Droomkrans se engelman. Moryn Hanzen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Droomkrans se engelman - Moryn Hanzen страница 4
Oom Petoors se betekenisvolle blik in tant Souf se rigting ontgaan nie Dia se oplettende oë nie, maar die tante tuur oënskynlik onsiende by die deur uit na waar ’n verdwaalde warrelwind die stof in die grondpad opraap en daarmee vort gaan.
Toe Han eindelik omdraai, haak sy deurdringende groen oë met ongewone intensiteit vir etlike tellings in dié van Dia vas. Sy slaan haar oë gou neer met die vreemdste gevoel dat hy tot in die heel verste verskuilde hoekies van haar menswees kyk.
Dis asof die hele atmosfeer in Die Spens skielik soos ’n mislukte soufflé platval nadat Han die plek verlaat het. Tant Souf skraap ’n paar verdwaalde suikerkorreltjies in haar hand van die tafel af en oom Petoors mompel binnemonds iets van werk wat moet klaarkom.
Met die sleutel in haar hand, groet Dia en bekyk die wêreld om haar met heeltemal ander oë as toe sy sowat ’n uur gelede hier stilgehou het. Die atmosfeer van Zoetstroom begin langsaam nesskop binne-in haar. ’n Heerlike koel windjie speel met die soom van haar rok. Sy haal die selfoon uit haar handsak om te kyk hoe laat dit is, maak haar berekeninge en skat dat sy nie later as halfses op Droomkrans behoort te wees nie.
Haar ligblou Austin Mini staan langs die groot akkerboom waar sy dit vroeër geparkeer het. Dit is tot teen die dak volgepak met alles wat vir haar belangrik genoeg was om saam te bring. Die res is in haar kunswinkel se stoorkamer toegesluit. Volgens haar pa is daar meubels in die huis, sy bekommer haar dus nie oor wat voorlopig moes agterbly nie.
Agter die donkerbril dwaal haar oë na al die ou geboue so ver soos wat die oog kan sien. Sommige daarvan is maklik om te eien. ’n Paar meter van Die Spens is die poskantoor aangrensend aan die polisiestasie. Oorkant die pad sien sy nog ou geboue met naamplaatjies op die deure. Die dokter se spreekkamer en prokureur se kantoor dalk?
Anderkant Die Spens is ’n oop erf en dan ’n winkel met ’n groot stoep, soos die meeste ander geboue hier rond. Die klipkerk met die hoë toring staan wakend reg by die ingang van Zoetstroom bo in die straat. Is dit ooit die regte besluit wat sy geneem het om hierheen te kom? hap die twyfel skielik aan die randjie van haar vol gemoed.
Dia probeer die lastige vrae afskud en klim in die motor. Sy waai vir oulaas in die rigting van oom Petoors en tant Souf wat haar nou weer geselsend staan en dophou. Sy moet ’n bietjie kruideniersware aanskaf voor sy die laaste skof van haar reis aanpak.
Die beeld van die forse Han flikker eensklaps koggelend voor haar geestesoog. Sy skud haar kop, maar elke detail keer net nog sterker terug … in volle kleur. Dis soos om in stereo te kan sien: sy gestalte in diepte waar te neem, ’n salige driedimensionele ontploffing in haar verstand waarteen sy nie bestand is nie. Dié besef is skokkend.
Sy swenk net betyds weg toe ’n wolfhond stertswaaiend reg voor die Mini in oor die pad draf.
“Daar het jy dit nou, Dia!” roep sy haar gedagtes wat soos jillende varkies die vlak vol draf, terug op hok. “Amper help jy die arme, onskuldige hond die ewigheid in deur jou aan al die praatjies oor Han Wieookal te steur. Buitendien, wat is miskien so wonderlik aan dié Han?” vra sy haarself af terwyl sy die Mini langs ’n bakkie voor die winkel tot stilstand bring.
’n Donkerkopman wat op die stoep staan en rook, kyk fronsend na haar.
Ja-nee, dit het sy nou daarvan om oudergewoonte met haarself te sit en praat wanneer haar binneste omgewoel is. Die man moet dink sy is die kluts kwyt, vermoed Dia terwyl hy die winkel binnestap.
In Haal & Betaal word sy dadelik vriendelik begroet deur dieselfde middeljarige donkerkopman en ’n blonde vrou. Sy neem aan hy is dus die eienaar. Dit bly steeds vreemd dat almal hier op Zoetstroom mekaar skynbaar groet, maar sy besef dat dit ’n gewoonte is wat sy sal moet aanleer as sy hier wil inpas … en aanpas.
Twee pakke kerse en vuurhoutjies bevind hulle spoedig in haar winkelmandjie, net vir ingeval … Sy hét dalk bietjie oorhaastig hierheen gekom, erken sy teleurgesteld aan haarself, terwyl sy strek net om twee houers rakmelk af te haal.
“Dag, juffrou Malan. Welkom in ons geweste.”
Dia skrik en draai so vinnig om dat ’n paar items vanuit haar dramandjie op die grond beland. “Hallo,” kry sy dit ietwat vies uit.
Genugtig! Noudat Han so naby is, besef sy eers hoe lank hy regtig is.
Dit lyk ook nie juis asof die gewig van die groot pak meel onder sy arm hom enigsins pla nie.
Hy wys na die melk in haar mandjie. “Droomkrans het twee baie ywerige melkkoeie, hoor.” ’n Effense glimlag haak gemaklik om sy mondhoek terwyl hy na haar hande kyk. “Maar jy sal beslis by ’n brood of twee baat, tensy daai mooi hande van jou brooddeeg kan knie?”
Gmf! Deeg knie? In watter eeu het hý vasgehaak? Sy glimlag wyk nie eens voor haar verergde blik nie. Inteendeel, dit wil voorkom asof hy haar, of dalk haar inkopies, ietwat amusant vind. En dit is dan nou meneer Befoeterd waarteen oom Petoors haar so gewaarsku het. Afgesien van sy grootte, lyk hy nie juis vreeslik skadelik nie. Stil en afsydig? Gmf! Sê eerder inmengerig. Hy buk om die vuurhoutjies en pakke kerse van die vloer af op te tel en terug in haar mandjie te pak.
“Tensy jy ’n besondere romantiese streep en ’n spesiale vriend het, kan jy gerus maar al hierdie kerse ook laat staan.” Tergliggies speel in sy oë. “Brood. Moenie die brood vergeet nie.”
Dia kners hard op haar tande om nie vir hom tot in die fynste detail uit te spel wat hy gerus met sy pak meel kan gaan doen nie. Die vet weet, sy het nie die hulp of inmenging van Han of enigiemand anders nodig nie. Sy begeer net rus en vrede – iets wat haar blykbaar hier ook nie beskore gaan wees nie. Veral nie as hierdie man so deurdringend na haar kyk nie.
Kan hy nie nou maar net verkas nie? Sy staar oor sy skouer met wat sy hoop ’n hoogs verveelde uitdrukking is na die rak agter hom. Maar Han is nie klaar nie. Nog nie.
“Dit is ’n fraai toppie wat jy aanhet. Ek was ook eens mal oor rose.” Hy wys na die groot rooi en pers rose teen die geel agtergrond van haar lospassende minirok se materiaal. “Dis tog so jammer hulle prag is eintlik maar net ’n illusie wat gou verwelk, maar daai dorings … Dís die enigste realiteit van daai blomsoort.”
As sy nie van beter geweet het nie, het sy dalk gedink hy probeer reaksie by haar uitlok. Haar toppie nogal. En bedrieglike blomme? Die man is seker nie reg wys nie. Kan jy dit nou oorvertel! Hy is natuurlik net lang, vormlose rokke, plat skoene en kaktusse gewoond hier op die … platteland.
Uit die hoek van haar oog sien die innerlik ontstoke Dia die winkelier se vrou nuuskierig na hulle kyk van agter ’n glaspaneel wat seker hul kantoor afskort. Agter haar staan die donkerkopman, met ’n mond wat effens oophang, óók openlik na haar en Han en staar.
Sy maak keelskoon terwyl ’n moedswillige gedagte haar skielik oorrompel. “Ek is oor die algemeen weer mal oor máns. Veral die bedreigde, goedgemanierde soort wat nog hul plek ken.” Hoekom sy toelaat dat hy … sy oë … nee, álles aan hom haar so ontstem, weet sy nie, maar sy wens vurig hy wil nou net sy ry kry terug na sy eensame hut tussen die bome, aldus oom Petoors.
Han haal sy skouers ongeërg op onder die rooi, geruite materiaal van sy hemp. Sy nou breë glimlag wil haar regterknie laat knak. So, dan kan Droomkrans se berugte buffel glimlag sonder om in skerwe te spat.
Immm, en nie net glimlag nie. Aantreklik glimlag.