Koms van die motman. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Koms van die motman - Chris Karsten страница 10
“Umkhosi odla amahhashi … eet jy perd?”
“Nee, whitey dink hy’s beter as ons.”
“Fokken whitey dink hy’s ungcono kunawe.”
“Is jy beter as ons, hè, whitey, is dit wa’ jy dink?”
Tot die maere, die voorbok, hulle met ’n wuif van sy hand stilmaak en sy dun stem deur die verstikkende skemer lug sny: “Hulle sê jy’t ’n cop geskiet.”
“La’ ons tjek hoe taf die copskieter is,” sê een.
“Asseblief, ek’s nie taf nie, ek het hom nie geskiet nie, ek is –”
“Shaddup!”
Hy steier van die hou en ineens is die hande aan sy lyf soos die tentakels van ’n seekat, grypend, stampend, plukkend.
En hy voel hoe die eerste een van agter in hom inskeur terwyl die ander hom vashou.
Hy begin huil, die eerste keer in vyftig jaar voel hy trane oor sy wange, en hy is skaam oor hy huil, maar hulle maak beurte en hy dink hy huil eintlik van die pyn want hulle hou nie op nie en die pyn is of sy vel afgekerf word met ’n mes waarvan die lem stomp is sodat dit herhaaldelik op dieselfde plek moet sny om die weefsel uiteindelik van die vel los te kry, en later is dit asof sy liggaam geen gevoel meer het nie, asof die punte van sy senuwees gedoof is en geen impulse en gevoel meer sy brein bereik nie, en hy net daar geboë vasgehou word terwyl hulle aangaan en aangaan en aangaan asof vir ’n ewigheid, tot hulle hom oplaas op die taai, bloederige vloer van die stort laat val.
“Magubane is hier,” sê een, maar hy voel skaars die skop teen sy wang.
“Dit is die Nommer,” sê ’n ander, en ook hierdie skop is niks vergeleke met die ander pyn nie.
Hulle drentel uit. Die paartie is verby. Waar’s die pret as ’n man nie meer pyn kan voel nie? Hulle verdwyn soos skimme, met die hoë stem se laaste waarskuwing wat in die badkamer en in sy skedel bly eggo: “Piemp, whitey, en next time is jy nie so lucky nie!”
Niemand maak alarm nie en ’n bewaarder kry hom eers oopsluittyd die oggend – road kill, net goed vir aasdier en kraai.
DIE BELOFTE
Maandag in die etensuur glip Ella weg na die sportwinkel in Cresta. Die pyne in haar knieë is gewoonlik die eerste teken. Sy doen die diagnose self en sover werk dit, g’n nodig vir ’n podiater of ortopedis of enige ander spesialis wat met die behandeling van haar enkels en knieë ’n nuwe stoetbul vir sy beesplaas by Lobatla wil koop nie.
Haar drafskoene is pê. En sy draf nie met enige hierjy-tekkie nie, dis vir moeilikheid soek, dán melk daardie kwak jou. Sy verkies Brooks. Die uitgetraptes is Brooks Ariel, maar die Ghost sit ook lekker, boonop hou sy van die funky skakering van oranje en pers, veral die oranje sole. Orange is the new black, ten minste op háár drafroete. Sy soek ook nog ’n sportbra, hulle slyt gou van al die dra en was, en sy het ten minste twee elke dag nodig, soggens vir die gim, saans vir die drawwery. Sy het niks wat vreeslik kan rondbons nie, maar die bietjie wat daar is moet gekoester word, en sy pas ’n Brooks Hot Shot aan.
Die aand gaan draf sy met die nuwe bra en tekkies, en dit voel goed, die Hot Shot bo, die Ghost onder, teen die prys van ’n dêm stoetram.
Agterna stort sy en trek slenterdrag aan en wag vir Lou en die soet-en-suur Chinees. Hy ken haar gebreke voor ’n stoof en weet ook in háár huis moet hy sy vleislus bedwing.
***
Die volgende oggend is sy besig om vir gim aan te trek toe haar sel lui. Sy loer: 05:19. Net die kolonel sal so vroeg bel vir opkommandeer na ’n misdaadtoneel. Maar dan sien sy die naam: Maggie.
“Hallo, tant Maggie, maar julle is vroeg aan die gang. Is my ma al by die huis?”
“Ella … Hier’s sy.”
Huil Maggie? ’n Blok ys kom sit in Ella se maag.
Twee ure later is sy en Lou op pad Bela-Bela toe. Verskuil agter sonbril, Kleenex verfrommel in ’n vuis, ineengekrimp in haar hoekie, een kaal voet onder haar op die sitplek ingevou. Oë onderlangs op die pad se wit stippellyne wat deur die kar opgevreet word, landskap wat sydelings en newelig verbyvlieg. Sy draai haar oë na Lou. Hy is haar krag en rots en aan hom is niks wasigs nie, sy sterk hande op die stuurwiel is soos dié van haar pa daardie laaste dag toe hy haar skool toe gevat het.
’n Slag vra hy: “Praat ek te veel, soek jy stilte?”
“Nee,” pleit sy, “práát.”
“Maar jy praat nie saam nie.” Hy sê dit as ’n blote waarneming, sy stem sonder toon van beskuldiging.
“As ek nie saampraat nie, beteken dit nie jy moet ook stilbly nie. Ek hou daarvan om jou stem te hoor, al dink ek aan ander goed.” Want sy stem vul die leegtes en stiltes, keer dat die treurnis alles oorvat. En dit mag nie gebeur nie, hoe natuurlik so ’n proses van verdriet ook al is. Sy ken dit. Die proses, nie soseer die verdriet nie. Wel, die verdriet ook, maar merendeels ánder se verdriet en trane. Want sovele kere al was sy getuie van ander se hartseer, so dikwels moet sý vertroos en praat. As moordspeurder moet sy simpatie hê tydens die invra en uitvra van treurendes, die ondervra en rondvra, en later die afvra en die kruisvra. Sy ken die fases van smart, sy hét Kübler-Ross se On Death and Dying gelees, maar dís bedoel vir sterwende pasiënte en hulle naastes wat saam die dood sien kom en afwag. ’n Onverwagse gewelddadige dood is anders, daarop kan jy jou nie voorberei nie, ’n vlaag ongeordende emosies tref jou soos ’n stamper teen die bors. Tog is kennis van sulke emosies ’n belangrike stuk gereedskap vir haar ambag as speurder, ook vir haar inlewing as mens in ander se verdriet.
Opeens is dit andersom. Netso. Nou ervaar sy sélf al daardie emosies, probeer sy sin maak te midde van die chaos in haar kop en hart.
Gemis. Nie verlies nie.
Gemis is haar eerste en oorwegende gevoel en dis wat die trane en hartseer bring. Sy gaan haar pa mis – sy het hom soveel jare terug al verloor, nou gaan sy hom regtig eers mis. Want ten minste was sy liggaam nog altyd deel van hulle, sy lewende liggaam en alles wat van iemand ’n mens maak – behalwe sy bewussyn; sy gees was al weg, maar nie sy liggaam en die hoop op ’n wonderwerk nie. Nou is dit ook alles van hulle weggevat en bly net die herinneringe oor. Die ander gevoelens sal later kom. Die melancholie en onbegrip en woede, maar sy wil nie dat dit nou inmeng met hierdie gevoel van gemis nie, sy wil die leegheid eers verwerk, eers sy nagedagtenis troetel, haar kinderjare saam met hom herleef.
“Ella?” sê Lou. “Hoor jy wat ek vra?”
Sy hoor nie, sy hoor net sy stem. Sy probeer haar been onder haar uitkry. “My been is dood,” sê sy en moet albei hande gebruik, want die been het geen krag of wil van sy eie nie, lê net daar soos ’n … wel, soos ’n dooie ding. En netnou gaan die speldeprikke begin. Sy kry dit uit. Of is dit uit? Want sy voel nie die kar se vloer onder haar voet nie. Sy strek teen die veiligheidsgordel om af te kyk in die skemer voetspasie in. Ja, tog, die voet is op die vloer. Dis ’n vreemde sensasie om so na jou voet te kyk en te wonder of dit wel jou eie voet is. Mens is tog veronderstel om jou eie voet te voel, nes enige deel van die lyf.
“Hoe