Marlene en die macho man. Anita du Preez
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Marlene en die macho man - Anita du Preez страница 7
Daar is niemand by die eenvoudige grondverdiepingwoonstel toe Marlene en Zondwa gaan klop nie. Alles is bottoe. In die oneweredige sandputjie langs die voorste grasperkie is ’n verlate groen speelgrafie regop in die sand gedruk langs die bypassende emmertjie sonder hingsel. Hulle klop weer, maar toe daar na die derde poging steeds niemand reageer nie, blaas hulle die aftog.
“Sy gaan ons weer uitroep,” sê Zondwa terwyl sy op haar tone staan om deur die skreef in die verbleikte kombuisgordyne te loer. “Ek wéét dit, en dit beter nie ék wees wat die bliksem moet kom arresteer nie, want ek sal myself nie kan keer –”
Marlene sit haar hand ferm op Zondwa se skouer. “Kom, konstabel. En herinner my om jóú nie te stuur as sy weer bel nie.”
Zondwa se oë flits kwaai in Marlene se rigting. “Hoekom?”
“Want jy is te emosioneel hieroor. Dis hoekom.”
“Probably,” sê Zondwa toe sy inklim. Hulle praat niks verder tot by die stasie nie. Marlene vat ’n omweg verby die oggend se oproertoneel, maar selfs hier lê smeulende oorblyfsels van die skermutseling in die straat verwaai deur die skielike windvlaag.
Toe Marlene eers na sesuur die volgende oggend na haar voertuig stap, het dit liggies begin reën. En dit voel vir haar soos ’n antiklimaks. Veral toe sy haar foon uit haar sak haal en vir die eerste maal haar privaat oproepe van die dag behoorlik nagaan en sien dat daar nog nie weer iets van Tom was sedert sy waarskuwing oor die protesstormloop nie. Sy wás taamlik kortaf vroeër. En dis nodig dat hulle dinge uitpraat. Sy stuur gou vir hom ’n boodskap.
Uiteindelik is daar vrede. Ek is op pad huis toe.
Die antwoord kom dadelik.
Ek is bly. Sien jou netnou daar. Ek sal ontbyt maak. En vir jou ’n lekker bad tap.
Hmmm. Dit klink beter, dink Marlene. Miskien is hy spyt oor hy haar soos ’n orige aap op ’n skinkbord laat voel het toe sy by hom in die bed geklim het. Maar sy’s bereid om te luister as hy bereid is om te praat oor wat ook al hom nou eintlik pla.
By die verkeerslig trap sy effens te skerp rem sodat die lêers op die sitplek langs haar rondgly en van die papiere uittuimel. Sy raap alles vinnig bymekaar en sien uit die hoek van haar oog ’n adres. Dis die klagte oor die lawaaierige honde. 99 Milner Road, staan daar geskryf, in Siphokazi se voorbeeldige ronde matriekmeisie-handskrif.
Hmm. Zondwa het gesê die vrou het weer gebel. Sy’t nooit sover gekom om dit verder te voer nie. Daar was net soveel ander prioriteite. Maar dis op haar pad. Sy ry byna elke dag daar verby. Mens kan die plek nie juis mis met al die venstertjies en torinkies nie. Sy’t al baie gewonder wie bly in die kasteelagtige kasarm, maar nog nooit enige tekens van lewe daar opgemerk nie. En sy kyk altyd, want sy wou nog altyd bitter graag weet hoe dit van binne lyk.
Sy het mos darem nou ’n verskoning? Sy is huiwerig om huis toe te gaan waar dinge dalk nog ongemaklik kan wees tussen haar en Tom, al is sy morsdoodmoeg en grom haar maag al weer van die honger. Dalk moet sy tog net loer in die verbygaan. Dit sal haar aandag aftrek van alles – die dramatiese gedoentes by die werk én hierdie ding met haar en Tom. Sy kry haarself sommer jammer. Dat ’n klag oor blaffende hondjies nou so waar as vet haar idee van afleiding geword het!
Toe sy by die adres verbyry, stop sy en maak die ruit oop. Ja-nee. Die gedruis is nogal erg. En dit voor sewe? Sy kan verstaan dat dit die arme buurvrou sal mal maak. Sy herken Beethoven en ’n kruis tussen ’n geblaf en getjankery – of dalk die hoë gil van masjinerie tussenin? Liewe genade. Dit sou haar ook tot raserny dryf.
Sy skakel die enjin af.
Sien jou oor ’n halfuur, whatsapp sy vinnig vir Tom en sit haar foon op “silent”. Sy vervies haar dat sy effens skuldig voel hieroor. Hoekom sou sy? Sy is mos in beheer van haar eie lewe. Die meeste mans doen dit in elk geval: Stop gereeld na werk iewers by ’n pub en gaan beloon eers vir arme Skattie tuis met ’n drankasem wanneer dit hulle pas.
Sy het dié fenomeen weer eerstehands ervaar toe Renée haar nou die middag vyfuur by Barristers in Nuweland ingesleep het. Wall-to-wall testosteroon. Geen vrouens in sig nie. Asof dit letterlik mans gereën het, soos paddas in die Karoo. En Renée was in haar element. Veral toe die twee luidrugtigstes met werkbroeke en opgevoude dasse in hul sweterige kantoorhemde se sakke gillend bo die donderende manstemme uit wou weet of hulle drankies wou hê. Sy was naar, want die een het net te veel soos Steven geruik en geklink. Sy kon nie gou genoeg daar wegkom nie.
En nou gaan Tom tien teen een met sy hand op die kraan langs die bad sit en wag vir haar. Soos Liefie wat die kossies maar lateraan in die louoond moet sit. Oh well. Miskien sal dit hom goed doen. Sy sug. Waarom wil sy hom laat boet vir gister se mislukte poging? Dit was mos nie net sy skuld nie.
Sy laat die ruit toegly, maar bly nog eers sit. Sy’t nodig om net te dink. Al is dit nou hier langs die straat. Gewoonlik rol die lewe sommerso voort. Tom sal vir haar wag, dit weet sy. Die man het immers meer as twintig jaar lank vir haar gewag. Tom glo: As jy iemand liefhet, laat hulle gaan. En hy hét. En het sy nie gegáán nie. Soos ’n halsstarrige perd het sy hier galop en daar gaan draai.
Om sommer net af te haak met jou hoërskool-sweatheart klink dalk romanties, maar dit was nie vir haar nie. Hopeloos te voorspelbaar. Nee! Sy’t die wêreld platgereis. Foute gemaak. En Tom het maar bly wag. Asem opgehou, het hy die ander dag tot haar verbasing met ’n wrang laggie erken. Eers toe sy die grootste van al haar foute begaan het deur met Steven te trou, het Tom moed opgegee en met Celeste afgehaak. Celeste wat hom van kleintyd af al vir haarself gebrandmerk het.
Maar daar was nog maar altyd daardie iets tussen haar en Tom. Hulle kon spot en speel en ontspan in mekaar se geselskap. Oor dieselfde goed lag. Geheime uitruil. Soos ware pelle. Maar daar was altyd daardie iéts. Nie Steven of Celeste kon of wou dit ooit verstaan nie.
Aan die begin het hulle hulself soms wysgemaak dat hulle soos opgevoede, intelligente mense as viermanskap saam kon uiteet of kuier. Dan kon sy en Tom nie ophou om mekaar se oog te vang oor hul wynglase as hulle saamstem oor iets nie. Amper asof hulle ’n geheime kode gedeel het wat niks met woorde te make het nie. Dit het almal om hulle grensloos irriteer, maar hulle kon nie daarmee ophou nie. Dit was te opwindend. Soos vrugte steel. Veral voor die ander. Sy onthou die kere dat hulle selfs, as die ander twee uit die vertrek was, mekaar probeer oortref het deur lysies te vergelyk en te lag oor hul onderskeie wederhelftes se irriterende gewoontetjies.
Onvergeeflik. Dit kon natuurlik nooit uitwerk nie. En heeltyd het Tom nie moed opgegee nie. En nou? Nou wil nie sy óf hy die fyn ekwilibrium wat hulle skynbaar bymekaar hou, versteur nie. “If it aint broken,” is Tom se ander motto, “you don’t fix it!” Maar ai, weke en weke sonder toenadering? En nou dié vreemde reaksie van hom? Nee, vaderland, sy dink fix-it is nou presies wat nodig is.
As Tom tog net ’n slag wil kwaad word en haar aanvat, sal dit beter wees, maar nee. Tom lyk soos ’n pure volbloed-macho man, maar sy optrede teenoor haar wat Marlene is, was nog altyd so sag soos pienk marshmallows. Hoflik. Versigtig. Beskermend. Asof sy sal breek. Sou die ruheid van polisiewerk haar dan so afgestomp het dat net geweld en aggressiewe gedrag ’n effek op haar kan hê? Is dit waarom sy Tom se fisiese voorkoms en veral sy byna uitdagende manier van stap so eroties vind dat dit haar asem wegslaan – en dan altyd agterna effens verneuk voel? Asof Tom se uiterlike en sy innerlike nie op dieselfde bladsy is nie? As hy haar net sal vasdruk en … en … wild en woes ravish soos wat sy wil hê!
Ag, sy is net verspot en ondankbaar en heel moontlik premenstrueel! En veral honger. Sy raak nogal irrasioneel en befoeterd as sy honger is. Tom Lourens is hard aan die buitekant en sag in die middel,