Pad na Geluk. Moryn Hanzen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Pad na Geluk - Moryn Hanzen страница 3
“Word dit regtig nóg warmer as nou?” keer sy terug na die temperatuurkwessie. Nina voel hoe haar hare klam aan haar nek vasklou. As dit regtig nog warmer as op hierdie huidige oomblik word, hoop sy die plaas het ’n reuseswembad en baie digte skadubome. Én lugverkoeling oral in die huis, anders gaan die vakansie ’n marteling wees.
Uiteindelik het ouma Anita haar skielik oorweldigende dors vir koffie geles en klim sy met twee bekers uit om kennis te maak. Met ’n breë glimlag kom sy om Gogga gestap en gaan staan langs Nina. “Anita du Toit, aangename kennis.”
“Ian Nell, aangename kennis, tannie Anita,” kom dit sonder huiwering van Ian. Lagplooitjies vorm om sy oë en kuiltjies speel skielik alkante van sy mond terwyl hy na een van die bekers wys. “’n Man sal mos daaraan gewoond kan raak om so met koffie in die veld bederf te word.”
Nina se oë is vasgenael op sy lippe toe hy dit effens tuit om die koffie koud te blaas en ’n slukkie te vat.
“Ek en oupa Chris wag al van vroegoggend af op julle koms,” sê hy met sy broeiende donker oë op Nina.
2
Nina kan haar oë skaars afhou van Ian se breë skouers waar hy op die pragtige perd voor hulle uit galop in die smal tweespoorpaadjie waarin hulle so pas links afgedraai het. Versigtig kruie sy agter hom aan, bang dat sy die onderstel van haar motor op die middelman kan seermaak.
“Ouma,” begin sy nuuskierig, “het Ouma geweet Ian woon ook hier op Geluk?”
Sy kyk vlugtig in die rigting van ouma Anita wat ywerig hare borsel en ’n ligte lipstiffie aansmeer terwyl sy haarself krities beskou in die spieëltjie teen die afgeslane sonkap.
“Ag, Ninatjie, jy weet hoe dit gaan,” kom dit ewe onskuldig. “Dit was die een reëling na die ander en voor ek my kom kry, het ek vergeet om te noem dat Ian die boerdery glo ’n paar jaar gelede by sy oupa oorgeneem het na die dood van Chris se vrou, Ria.” Sy tuit haar lippe om dit met ’n sneesdoekie te klad. “En buitendien het ek jou mos jare gelede al vertel dat Chris se kleinseun ’n landbougraad behaal het en dat sy pa en ma – wat albei dokters is – nou al meer as tien jaar gelede Londen toe geëmigreer het.”
“Ek kan nie glo Oumsie het heeltemal vergeet om te noem dat die oom se einste kleinseun ook nou op die plaas woon en werk nie.” Nina loer weer ondeund na ouma Anita deur haar modieuse sonbril, haar wenkbroue hoog opgetrek. Geheimsinnig is haar ouma gewoonlik nie. Sy hoop net nie sy koester enige hoop of verwagtinge nie …
“Maar, Ninatjie, wat maak dit nou eintlik saak?” Ouma Anita het die borsel reeds in haar handsak by haar voete gebêre en kam effens senuagtig met haar vingers deur die kort hare wat Nina die vorige dag netjies versorg het. “Dalk woon hy nie eens meer in dieselfde opstal as Chris nie. Geluk het ’n kleiner opstal ’n paar honderd meter van die groot huis af, as ek nog reg onthou. Ek was ook so lank gelede hier,” voeg sy ter versagting met neergeslane oë by.
Nina voel sommer opnuut skuldig. Waarom sal sy tog verder aan haar ouma torring oor Ian se teenwoordigheid? Sy wil niks doen om ouma Anita se welverdiende kuier te bederf nie. Nog nooit het haar ouma enige moeite ontsien om haar te help nie. Sy kan net dink dat dit nie altyd maklik was nie.
Dit moes ’n groot skok gewees het toe haar ouma vier-en-twintig jaar gelede gehoor het dat Mariaan, haar en Dawie se enigste en pragtige blonde dogter, in haar matriekjaar buite die eg swanger geraak het. Boonop is die pa, ’n uitruilstudent, terug na sy lewe in Ierland omdat hy nie bereid was om so jonk met Mariaan te trou nie. En die ergste, in die finale maand van haar swangerskap het hulle gehoor dat Mariaan ’n hartkondisie ontwikkel het. Kort na Nina se geboorte het peripartumhartversaking haar ma se lewe geëis. En daar sit haar ouma en oupa met ’n piepklein, rooikop-babadogtertjie en die wêreld se hartseer en selfverwyt dat hulle nie strenger was oor hulle dogter se verhouding met die aangename jong seun nie.
“Ag, Oumsie, dit maak seker nie saak nie. Ian is ook maar net ’n mens. Sal my seker nie opeet of so iets nie,” sê sy terwyl sy voel hoe haar wange weer warm word by die gedagte aan hoe sy minder as vyf minute gelede skielik daardie ernstige oë van Ian Nell, wat mens aan gesmelte tjoklits laat dink, op haar gevoel het.
“Dalk hou hy nie eens van vroumense nie,” redeneer Nina teen haar beterwete terwyl sy aan die frons tussen Ian se digte, donker wenkbroue dink. Êrens in die omgewing van haar naeltjie spiraal ’n warm gevoel plotseling uit. Wat doen hierdie vreemdeling aan haar? Hoe is dit moontlik dat iemand wat sy pas ontmoet het, haar reeds aan die fantaseer het oor hoe salig dit sou wees om in die sjokoladepoele van sy oë te verdrink? Sy moet haar regruk en gou ook, want ’n groot plaashek het sowat veertig meter verder voor hulle opgedoem. Die Kalahari is die laaste plek waar sy haar hart wil verloor.
“Kintatjie, wat laat jou dan dink dat ’n volbloedman soos Ian nie van vroumense sal hou nie?” vra ouma Anita baie terloops. “Jy weet, Chris was ’n aanskoulike jong kêrel op sy dag, maar sowaar, selfs nie hý sou by Ian kon kers vashou nie.” Sy gee ’n genotvolle sug. “Waar’s daai dae! Ek en Chris saam op hoërskool, ek in die meisie- en hy in die seunskoshuis op die dorp.”
Nina kyk met deernis na haar ouma. Sy ken reeds die storie, maar laat haar ouma maar begaan. “Ons was nogal ’n aanvallige paartjie, dít kan ek jou vertel. En ek het nog nooit weer iemand ontmoet wat kon dans soos Chris nie. Die koerant het ons nogal kom afneem by ons matriekafskeid destyds. Ek het die uitknipsel nou nog.”
Daar is ’n veraf uitdrukking in ouma Anita se oë terwyl al die onthou-jy-nogs deur haar gedagtes flits.
“Na skool het ek en Chris albei by die koöperasie op die dorp begin werk. Dit is in dieselfde tyd dat ons vir Dawie en Ria leer ken het. Gou het dinge tussen die vier van ons verander. Ek en Dawie het al hoe meer tyd saam spandeer. Ons het albei gedroom van ’n lewe in die groot stad. Ria het weer tyd saam met Chris deurgebring. Dit was net na my en jou oupa Dawie se verlowing dat Chris dié plaas gekoop het. Drie jaar later is hy en Ria toe ook getroud.”
Ouma Anita se oë blink klam van al die herinneringe. “Ag,” snuif sy, “ek verveel jou al weer met toeka se dinge. Jy ken mos die storie.”
’n Paar oomblikke van stilte.
“Dis altyd lekker om al die ou stories weer te hoor, Oumsie.” Nina se gedagtes is terug by Ian. “Ek wonder, Oums, hoekom sal enige man … enige mens verkies om hier tussen niks en nêrens te woon? Hom onder al hierdie,” sy kyk by haar oop ruit uit, “stof en sand te begrawe? Die hitte te trotseer?”
Nina voel effe lighoofdig toe sy weer die broeiende donker oë wat ’n paar minute gelede nog op haar vasgenael was, in haar gedagtes sien.
Ag, lighoofdig se voet in ’n visblik! Dit is alles net uitputting na die lang rit.
’n Ietwat vervelige vakansie op ’n afgeleë plaas het skielik vir Nina verander in ’n perd van ’n heeltemal ander kleur. “O, aarde, Ouma, dink Oumsie …?” Nina is kortasem en tot by die punte van haar ore vuurwarm. “Dink Oumsie mans wat so alleen en afgesonderd woon, is dalk uitgehonger …?” Sy sny haar eie sin stomp af.
Sy kan mos nie sulke goed vir haar ouma vra nie.
Verleë