.
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу - страница 8
* * *
Paul staan langs die swembad op die terras voor sy huis in Fira, met ’n glas ouzo in die hand. Hy kyk peinsend uit oor die caldera in die rigting van die sonsondergang. Vanaand het hy nie lus vir mense nie, maar Manos gaan oorkom vir ’n drankie en ’n ligte ete.
Hoeveel keer het hy nie al dié sonsondergang bewonder nie? Hy sal nooit daarvoor moeg word nie.
Sý kyk seker ook nou met daardie hemelse oë na dieselfde sonsondergang. Dis mos wat almal hier doen. Dalk drink sy ook ’n lekker drankie. Wie sou by haar wees? Haar ma? En wie anders? Hy hoop nie daar is ’n man nie. Hy raak sommer omgekrap as hy dink dat daar ’n man in die prentjie kan wees. Een wat haar soen. Wat aan haar raak.
Liewe hemel, Paul Michelakis, jy raak jaloers oor ’n vrou wat jy nie eens ken nie. Ruk jou reg!
“Hallo,” hoor hy. “Ek het goeie nuus.”
Hy draai om. Manos kom met ’n breë grinnik op sy groot gesig aangestap.
“So? Watse nuus? Wat het jy uitgevind?” Hy probeer lakoniek klink, maar dink sy opgewondenheid slaan deur.
“Daar is ’n vrou wat ’n gastehuis in Oia het. Sy is al lank hier, maar kom oorspronklik van Suid-Afrika af. Haar naam is Eléni Antoniou.”
“Ja? Is sy nie dalk familie van doktor Yannis Antoniou, die argeoloog, nie?”
Manos haal sy skouers op. “Weet nie. Ek kan uitvind. In elk geval dink ek die mooi meisie is daar. Sal ek gaan kyk?”
Paul vat ’n groot sluk van sy ouzo. “Ja, gaan kyk sommer môre. Moenie eers kantoor toe kom nie.”
Manos kyk geamuseerd na Paul. “Haastig, nè?”
Paul grinnik terug. “Waarom sal ek gras onder my voete laat groei? Dis nie hoe ons Michelakisse grootgemaak is nie. My pa sê altyd: As jy ’n geleentheid sien, gryp dit aan – anders spring iemand anders jou dalk voor.”
* * *
Erika volg vir Spiro by die trappies af. Sy het pas die grootste ontbyt geniet wat sy in jare geëet het en sy dink sy moet dit afstap. Hy lyk skamerig in sy noppies dat sy saam met hom loop. Sy hoop nie hy raak verlief op haar nie, want al hou sy van hom en is hy nie lelik nie, laat hy beslis nie haar hart vinniger klop nie. Hy is buitendien te jonk vir haar.
Daar is wel ’n man wat ’n vuur in haar sal kan aansteek … Nee, sy moenie eens aan hom dink nie. Sy sal hom seker nooit weer sien nie. Tog, hy is hier iewers. Onder dieselfde hemel, maan, son en sterre as sy.
Die nou gangetjies en trappe is vol mense. Sy en Spiro moet behoorlik by hulle verbyskuur. Erika kyk om en sien ’n groot, bonkige man wat bo die ander uittroon. Is dit nie die man wat haar paspoort by die lughawe opgetel het nie? Dit lyk asof hy reguit na haar kyk, maar toe verdwyn hy by ’n winkeltjie in. ’n Rillinkie trek by haar ruggraat af. Waarom is hy hier?
Moenie laf wees nie, betig sy haarself. Hy mag mos enige plek op die eiland wees.
Tog is sy ongemaklik. Sy vergeet egter skoon daarvan toe Spiro voor ’n witgekalkte trap gaan staan en sy afkyk na ’n ingang met die naam Heavenly Book Den in donkerblou letters op ’n klipboog bokant die deur geverf. Dit lyk soos die ingang na een van die huise, maar toe hulle deur die boog loop, trek Erika haar asem in.
“Dis soos ’n hobbit-huisie,” sê sy. Spiro kyk haar onbegrypend aan.
“Die klein mensies in Tolkien se Lord of the Rings,” verduidelik sy. “Wonderlike boeke en wonderlike flieks.”
“O, ja,” sê hy, maar dis duidelik dat hy nie die boeke gelees of die flieks gesien het nie.
Binne is dit soos ’n groot grot met rakke en rakke vol boeke. Hier is dit stil in vergelyking met die rumoer van die toeristewinkels buite. ’n Lang, maer man met skouerlengte bruin hare staan agter ’n toonbank.
“Haai, Spiro,” groet hy met ’n vraende blik na Erika.
“Haai, Jim. Ek het vir Erika gebring om na jou winkel te kyk. Sy bly by ons … by Eléni Antoniou se gastehuis, eintlik. Erika, dit is Jim Murray, die eienaar van die winkel.”
“Aangename kennis,” glimlag Erika. “Jou boekwinkel is iets besonders.”
Hy kom agter die toonbank uit en skud haar hand. Hy staar so verwonderd na haar dat sy verleë raak. “Ja, ek het dit tien jaar gelede begin. Ongelukkig moet ek nou terugkeer na die VSA. Daar is te veel verpligtinge, familiesake en ander goed, wat my dwing om terug te gaan na Chicago. Ek sal nog vanjaar die winkel moet verkoop. Dis ook my huis. Ek is behoorlik ingegrawe in die vulkaniese rots, in die bodem van Santorini.”
Hy praat met ’n swaar Amerikaanse aksent.
“Dis jammer. Watter verskeidenheid boeke.” Sy kyk belangstellend na die rakke, die hoek waar vier gemakstoele om ’n tafel staan, die toonbank met ’n koffiemasjien en yskas. Alles is kleurvol: die bloue en rooie, witte en groene van die kussings, die mat onder die stoele en tafel, die gordyne voor twee vensters. Juweelkleure, dink sy. Niks is vaal nie.
“Het julle lus vir cappuccino?” vra hy.
“Dit sal lekker wees, dankie,” sê Erika. “Ek gaan na jou boeke kyk. Ek is ’n boekwurm.”
Jim Murray lag. “Doen dit gerus. Boekwurms is altyd welkom. Spiro ken van cappuccino maak. Sal jy dit asseblief doen, Spiro? Zizi, my assistent, is uit.”
Terwyl Spiro doenig is by die koffiemasjien, bestudeer Erika die boeke. Sy sien bekende skrywers se name, goeie literatuur, Bookerpryswenners in een rak, Nobelpryswenners in ’n ander rak, reisverhale, digbundels, kinderboeke, ’n hele rak vol tweedehandse boeke, nuwe en tweedehandse slapbandboeke en ook heelwat Griekse boeke.
“Jy het ’n absolute skat hier,” sê sy ingenome. “Jy gaan my heeltyd sien. Ek is ’n bibliofiel van formaat.”
Jim kom staan langs haar. “Ja, ek moet sê, dis die verskeidenheid wat hierdie winkel gewild maak. Ek het self die rakke ingebou, en soos jy sien, is hulle propvol.”
“Cappuccino is gereed!” roep Spiro.
Hulle gaan sit op die stoele om dit te drink. Mense kom in en kyk na die boeke. ’n Groot wit langhaarkat kom ingestap en vly haar teen Jim se been aan.
“Ja, ou Cassandra, waar was jy gewees?” sê hy en streel die kat, wat hoorbaar spin.
“Sjoe, dis ’n mooi kat,” sê Erika. Sy steek haar hand na Cassandra uit. Die kat kom nader en laat toe dat sy haar streel en haar agter die ore krap.
“Is jy lief vir katte?” vra Jim.
“Ja, baie. Ek het tot ’n jaar gelede een gehad, maar hy is dood. Ek het vreeslik getreur.”
Jim lyk meteens hartseer. “As ek weggaan, sal ek Cassandra hier moet los. Miskien sal iemand haar aanneem. Sy is ons winkelkat, ons gelukbringer. Dit voel nie vir my asof ek haar hier van haar lekker tuiste moet wegneem na ’n woonstel iewers in ’n vreemde land nie.”
Die kat loop weg, spring op die toonbank, strek haar uit en kyk met groot