Koms van die motman. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Koms van die motman - Chris Karsten страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Koms van die motman - Chris Karsten

Скачать книгу

sal nie omgee nie?”

      “Nee. Buitendien, hoe sal sy weet?”

      Weer daai gegiggel wat hom so oorstuur dat hy handgemeen wil raak. Maar wag, daar’s die eerste gaap nou. “Hou op, jy laat my ook gaap. Miskien moet ek my sak gaan haal, jy gaan dit nie lank maak nie.”

      “Die hek se remote is daar in die bak. Ek gaan soek solank vir jou ’n kussing en kombers.”

      Hy staan op. Vyftien, twintig minute en sy’s uit soos ’n kers, word eers môreoggend wakker, weet van niks.

      20:29

      Hy sit sy keps op, trek die tuit laag oor sy oë en stap in die nag uit. Sy kar is buite voor die kompleks geparkeer. Dis ’n lang pad tussen die tuinhuise deur, heen en terug. Maar almal is stil en donker, geen gordyn wat weggetrek word vir ’n nuuskierige uitloer na nagtelike skimme nie. Hier en daar deur ’n dun behangsel die mistige blou blerts van ’n TV-skerm.

      Hy trek stywe gholfhandskoene aan en kom met sy sak terug. Hy druk weer die voordeur agter hom toe, sluit dit en sit die sak op die eetkamertafel.

      Die sitkamer is leeg. Haar teekoppie is leeg.

      Die spaarkamer se deur is oop. Hy gaan loer in.

      Daar lê sy.

      Sy het die bed gehaal, net-net, op haar maag met al haar klere nog aan. Hy skud haar aan die skouer. “Hei, kan jy my hoor?”

      Haar asemhaling is diep en reëlmatig, ’n sagte gefluit deur haar neus met elke uitaseming.

      Hy bekyk haar vir laas, klik met sy tong en stap uit, trek die deur agter hom op knip.

      In die sitkamer vat hy die teekoppies en gaan sit dit by die borde en eetgerei in die skottelgoedwasser. Hy soek die wasblokkies onder die wasbak, druk een in die gleuf en skakel die wasser aan.

      Hy beskou nou die kombuis. Hy stap terug na die eetkamertafel en beskou ook die woonvertrek. In sy gedagtes probeer hy sy roetes volg. Hy was bedag om nie spore agter te laat nie. Spore impliseer ook onsigbare spoorelemente, nie net vingerafdrukke en hare nie. Sy hantering van borde en eetgerei en teekoppies kon nie verhelp word nie, maar die skottelgoedwasser sal daarvoor sorg.

      Sy speurtog was maklik. Twee, drie dae en hy het alles gehad: adres hier op Bela-Bela én die naam van die boesemvriendin. Almal weet van die man in die lang koma, almal ken Doreen Neser en Maggie Strydom.

      Daarna die “toevallige” ontmoeting met die nurse met die loopmond. Dit was ook maklik.

      In die nurse se huis was hy nog net enkele kere, nommer agt, net af in die straatjie. Sy het toe ook vir hulle tee gemaak – Five Roses Superior Ceylon Blend vir hom en Lipton Green Tea vir haar. Dis die Lipton wat hom die idee gegee het.

      En Vrydag, wyl hy nog wonder presies hoe hy in die Neser-huis gaan inkom, beland dit in sy skoot: “Doreen moet Maandag ingaan vir ’n klein prosedure. Ek moet haar man gaan oppas, hy’s … hy’s siek. Wat doen jy Maandagaand, lus om my geselskap te kom hou?”

      Hy kon sy plan finaliseer.

      Hy is seker dat hy niks in haar huis agtergelaat het nie, beslis geen vingerafdrukke nie. Miskien ’n haar of twee, maar hopelik vacuum sy gereeld. Hy hou nie van hopelik nie, maar kon dit nie verhelp nie; soms is enigeen aan die genade uitgelewer, al tref jy watse voorsorg, of nasorg.

      Hy haal ’n klein draagbare stofsuier en ’n mikroveselstoflap uit sy sak en begin die sitkamer en kombuis skoonmaak, spesifiek die stoel waarop hy gesit het en ook die sitkamermat voor sy stoel, die roete kombuis toe en plekke in die kombuis waar hy gehelp het met die skottelgoed en tee.

      Dit vat nie lank nie. Terug in die sitkamer pak hy alles in die sak terug, ook die stofsuier met sy stofhouer, en rits dit toe. Sy oog vang weer die geraamde foto’s op ’n buffet. Hy gaan lig een op. Dis van ’n jong vrou, eintlik nog ’n meisie, met lang donker hare in ’n middelpaadjie. Hy kyk na die foto van die egpaar. Die man, dit moet hy wees. Hy sit die foto van die meisie op sy plek terug en staan tru, leun weer vorentoe en verskuif dit ’n millimeter.

      Hy betrag die res. Die freesias in die glaspot op die eetkamertafel, die sitkamergedeelte met die TV en tydskrifte, ’n stillewe van ’n koningsprotea teen ’n muur, op die kombuistoonbank die bakkie met sleutels en goed waarin hy die remote teruggesit het, nou afgevee en gereinig van sy afdrukke en velselle. ’n Bak met perskes, ’n paar pruime en twee piesangs. ’n Vet glashouer met beskuit. Sy oë huiwer op die beskuit.

      21:08

      Hy stap by die siekekamer in, druk die deur toe en skakel die lig aan; dis nie sterk nie, dalk veertig watt. Hy besnuif die hospitaalreuke en bekyk die mediese toestelle. Op ’n skerm is gekleurde liggies en golwende lyne. Langsaan ’n staander vir binneaarse voeding. Op die bed die slapende figuur met die pype en buise.

      Hy maak seker dat die swaar gordyne dig toegetrek is. Die gloeilamp versprei ’n sagte lig, te flou om al die skaduwees uit al die hoeke te verdryf.

      Hy gaan staan by die voetenent, voete effe uitgesprei, hande agter sy rug gevou, en staar na die uitgeteerde man op die wit beddegoed. Sy vel is bleek en verrimpel, en los soos ’n kledingstuk van ’n paar nommers te groot.

      Deur die trageabuis in sy keel dein die maer bors met elke sagte sug van die ventilator. Die IV-drup se naald is onder die sleutelbeen in ’n aar ingedruk. Nog ’n drup in die vou van ’n arm.

      Regs van die bed is ’n bedkas met staanlamp en ’n glas water, pilhouers (seker hare, hy sal tog nie pille kan drink nie), boks Kleenex, Bybel. Op twee boeke lê ’n brilhuisie. Langsaan is ’n gemaklike stoel met ’n uitgesitte kussing. Handdoeke en ’n waslap is oor ’n handdoekstaander van chroom gedrapeer, van die soort wat in die winter verhit kan word. Asof hierdie pasiënt ’n warm handdoek op ’n koue nag sal agterkom en waardeer.

      Hy gaan sit op die stoel by die bedkas. Dis lekker sag en gemaklik. Hy leun agteroor, selfs ’n kussinkie vir die lae rug, reg vir ’n lang sit.

      Hy beskou die gesig langs hom, bleek rimpels soos die geskifte vel op warm melk, die ingevalle wange, die geslote ooglede dun en byna deurskynend, die hare kort geknip, lippe kleurloos. Die reuk van seep bereik sy neus.

      Sy oë kom tot rus op die merk in die vel bokant die wenkbrou van die regteroog. Hy sug sag, trek sy linkerhand uit die handskoen, leun oor en streel met ’n vinger oor die letsel van die ou skietwond.

      Hy sit terug en wikkel weer sy vingers en hand in die handskoen in. Hy lig die brilhuisie van die boeke weg en vat een op sy skoot. Sy lippe beweeg terwyl hy die titel lees. Hy sit dit terug, vat die tweede een, lees vlugtig ook dié titel en sit dit ook terug op sy plek, met die bril weer bo-op.

      Hy oorweeg weer die slapende gesig, korrigeer dan sy eie gedagtes: comatose, nie slapend nie. En leun met sy fris bolyf bed toe en fluister: “Thys Neser …” Hy wou die naam sê. Asof iets innerliks hom gepor het.

      Hy strek sy hand uit en laat rus sy palm op die pasiënt se maer hand, voel net bene soos die hand van ’n skelet. Hy fluister weer: “So, Thys Neser, jy sal nie weet nie, maar so baie het die afgelope tien jaar gebeur, so baie water in die see … of is dit water onder die brug? Maak nie saak nie, ten minste kan ek nog wonder oor ou gesegdes, jy nie.”

      Hy los die hand en tik-tik met ’n voorvinger teen die pasiënt se voorkop, op die

Скачать книгу