Omdat jy jy is. Elsa Winckler
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Omdat jy jy is - Elsa Winckler страница 6
“Kom hier, wat …?”
Die hond blaf weer twee keer.
“Steyn?” roep sy en stap tot by die deur. “Is jy oukei?”
Die hond begin histeries blaf. Leen huiwer by die deur. Hoekom is die vent se ma en die meisiekinders na wie sy verwys het nog nie hier nie? Die hond se geblaf raak net erger. Sy skep ’n asemteug en stap vinnig by die kamer in.
Die hond staan by ’n deur wat seker na ’n badkamer lei. Hy krap-krap aan die deur en blaf onophoudelik.
“Ek kan nie daar ingaan nie,” beduie sy vir die hond. “Sê nou hy … sê nou hy is …?” Sy kan nie eens die woord uitkry nie. “Dalk het hy nie klere aan nie. Ek sal die prokureur gaan bel. Hou net op raas.”
Maar die hond krap-krap weer aan die deur, sy geblaf raak al dringender.
“Oukei, sjuut net,” raas sy en sit haar hand op die handvatsel.
Die hond staan afwagtend nader. Die oomblik toe sy die deur oopmaak, is hy binne-in die badkamer.
“Steyn?” vra sy voordat sy haar kop om die deur steek.
Hy sit-lê teen die een muur, ’n handdoek lê skuins oor sy lyf, sy een arm nog in die hangverband. So asof hy besig was om hom af te droog en toe net nie meer regop kon staan nie. Hy is wasbleek en beweeg nie.
Skrik laat haar vorentoe storm en sy hurk langs hom. Sy hou haar hand voor sy neus. Oukei, dit voel asof hy nog asemhaal.
“Jou ma het gesê jy’s hardekwas, maar regtig?” raas sy. “Jy hoort nog in ’n hospitaal, jou absolute idioot.” Haar stem is harder as wat sy bedoel het, maar wat is sy veronderstel om nou te doen?
Haar oë gly oor sy lyf. Die handdoek bedek die nodige, maar sy kan genoeg van hom sien om te weet hy is ’n … wel, ’n uitsonderlike voorbeeld van die manlike spesie. Haar gesig word sommer warm. Watse soort vrou is sy? Die man is dalk aan die doodgaan en sy sit en …?
“Genoeg gesien?” kraak sy stem en sy ruk haar kop terug om na hom te kyk.
Sy oë is op skrefies.
“Jy’s siek. Jy hoort in ’n hospitaal,” sê sy, dadelik kwaad vir die man.
“Ek is nie siek nie,” grom hy en druk hom stadig regop met sy gesonde arm.
Die handdoek skuif gevaarlik ver eenkant toe en verbouereerd gryp sy die punt om dit terug te trek. Wat sy uiteindelik vasgryp, is egter nie die handdoek nie, maar ’n deel van hom wat onder die handdoek was.
“Bliksem, vroumens,” kners hy uit. “Dis nie nou die tyd …”
Ontsteld, skaam, verontwaardig spring sy op. “Ek wou net die handdoek regtrek …”
“Yeah, right.” Hy skuif verder teen die muur op en vou die handdoek om sy lyf. “Ek kan opstaan, draai weg,” beveel hy dwars en sy stap vinnig by die badkamer uit.
Van binne die badkamer kom ’n gesteun en tussendeur blaf die hond kort-kort.
“Wie de hel se brak is dit dié?” hoor sy voor dit stil raak.
“Ek het gedink dis joune.”
’n Paar dowwe vloekwoorde dui aan dis nie sy hond nie.
Hy maak keel skoon. “Uhm … kan jy my asseblief tot in die kamer help?”
Sy stap terug by die badkamer in, maar vermy sy oë. Die hond staan met sy tong by sy bek uit, laggend vir hulle en kyk.
“As ek my arm om jou skouers kan sit …?” ’n Spiertjie spring-spring in sy wang.
Sonder om ’n woord te sê, glip sy onder sy gesonde arm in. Sy begin stap.
“Tot by die bed, dankie,” sê hy.
Kathleen probeer op die afstand konsentreer. Die man ruik absoluut hemels. Kwyl dam in haar kieste op. Wat ís dit aan die man wat haar so … so …? Sy wil liewer glad nie ’n woord kry vir wat sy op die oomblik voel nie.
Uiteindelik is hulle by die bed. Verlig glip sy onder sy arm uit en hy gaan sit op die bed. Skuif-skuif, met sy gesonde arm as stut, beweeg hy totdat hy agteroor op die kussings kan lê.
“Is jy oukei, wat kan ek …?” Terwyl sy praat, is die hond onder haar voete. “Hond!” raas sy, maar sy verloor haar balans en voor sy kan keer, val sy bo-oor Steyn se onderlyf.
“Simpel hond!” roep sy hoogs ontsteld uit en probeer so vinnig moontlik van die man afklim. Maar haar hand druk weer op ’n verkeerde plek. Sy spring vervaard orent. Steyn trek sy asem vinnig in. Hul oë ontmoet.
“Steyn?” roep ’n vrouestem van binne.
“Dis my ma,” sis Steyn. “Gooi die kombers oor my lyf,” sê hy en beduie na sy onderlyf.
Haar oë volg die beweging van sy hand. Haar oë rek en haar asem raak heeltemal weg. Vervaard ruk sy die kombers wat aan die voetenent lê oor sy onderlyf en steier ’n ent weg van die bed.
Daar is ’n bult onder die handdoek wat daar nie netnou was nie. Haar wange word bloedrooi.
“Ek is jammer, dit was die hond …”
“Is dit jou verskoning?”
Sy kyk vies na hom. Daar is wragtig ’n glimlag om sy mondhoeke.
“Dis nie snaaks nie!” raas sy in ’n fluisterstem.
Van binne roep nog vrouestemme.
“Hier is jou mense, ek loop nou.” Kathleen draai weg om vinnig uit te stap, maar Steyn gryp haar hand vas.
“Ek het hiernatoe gekom om weg te kom van hulle af, dis jou skuld dat hulle hier is en jy gaan sorg dat hulle weer teruggaan.” Sy stem is dringend.
Voor sy kan antwoord, staan vier vroue in die deur.
“Steyn!” roep die ouer een en storm met uitgestrekte arms op hom af. “Ons is dood van bekommernis! Jy kom nou op die plek saam met ons huis toe, ek het jou susters saamgebring om my te help, en ek wil geen verskonings hoor nie.”
Haar blik val op Leen en Steyn se hande wat nog steeds inmekaar gestrengel is.
Kathleen probeer haar hand uit Steyn s’n trek, maar vir iemand wat minute gelede nog nie op sy eie kon regop staan nie, hou hy verbasend stewig aan haar vas.
“Ma, ontmoet vir Kathleen. Sy is die rede hoekom julle my net hier kan los. Ek is fine, ek gaan rus, Kathleen gaan na my kyk.”
Al vier vroue se oë draai na haar toe.
Sy ma frons. “Is dit met jou wat ek vanoggend gepraat het?”
Leen knik en dié keer los Steyn haar hand toe sy dit wegtrek.
“Mevrou