Chirurg van harte. Susan Pienaar
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Chirurg van harte - Susan Pienaar страница 5
“Hoe sal ek nou weet?” Dit is om van siek te word as Lunet en die ander vroulike kliniese assistente heeltyd aan dokter Massyn se lippe hang. Simpel vroumense! Hulle en die ander kliniese assistente in die span kry die maklike vrae, terwyl dokter Massyn vir Natasja die moeilike goed vra, en dan knip hy haar kort voor sy halfpad met haar antwoord is.
Voor hulle ’n vyfde saal binnegaan, draai dokter Massyn om en vra: “Wie van julle slim dokters kan vir my sê wat die funksie van die regterkant van die hart is?”
’n Nuweling lig ’n hand, skep asem, maar laat sak weer sy hand.
Dokter Massyn laat sy blik fronsend op die een na die ander rus. “En julle wil hartchirurge word?” sê-vra hy sarkasties, en kyk dan pertinent na Natasja en lig sy wenkbroue.
Sy wens sy kon die blikskottel ignoreer, maar nou ja: “Die funksie van die regterkant van die hart is om deoksigeneerde bloed vanaf die liggaam in die regterhartvoorkamer op te neem en dit deur die regterhartkamer na die longe te pomp. Daar word die koolstofdioksied uit die bloed geskei en suurstof in die bloed in opgeneem. Dis ’n passiewe proses wat bekend staan as diffusie –”
Hy maak Natasja stil met ’n handgebaar, kyk rond en vra: “Noem vir my die vier hartkleppe op.”
’n Lang maer man antwoord vlot: “Aortaklep, pulmonale klep, mitrale klep, trikuspidale klep.”
Natasja sug heimlik. Sy het dit al in matriek geweet. Net ’n bewys van hoe Massyn die ander kliniese assistente bevoordeel.
Dokter Massyn laat sy oë beurtelings op hulle rus. “Wie kan vir my sê hoe die bloed deur die hart sirkuleer?”
Natasja gaan deur die stappe van sirkulasie, raak dan ingedagte. Dis regtig awesome om ’n pasiënt se lewelose hart weer te sien begin werk wanneer sy assisteer of net staan en kyk hoe dokter Thomas ’n hartklep vervang, of dalk help wanneer hy ’n hartomleiding doen.
Dokter Massyn sug: “Weet niemand nie?”
Stilte.
Dokter Massyn vou sy arms, en trek Natasja se aandag na sy gespierde, bruingebrande arms. Sy het hom voorgestel as krom en met ’n lang wit jas aan, maar dokter Massyn dra netjiese klere. Moet lekker wees en veilig voel om deur hom vasgehou te word. Sy maak haar doelbewus los uit die aantrekkingskrag wat hy uitstraal.
“Dokter Engelin, dis nie nou tyd om te staan en droom nie. Kan jy my vraag beantwoord?” klap sy stem.
Natasja skrik omdat sy romantiese snert van hom gestaan en droom het. Sy druk met ’n hand teen haar bors, kyk rond en hou haar onnosel. “Wie? Ek?”
Sy oë vernou. “Is hier ’n ander Engelin teenwoordig?”
“U-hm, nee.” Laat sy maar antwoord: “Bloed gaan die hart binne deur die linkerontvangkamer, die atrium, dan na die regterhartkamer, die ventrikel, wat dan die bloed na die longe deur die pulmonêre slagaar pomp om suurstof te kry. Vanaf die longe, gaan die bloed die linkeratrium binne deur die pulmonêre aar –”
Dokter Massyn se harde sug laat haar stilbly. “Genoeg, dokter Engelin. Watter klep moet oop wees tydens sametrekking?”
“Die aortaklep,” gee ’n vreemde meisie die antwoord.
“Hoekom?” skiet Massyn die vraag op haar af.
“Die sametrekking is sistolies en … u-hm …”
Massyn knik ongeduldig: “Dis reg, maar dit beantwoord nie my vraag nie.” Hy kyk vinnig rond. “Enigiemand?”
Natasja kan die stilte nie meer verduur nie. “Die klep …”
“Watter klep?” blaf hy.
Natasja gluur hom ’n oomblik aan. Hy weet mos watter klep dit is! “Die áórtaklep moet tydens sametrekking oop wees sodat bloed uit die linkerventrikel na die liggaam gepomp kan word, maar toe wees tydens verslapping … dis diastolies … sodat die bloed van die linkerontvangkamer deur die mitrale klep na die linkerpompkamer kan vloei –”
“Genoeg.” Dokter Massyn laat sy oë beurtelings op hulle rus. “Huiswerk,” knor hy. “Môreoggend wil ek van elkeen van julle hoor hoe die hartkleppe werk, hoekom hulle so werk en hoe die bloed deur die hart vloei.”
Hy loop aan. “Kom, daar’s nog ’n paar pasiënte oor.”
“Oh my word, dokter Massyn het nie veel ooghare vir jou nie,” kom vryf Lucinda dit met ’n skaars bedekte glimlag in.
Natasja bly stil. Wat haar betref, kan dokter Massyn maan toe vlieg. Altans, net totdat sy als wat sy kón by hom geleer het. Massyn sal haar nie hier wegkry nie. Dag ná dag sal sy die ongeskikte, maar briljante hartchirurg se nonsens opvreet en als wat sy kán by hom leer. Haar beroep as toekomstige hartchirurg is al wat regtig saak maak.
Natasja dink terug aan die oggendrondte. Sy moet dokter Massyn seker verpes, maar, snaaks genoeg, admireer sy hom. Hy praat so mooi met die pasiënte en laat elkeen spesiaal voel. Sy hoef seker nie van hom te hou om net so ’n bietjie aangetrokke tot hom te voel nie. Daardie mooi groot hande en ligbruin oë … Veral toe hy vroegoggend – voor sy hom in die gang kwaad gemaak het – met ’n sagte uitdrukking in sy oë na haar gekyk het.
Daar is gelaatstrekke, eienskappe van hom wat haar aantrek. Hy is die mooiste geboude man wat sy nóg gesien het. Sy gesig is sterk, sy tande egalig wit en sy lippe mooi vol. Soenbare lippe, altans, dit wil nou sê as hy nie vir haar blaf nie. Sy hou van sy helder manier van verduidelik, al raak hy ongeduldig. Darem gelukkig dat sy reeds soveel van die werking van die hart weet, nou hoef sy nie heelaand te swot nie.
Daar is ’n bitter smaak in Hugo se mond toe hy oggendrondtes afgehandel het en hy die trappe af draf teater toe. Hy het die naamlys van kliniese assistente eers onder oë gekry toe almal bymekaar gekom het. Wat ’n helse skok toe hy sien Natasja Engelin is in sy span. Neels het nie gesê sy gaan in kardiologie spesialiseer nie. Hy het gesê sy geniet dit om algemene chirurg te wees.
Die drie minute wat Natasja laat was, was ’n bedekte seën. Hel, hy moes aan die idee gewoond raak en hom voorberei om gewoon voor te kom.
In die rukkie wat hy en dokter Hans Coetzee gesels het, het hy die aanmerkings van twee assistente gehoor en tot die besef gekom dat daar jaloesie teenoor Natasja is. Die beste sou dus wees dat hy haar nie uitsonder vir vrae of enigsins prys nie. Maar toe boemerang dit hel-uit omdat sy te slim vir die hele lot is.
Die manlike kliniese assistente kan hulle oë nie van Natasja afhou nie. Niemand kan Natasja Engelin miskyk nie. Sy is die middelpunt van belangstelling in die span. Alle oë draai gereeld in haar rigting. Hel, syne ook. Hy het ’n oorheersende begeerte gehad om haar gladde rosige lippe net daar in die gang te soen.
Flippen malligheid!
Toe swets hy en maak spore.
Hy draf die laaste stel trappe af. Dokter Engelin is ’n vasbyter. Hy was ongeduldig oor die gebrek aan kennis in die groep, maar sy bly kalm en laat haar nie onderkry nie. Sy vra hom belangrike vrae en dan maak die kliniese assistente aantekeninge terwyl sy net stil luister met daardie helder liggroen oë, terwyl haar vlymskerp brein duidelik alles absorbeer. Sy is op verre na die