Vlug na Santorini. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vlug na Santorini - Malene Breytenbach страница 7
Nana kom in met sy koffie en ’n klompie toebroodjies op ’n bord. Dit is eintlik te veel.
“Dankie. Is jy klaar met die Stefanos-verslag?”
Dit lyk asof sy skrik, maar haar oë word altyd groot as hy iets vra.
“Ek is nog besig daarmee, meneer. Ek behoort binne ’n uur klaar te wees.”
“Goed so.”
Hy eet die helfte van die toebroodjies en drink die koffie terwyl hy nikssiende by die venster uitstaar. Toe bel hy vir Manos. “Kom asseblief na my kantoor.”
Van al die baie werknemers van Atlantis, is Manos seker die een wat hy die meeste vertrou. Sy regterhand. Nie slegs ’n lyfwag nie, maar een wat vir hom allerhande vertroulike goed doen en nooit sal uitpraat nie. Hulle is eerder vriende as werkgewer en werknemer. Manos is ook sy enigste werknemer wat hom op sy voornaam noem.
Manos kom in, ’n grinnik op sy gesig. Hy lyk altyd soos ’n goedige gorilla, met daardie gespierde harige lyf en groot kop met woeste krulhare. “Kan ek vir jou iets doen, Paul?”
“Sit, my vriend. Ek het ’n opdrag. O, eet gerus daardie toebroodjies. Jy is mos altyd honger.”
Manos se groot lyf sak neer op ’n stoel oorkant Paul se lessenaar en sit dit vol. Hy steek sy groot hand met swart hare op die rugkant na die toebroodjies uit, neem een en hap die helfte weg. Kou en kyk ondersoekend met sy gitswart oë na Paul.
“Daardie meisie by die lughawe wie se paspoort jy opgetel het …”
Manos sluk vinnig. “Jy soek haar.”
“Ja. Sy moet hier iewers tuisgaan. Gebruik al jou kontakte en kyk of jy haar kan opspoor.”
Manos kyk sedig na hom. “Goed, ek sal dit sommer dadelik doen.”
“Het jy gesien watse soort paspoort dit was?”
“Dit was ’n Suid-Afrikaanse paspoort.”
Paul staar verbaas na hom. “Suid-Afrikaans? Sy kom van doer ver in Afrika?”
“Lyk my so. Pragtige meisie …”
“Ja,” sê Paul kortaf, maar toe glimlag hy vir Manos. “Vind net uit wie en waar sy is, dan kom vertel jy my. Dankie, my vriend.”
Manos knik, verslind nog ’n toebroodjie, vee sy mond met die agterkant van sy hand af en staan op. Grinnik weer, en loop uit.
Paul kyk hom agterna. Wel, hier is die bal nou aan die rol. As iemand kan uitvind wie en waar daardie godin is, is dit Manos. Hy kan die onmoontlike regkry.
5
Erika neem haar rugsakkie en gaan dwaal in die besige straatjies van Oia rond. Sy loop met die baie trappe op en af, verlustig haar in al die winkeltjies en stalletjies met poskaarte, skilderye van die eiland, krale en juwele, erdewerk en klere. Al geniet sy dit om na die kleurryke verskeidenheid van die soewenierwinkels te kyk, verbaas sy haar vir die hoë pryse. Sy koop vir haar ’n paar handgemaakte leersandale by ’n klein boetiek en probeer vergeet van haar onlangse aaklige ondervindings. Elke keer as sy aan Cas dink en hoe hy haar rondgepluk het, gaan sy aan die bewe. Nou stoot sy dit weg; bêre dit diep in haar agterkop en haal dit nie uit nie.
Môre gaan Spiro vir haar die boekwinkel wys. Daarna wil sy Fira gaan verken. Sy sal al met die klipstraatjie Nikalaou Namikaou daarheen stap. Dis ’n hele entjie – maklik tien kilometer. Sy sal in Fira ronddwaal en die winkels soek wat sy onthou. Daar was wonderlike juweliers. By een het haar pa vir haar ’n goue kruisie met ’n robyn aan ’n fyn goue kettinkie gekoop.
Terwyl sy loop, dwaal haar gedagtes onwillekeurig terug na die mooi man in die ligte linnepak. Waar sou hy nou wees? Wat doen hy? Naderhand sal sy seker van hom vergeet …
Sy kom by die Grieks-Ortodokse kerkie van Panagia met sy blou koepels. Onthou dat sy en haar pa hier was. “Panagia” beteken Maria. Hulle het gekom om kerse vir haar ma te brand. Sy kry ’n knop in haar keel en besluit om in te gaan, weer na die fresko’s, die goue kandelare en ikone te kyk, en aan haar ma en pa te dink. Dit is koel binne en daar is ander toeriste. Sy probeer om haar nie aan hulle te steur nie.
Erika kyk op haar horlosie. Sy het lank rondgedwaal en dit is seker tyd om terug te gaan na tannie Helena toe. Van hier af is daar die wonderlikste uitsig op die verstommend mooi sonsondergang. Sy dink terug aan die sonsondergange van Clifton. Nee, sy gaan nie nou daaraan dink nie. Sy is nou op Santorini en sy gaan elke oomblik geniet.
Toe sy by die gastehuis aankom, sit haar tannie onder die prieel op die stoep met ’n bottel witwyn en twee glase voor haar op die tafel. Sy glimlag verwelkomend. “Ha, jy’s terug. Ek het vir jou gewag. Maria maak kos. Sy wil jou verras met iets lekkers. Ons moet na die sonsondergang kyk. Yannis en Sophia kom môreaand, dan maak ék weer spesiale kos vir ons. Hulle sien baie daarna uit om jou weer te sien. Gaan sit jou sakkie neer, dan kom drink jy ’n lekker glas wyn saam met my.”
Erika maak soos sy sê en kom sluit weer by haar aan. Helena skink vir haar, hulle klink glase en Erika teug aan die wyn. “Heerlik. Anders as ons Suid-Afrikaanse wyn.”
“Ja, dis ons eilandwyn, gemaak van druiwe wat in vulkaniese grond groei. Ons het nogal ’n florerende wynbedryf. Ons bekendste druiwe is die assyrtiko-kultivar. Hierdie witwyn is ’n Athiri-versnit.” Erika luister met een oor, maar haar gedagtes dwaal kort-kort na die man in die linnepak. Sy wil nie ongeskik wees nie en probeer konsentreer.
“Ons mense van Oia word Apanomerites genoem omdat Oia eers Apano Meria genoem is. Dit het ’n ruk geneem voordat ek as ’n ware inwoner geklassifiseer is.”
“Ekskuus? O, ja. Nou is tannie al so ingeburger.” Konsentreer, Erika. “Ek moet sê, tannie praat darem nog verbasend goed Afrikaans.”
“Ja, darem, maar my kinders praat net Engels en Grieks. Kan jy nog Grieks praat?”
“So ’n bietjie, maar vandat Mamma dood is, het ek baie vergeet. Tannie moet my asseblief weer leer hoe om die belangrikste soort goed vlot te sê. Die politesse, soos die Franse dit noem.”
Haar tannie lag. “Ek sal jou met plesier leer.” Sy teug aan haar wyn en kyk dromerig na die lug wat karmosyn begin verkleur. “Hier wil ek bly tot in lengte van dae. Ek is so lief vir Santorini.”
Erika dink skielik dat dit dalk lekker kan wees om ’n jaar of wat hier te kom woon. Sy sal nog met die gedagte speel.
Ander gaste van die gastehuis kom verby en groet vriendelik, maar gaan na hul eie eenhede. Tannie Helena het gesê sy maak nie vir hulle aandetes nie; sy bedien slegs ontbyt. Dit klink nie vir Erika na ’n stresvolle lewe nie. Haar tannie sien daar goed uit en lyk rustig en gelukkig. Tog wonder Erika of sy nie eensaam is sedert haar man se dood nie. Sy wil nie vis nie, maar dalk het haar mooi tannie ’n spesiale vriend?
’n Spesiale vriend. Sy sug. ’n Man wat jy kan liefkry en bewonder. Iemand met dryfkrag, innerlike sterkte, ’n aantreklike uiterlike en ’n goeie humorsin, wat jou met hartstog én teerheid kan liefhê. Wat romanties is en jou kan wegvoer na die hoogtes van ekstase waarvan jy