe hy haar oë sien. Haar antwoord is gedemp: “Ek … weet nie. Ek dink so.”
Kitty probeer vinnig sy glips toesmeer: “Oor daardie goed kan julle maar later besluit. Ons moet haar eers weer sterk en gesond kry. Kom, kind, drink jou melk.”
Gehoorsaam neem sy die glas en hou haar ooglede neergeslaan. Die verwarring neem in haar toe. Hoekom sal haar man haar vra of sy van blomme hou? Hy behoort te weet, of nie? Of het hulle werklik so onlangs getrou dat hy nog so min van haar af weet?
“Hoe lank is ons al getroud?”
Haar vraag kom direk en die blou oë kyk reguit na Rudolf wat op sy beurt vlugtig na tant Kitty loer.
“’n Paar maande.”
“O.” Dit verklaar dus hoekom haar nagklere en pantoffels en kamerjas nog so splinternuut vertoon.
Rudolf staan op, buk af en soen haar vlugtig op die voorkop. “Ek moet net ’n draai by my spreekkamer gaan maak. Ek het dit die afgelope dae baie afgeskeep. Tot siens, kleinding; soet wees. Tante, u kan vir haar ’n ligte maaltyd maak en sy moet alles opeet. Maar baie lig. Haar maag is baie verswak.”
Madie laat toe dat tant Kitty om haar kloek soos ’n moederhen en haar selfs later toemaak vir die nag asof sy nog vier jaar oud is. Sy is een keer met die hulp van tant Kitty badkamer toe en het toe besef, nadat sy uitgeput terug in die bed was, dat Rudolf gelyk het. Sy voel nie siek nie, maar dit sal nog ’n tydjie neem om haar krag te herwin.
Tant Kitty trek die slaapkamerdeur agter haar toe en Madie sluit haar oë gehoorsaam. Rudolf is seker uitgeroep, daarom dat hy nog nie terug is nie, dink sy. Sy is dankbaar daaroor. In tant Kitty se geselskap kry sy dit reg om te ontspan, maar as Rudolf by is, maak ’n eienaardige spanning hom van haar meester. En dit laat haar baie bekommerd voel.
Hoekom sal sy in haar man, wat so dierbaar en teer teenoor haar is, se teenwoordigheid gespanne en ongemaklik wees? Hoekom sal sy selfs skaam en verleë voel om hom in die oë te kyk? Al het sy alles van gister vergeet, moet die gevoel wat sy vir hom behoort te koester, tog oorgebly het. Maar pleks daarvan dat hy met elke verbygaande minuut vir haar bekender en bekender word, word hy ’n al groter vreemdeling.
Sy stry teen die slaap wat haar wil oorval. Dis nog iets wat vir haar ’n bron van verwarring is. Noudat sy tyd het om daaroor te dink, tref dit haar – sy bedagsame, amper vaderlike houding. Dis amper asof sy eerder ’n dierbare dogter vir hom is as sy vrou. Hy spreek haar aan as kleinding of kleintjie of iets dergeliks, en toe hy netnou weg is, het hy haar teer op die voorkop gesoen. ’n Man wat vir sy vrou baie lief is, en veral terwyl sy ernstig siek was, sal haar op die lippe soen.
Die oomblik toe hulle alleen was, het hy haar ook nie soos ’n ander man in sulke omstandighede sou doen, in sy arms geneem nie. Hy het op die kant van die bed kom sit, haar hand geneem en haar verseker dat sy niks te vrees het nie, dat tant Kitty in die ander bed in die kamer sal slaap.
Die frons tussen haar wenkbroue verdiep. Sy is nie so ernstig siek nie. As sy iets mag nodig kry in die nag, kan hy haar mos ook maar help. Sy is tog sy vrou en wat meer is, hy is boonop ’n dokter. En dan die eienaardige vraag of sy van blomme hou …
Sy sug en draai haar op die ander sy. Ag, sy verbeel haar maar dat daar iets sinisters agter al hierdie dinge skuil. Hoekom sal daar? Dis maar net omdat sy niks van gister kan onthou nie dat sy nou allerhande versinsels vir haar optower. Natuurlik is sy met Rudolf getroud en hy is maar net ’n baie bedagsame man. Daarvoor moet sy hom innig dankbaar wees. Sy het niks te vrees nie, al is die verlede agter ’n swart sluier verberg. Waarvoor sal sy bang wees met so ’n dierbare tante om haar te verpleeg en so ’n teer, bedagsame eggenoot?
En terwyl Madie met hierdie laaste gerusstellende gedagte aan die slaap raak, sit tant Kitty aan die ander kant van die toe kamerdeur en kyk peinsend voor haar uit, haar blik bekommerd.
Noudat sy die eerste keer werklik tot stilstand kom en tyd het om diep en ernstig oor hierdie situasie na te dink, besef sy eers die werklike omvang daarvan. Die onrus in haar verdiep.
Dat ’n man soos Rudolf in so ’n onmoontlike situasie vasgevang is, is byna ongelooflik. Sy ken Rudolf van sy kinderdae af as iemand wat nie tyd vir leuens het nie. Hy is iemand met ’n sterk karakter, ’n man wat die reguit pad stap. Dat dit hy is wat hom nou in die onbenydenswaardige posisie bevind om “getroud” te wees met ’n ander man se vrou, is byna te veel om op hierdie oomblik te verwerk.
Nog erger die feit dat sy, wat ouer is en verstandiger as hy behoort te wees, hom in hierdie penarie ingehelp het! Wat het haar besiel om hom bloot te stel aan die verskriklike goed wat nog alles hieruit kan spruit?
En dat daar wel ernstige gevolge uit dié onmoontlike situasie kan voortvloei, is duidelik. In die eerste plek is Madie ’n getroude vrou. Gestel die gevolgtrekking waartoe hulle gekom het oor die kneusplekke aan haar liggaam is verkeerd? Gestel sy ís deur die een of ander booswig aangerand? Gestel sy het ’n dierbare man wat op hierdie oomblik na haar soek?
Maar dan sou die koerantberig darem seker melding van hom gemaak het. Die berig vertel net van haar stiefpa wat aangerand is met ’n stuk yster, en dat hy byna buite hoop in die hospitaal lê; dat die vermoede bestaan dat sy stiefdogter lig op die saak sal kan werp omdat hulle tydens die aanranding alleen by die huis was; dat die stiefdogter spoorloos verdwyn het.
Volgens die koerant het Barend van Rhijn en Magdaleen Kirschner, sy stiefdogter, nog nooit langs dieselfde vuur gesit nie. Daar is van hul bure wat beweer dat Magdaleen onomwonde gesê het haar ma is dood omdat haar stiefpa haar na haar graf gedryf het. Sy het dus ’n wrok teen die man gekoester.
’n Vriendin het gesê sy het so ’n tragedie verwag, want kort voor die aanranding het Magdaleen teenoor haar opgemerk dat daar nog ’n moord in die huis gaan plaasvind. Die stiefpa lê op die oomblik bewusteloos in die hospitaal en kan nie vertel wat gebeur het nie. Die stiefdogter is weg.
Maar die koerante en die polisie weet skynbaar nie dat hierdie stiefdogter self ernstige letsels aan haar liggaam het nie, dink tant Kitty. Daar was wurgmerke aan haar keel. Al sou sy dan die een wees wat haar stiefpa die hou toegedien het, was dit dalk uit selfverdediging. Sy is miskien aangerand.
Maar dit kan hulle nie vir die polisie vertel nie, nie solank Madie self nie kan onthou wat gebeur het nie.
Sy is nog besig om haar oor al hierdie dinge te bekommer toe Rudolf binnekom. Op die vraag in sy oë antwoord sy gerusstellend: “Sy slaap. Ek het nou net daar ingeloer. Kom, ek gee vir jou iets om te eet.”
Hy volg haar deur kombuis toe en sit die jongste koerant langs die bord neer. “Hulle soek nog steeds na haar.”
Tant Kitty knik en neem teenoor hom plaas. Hul oë ontmoet, en hy sien die kommer in hare. “Tante, ek sal nooit glo dat Madie tot so iets in staat was nie. Goed, ek ken haar nie, nie regtig nie, maar …” Hy beduie hulpeloos met sy hande. “Ek sal net nooit glo dat sy so iets gedoen het nie.”
Kitty sug. “Natuurlik het sy nie, maar ek weet nie of ons die regte ding doen om haar weg te steek nie. Hulle moet tog onomstootlike bewyse teen haar vind voordat hulle haar … wel, voordat hulle haar skuldig kan bevind, nie waar nie? Miskien help ons nou net mee om die agterdog teen haar verder te versterk.”
Hy begin eet, sy gedagtes duidelik nie by wat hy in sy mond steek nie.
“Ek