Droomkrans se engelman. Moryn Hanzen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Droomkrans se engelman - Moryn Hanzen страница
Droomkrans se engelman
Moryn Hanzen
Melodie
Vir my vriendin Anzil Kulsen & my altyd laggende nig Thea Smit.
1
“Jy wil tog nie vir my vertel jy het al die pad van die wildtuin af alleen hierheen gery nie?”
“Nie die wildtuin nie, mevrou …,” begin Dia.
Die eienares van Die Spens plant haar twee besonder stewige arms in haar sye en trek haar asem diep in: “Kyk, kind, enige stad is enige dag gelykstaande aan een standaardwildtuin. Dis soos om losgelaat te word tussen leeus en luiperds en olifante … en … te hol vir jou lewe – om te oorlééf, kind.”
“Volgens die nuusberigte is die platteland deesdae maar net so gevaarlik, mevrou,” kap Dia verontwaardig teë.
Die vrou voor haar verwerdig haar nie eens om daarop te reageer nie en beweeg effe kortasem aan na die volgende onderwerp: “En wat het jy vir padkos gehad?”
Haar frons waarsku Dia voortydig om haar woorde reg te kies: “Ek het ’n pakkie skyfies en koeldrank op die vorige dorpie gekoop.” Is dit hoe al die mense hier gaan wees? Om darem so sonder skroom ondervra te word!
“G’n wonder jy’s so maer nie, kind! Wat van ’n lekker boepensbroodjie saam met die koffie, meisie?” Die vrou mik reeds om ’n bestelling in die rigting van die kombuis uit te roep.
“’n Boepensbroodjie?” kan Dia nie anders as om vlugtig aan die woord te proe nie terwyl sy in haar gedagtes die prentjie van ’n baie vet broodjie optower en byna aan die giggel gaan.
“Ja, kind! Julle stadsmense ken tog seker ook ’n ding soos ’n jaffel? Propvol heerlike mince en groente.”
“O! Ja-nee, ek ken dit goed, mevrou, ek het daarmee grootgeword. Maar ek is régtig nie honger nie.” Toe die vrou haar vreeslik afgehaal aankyk, voeg sy gou by: “Dalk kan ek een wegneem om later vanaand te eet?”
“Ag, waar’s my maniere vandag? Souf, kind. Souf du Preez.” Sy steek ’n pofferhand na Dia uit terwyl sy haar van kop tot toon aandagtig beskou. “Vir julle jongetjies, sommer tant Souf.”
“Dia Malan. Aangename kennis … tant Souf.”
“Jy weet, jy trek nie juis na die Malans wat vroeër jare op Droomkrans gewoon het nie, kind.” Die tante beskou haar steeds deur vernoude oë.
Dia wonder of sy nou haar ID-kaart moet toon voor sy uiteindelik die sleutel vir Droomkrans se huis by die mollige tante sal kry. Net voor sy haar handsak nadertrek, draai die ander vrou om en stap kopskuddend na die kombuis waarvandaan daar die heerlikste koffie- en kosreuke kom. Sy beskou tant Souf se grys hare wat in ’n netjiese grys bollatjie vasgevang is en haar bont rok onder die bande van ’n spierwit voorskoot.
Dia vee ongeduldig oor haar voorkop. Sy wou al op Droomkrans gewees het, maar nou moes sy die sleutel juis by Die Spens kom haal. ’n Onwillige glimlag verdryf haar frons. Blykbaar ken tant Souf nie ’n woord soos “nee” nie. Sy is eenvoudig vriendelik verplig om eers ’n beker koffie saam met haar te drink alvorens sy vort kan gaan.
Sy loer agterdogtig in die rigting van ’n stokou winkelpop wat soos ’n kelnerin aangetrek is. Die belaglike gevoel dat die pop haar met groot groen oë staan en dophou, kan sy nie afskud nie. ’n Koue rilling loop teen haar ruggraat af. Die blonde pruik het duidelik lanklaas ’n was of ’n borsel gesien.
Reg agter die winkelpop is ’n outydse winkelrak met ’n vertoonvenster waarin die grootste kolwyntjies wat Dia al ooit in haar lewe gesien het, met elke denkbare kleur versiersel pryk. Dis moeilik om die vrolike rooi toffieappels, bottels en bottels vol tuisgemaakte lekkers en koekies, skuimpies en stroopblink koeksisters mis te kyk.
Haar oë dwaal na die verskeidenheid koerante wat op die toonbank lê. ’n Regte-egte cowboy town … Tyd is iets wat bloot soggens deur die kraai van ’n haan aangekondig word en ’n datum is net ’n onbenullige syfer op die voorblad van ’n koerant.
Van agter uit die kafee, wat met ’n koffiewinkeltjie gekombineer is, kom die onmiskenbare reuk van ’n vars treksel moerkoffie al sterker aangesweef. Die bonkige, netjies geverfde letters teen die goudgeel muur oorkant Dia kry ware betekenis toe ’n gevoel van behae saam met die koffiereuk binne-in haar kom lê: Geluk word hier gebrou … beker vir beker. Net daaronder staan ’n stewige, volgepakte boekrak en ’n paar gemaklike stoele. ’n Koffietafel met ’n skaakstel van glas staan bo-op ’n Ngunibeesvel.
Dia skuif sodat sy gemakliker op haar stoel sit. Sy was baie optimisties toe sy gedink het sy kan die sleutel net kry en ry. Saam met die aangename koffiereuk kom meteens eienaardige musiek wat geleidelik al harder opklink. Liewe tyd, dít ook nog.
’n Kort, tingerige man, min of meer in die omgewing tussen sestig jaar en droëwors, kom met een of ander snaarinstrument te voorskyn. Skynbaar meegevoer deur die klanke wat hy uit die snare optower, loop hy met ’n veraf uitdrukking deur die koffiewinkel asof sy nie eens hier is nie.
Die lied wil-wil bekend klink, maar Dia is skoon oorweldig deur al die nuwe indrukke om haar.
Wat ’n eienaardige plek is dié Zoetstroom nie!
Zoetstroom … Aha! “Strome van seën”, herinner die dorpie se naam Dia aan die hallelujalied wat haar ma tog altyd so graag gesing het toe sy nog soms naaldwerk gedoen het. Waar’s dié dae? Dia was nog nie eens in die skool nie. Die onverwagse herinnering aan haar ma se lang siekbed wat gevolg het en hulle kwynende verhouding bring die ou hartseer weer terug. Dia sluk. Skielik mis sy haar pa ontsettend baie. Sy wou so graag eers ’n paar dae by hom gaan kuier voordat sy hierheen gekom het, maar hy wat haar so goed ken, sou dadelik geweet het iets is fout.
Met heimwee kyk Dia toe hoe die man na ’n sitplek in die hoek van die winkel mik, nie meer as tien treë van waar sy aandagtig na die gewyde lied sit en luister nie, en ewe plaasneem op ’n voorwerp wat onder ’n helderkleurige, bont, gehekelde kombersie toegegooi is.
Tot Dia se ontsteltenis gee die bedrieglike sitplek onder hom mee. Hy val met ’n hik sodat hy langbeen op die blink gepoleerde houtvloer te lande kom.
Dadelik is sy op haar voete om te red wat daar te redde is, maar die grysaard bly onverstoord sit, toe oë; sy bril haak weens die slag van die val nog net aan die puntjie van sy groterige neus. Steeds bewerk hy die snare behendig tot die lied trillend wegsterf.
Saam met die laaste noot wat stilgeraak het, flikker sy oë weer oop en glimlag hy op in Dia se oë. Hy kom besonder flink op sy voete, sit die musiekinstrument op die naaste tafel neer en stof homself deeglik af.
“Het meneer seergekry?”
Die man skud sy grys kop heen en weer: “Nee wat, dingetjie, daar’s g’n niks wat ’n mens so goed doen soos ’n val nou en dan nie.”
“Ou Petoors! Sal jy nou vandag die stomme waaier vir ’n stoel aansien? Is ook nie meer ’n mooi gesiggie gewoond nie, kind,” maak die tante rooi in die gesig verskoning.
“Ag, Souf, ontspan tog net jou geknoopte spiere.” Hy draai om en pluk die kombers met ’n ietwat teatrale gebaar van die waaier af asof hy op die punt is om die asemrowende resultaat van een of ander kulkunsie te onthul. “Sie’ jy nou? Die ding is nog steeds in een stuk.”
“Ja, toe!” kom dit hard terwyl die tante die skinkbord met ’n skel oranje warmbottel,