.

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу - страница 6

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
 -

Скачать книгу

weg. Die ding is net, die slagoffer is dan getraumatiseer.”

      “Dis waar,” erken Erika meewarig. “Ek is half bang vir mans deesdae. Ek het so ’n skok weg en is so ontnugter.”

      Helena kyk haar skewekop aan. “Foeitog, maar mooi mense soos jy word makliker geteiken as die vales. Daardie trauma moet darem naderhand vervaag. Glo my, ek weet wat dit is om deur mans geteiken te word.”

      Erika kan dit glo, want in haar kop was haar tannie se skoonheid omtrent so legendaries soos Helena van Troje s’n. Sy is steeds op haar ouderdom ’n besonder aanvallige vrou, al word sy grys en is daar plooitjies om haar oë.

      “Dis goed dat jy daar weggekom het,” sê Helena. “Daardie man sal besef jy is regtig weg en hy kan niks aan jou doen nie. So ’n niksnuts. Wel, hier kan jy ontspan en weer sterk word. En dan, wanneer jy van die trauma herstel het, kan jy teruggaan.”

      “Dis so lekker om weer hier te wees. Ek kan nie genoeg dankie sê vir tannie se gasvryheid nie.”

      Helena glimlag teer. “My liewe kind, ons is familie en familie staan mekaar by. Ek was so lief vir jou ma en pa en ek is vir jou ook lief. Jy is ’n beeldskone mens en ek gun jou net die beste in die lewe. Ware liefde – standhoudende en ewige liefde, nie die soort wat suur word nie.”

      “Ek dring natuurlik aan om vir my verblyf te betaal, tannie Helena.”

      Haar tannie kyk haar geskok aan. “Liewe hemel, ek sal dit mos nooit aanvaar nie! Jy is my gas. Jy is familie. Jou ma is oorlede en ek is nou jou nuwe ma.”

      “Dankie,” sê Erika, so aangedaan dat haar oë brand.

      Maria en Spiro kom by die blou hek in met sakke vol kos.

      “Maria, jy onthou mos vir Erika, die dogter van my broer, James Moody, en sy vrou, Eudora?”

      Maria glimlag breed. “Ja, Erika is nie iemand wat mens maklik vergeet nie. Daarvoor is sy te mooi. Welkom by ons.”

      Spiro, wat Erika skat agtien of negentien jaar oud kan wees, bloos bloedrooi toe sy hom groet. Hy is so die kluts kwyt dat sy verbaas en geamuseer is. Toe sy hom laas gesien het, was hy nog ’n seun.

      Nadat Maria en Spiro die voorrade weggepak het, dek Maria vinnig die eetkamertafel en bring Griekse slaai met fetakaas en die stomende moussaka, wat heerlik ruik. Helena skep vir Erika ’n groot porsie van die lamsvleis-en-kaassousdis in en gee vir haar die slaai aan. “Smaaklike ete!”

      Erika smul terwyl hulle al etende gesels, meesal in Grieks, wat sy hier en daar verstaan, maar hulle praat vinnig en haar Grieks is verroes.

      “Spiro vertel dat sy vriend Jim Murray, ’n Amerikaner wat ’n vreeslik oulike boekwinkel hier in Oia begin het, daaraan dink om binnekort terug te keer na die VSA. Nou is die besigheid te koop.”

      “Ek gaan hom mis,” sê Spiro treurig. “Ek het soms in die winkel gaan help en dit was lekker.”

      “Waar is die winkel?” vra Erika.

      “Nie ver van hier af nie,” antwoord Spiro. “Heavenly Book Den.” Sy wange word rooi en hy kyk skamerig na haar. “Ek kan jou gaan wys as jy wil. Voordat dit verdwyn en iemand ’n gastehuis van die perseel maak.”

      “Dit sal gaaf wees. Kan ons môre gaan? Vandag wil ek net rondloop en alles weer bekyk. Hier is sulke heerlike winkeltjies en boetiekies. Ek wil gaan kyk of dié wat ek onthou, nog daar is.”

      Spiro kyk na Maria en Helena. “Kan ek haar môreoggend gaan wys? Ek sal nie lank wegbly nie.”

      “Ja, doen dit gerus,” sê Helena. “Ek weet Erika is lief vir lees en boeke, soos haar pa.”

      4

      Paul kyk deur die motorvenster na die lang, slanke meisie met die groot tas wat die pad wil oorsteek. Sy tuur na die viertrek asof sy wil sien wie daarbinne is. By haar is ’n vrou wat soos haar ma lyk. Dit is die skoonheid met die goue hare en oë so blou soos die Egeïese See, wat haar sak laat val het en amper haar paspoort verloor het. Hy draai om en kyk deur die agtervenster hoe sy al kleiner word.

      Is sy ’n toeris? Miskien die kind van ’n inwoner van Santorini wat van oorsee af terugkeer?

      Hy moet haar weer sien. Hy sal haar laat soek, al is sy soos ’n naald in ’n hooimied. Hy het lanklaas so ’n onmiddellike reaksie op ’n vrou gevoel. Eintlik nog nooit. Hy het haar maar net daar tussen die vliegtuie gesien, hulle het ’n paar skertsende woorde gewissel, en toe was sy weg.

      Hy kan haar nie deur sy vingers laat glip nie, nie so ’n betowerende vrou nie. As sy so pragtig is as sy vlugvoos moet wees, hoe sal sy lyk in ’n aandrok en juwele? Of in ’n bikini op die dek van sy boot? Sy lyf begin sommer hittig reageer wanneer hy daaraan dink.

      Dan sug hy. Wat sal sy pa sê as hy in ’n vreemde blondine belangstel? Hy is veronderstel om met Cristina Vassiliou te trou. Beeldskoon, uit ’n ander ryk familie met ’n skeepsredery wat met Atlantis kompeteer. Sy sal die twis uit die weg kan ruim en versoening bring. Hy is nie lief vir haar nie, al is sy so gesog, maar die Grieke reël nog soms huwelike en dit werk gewoonlik goed uit.

      Sy pa sal tien teen een aanbeveel dat hy die blondine bed toe vat en haar so uit sy sisteem kry, en dan die regte ding doen en met Cristina trou.

      Hy is meteens vasberade om nie nou al te trou nie. Sy familie sal maar net geduldig moet wees.

      Die bestuurder trek in by Paul se private parkering by sy kantoor in Fira. Die saketransaksie in Athene het goed afgeloop en nou moet hy net sorg dat dit finaal beklink word. Hy draf met die trappe op na die groot deure met Atlantis (Pty) Ltd daarop en stoot dit oop. Groet sy personeel in die oopplankantoor. Sy private assistent wat in die kantoor voor syne sit, se gesig helder op toe hy instap.

      “U is terug, meneer Michelakis. Hoe was die tyd in Athene?”

      Hy glimlag vir haar. ’n Mens sou sweer hy was maande lank weg. Nana Antoniadis is ’n mooi vrou en uiters bekwaam. Hy vermoed sy is verlief op hom, maar dit het nog nie haar werk beïnvloed nie. Sy sal agteroorbuig om enigiets onder die son vir hom te doen. Hy sal haar lojaliteit egter nooit misbruik nie.

      “Dit was vrugbaar, dankie, Nana.” Eintlik het hy ’n slag geslaan deur ’n klein redery se besigheid vir ’n appel en ’n ei te koop omdat die eienaar desperaat was om te verkoop. Sy pa is ingenome.

      “Koffie en iets te ete, meneer Michelakis?” vra Nana.

      “Koffie en ’n toebroodjie, dankie.”

      Hy stap sy groot kantoor binne en loop oor die marmervloer na die enorme lessenaar met ’n rekenaar op, kyk vlugtig na die uitsig op Fira se wit geboue. Hy het baie om te doen, maar hy kan die blonde meisie wat soos ’n godin gelyk het, nie uit sy kop kry nie. Hy word sommer vies vir homself. Hy het nog nooit toegelaat dat vroumense hom steur nie. Hy is skoon van balans af. Wat gaan met hom aan?

      Hy skakel sy rekenaar aan en begin ’n e-pos tik wat hy direk aan sy pa stuur. Hy weet sy pa sal dit lees en dadelik uitvee. Hoewel hulle Nana en sy pa se assistent in Athene ten volle vertrou, is daar dinge wat hy en sy pa kommunikeer wat ander oë nie hoef te sien nie, al is hulle hoe lojaal en betroubaar.

      “Ons is nie skelm of oneerlik nie,” sê sy pa altyd.

Скачать книгу