Hartklop Omnibus 4. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach страница 25

Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

en grys. Die gordyne is van koningsblou fluweel, teruggebind met sykoord, sodat die son deur kantgordyne gefiltreer word. Daar is blomme op ’n laaikas en op tafels. Aan die mure is nog foto’s van Luigi in operarolle. Rafaella wonder of hy dan nie genoeg van homself te siene kan kry nie. Alles spreek van ’n enorme ego. Die groot bed waarop hy koninklik lê, is werklik soos dié van ’n vors. Hy het nie slaapklere aan nie, maar gewone dagklere, maar om sy keel is ’n wit wolserp sorgsaam gedraai. Langs hom op die bed lê bladmusiek. Dit lyk asof hy besig is om ’n rol in te studeer.

      “Rafaella kom jou ondersoek, caro,” sê Louisa.

      Hy gee ’n kuggie. “Dankie. Ek voel regtig olik.” Hy kyk onderlangs, bykans skelm, na Rafaella. Oordryf ’n martelaarshoudinkie.

      “Het jy Giulio se medisyne gedrink, caro?” vra Louisa besorg.

      “Ja, Mamma, maar dit help nog glad nie.”

      Rafaella tree nader aan die bed. “Sit op die rand en maak jou mond oop sodat ek jou keel kan ondersoek.”

      Hy gehoorsaam. Sy voete is gehul in dik sokkies, sien sy. Ongelukkig moet sy byna teenaan hom gaan staan en hy lyk sowaar asof hy haar nog nader wil trek, steek een hand na haar uit.

      “Maak asseblief jou mond oop, Luigi.”

      Hy maak oop en sy moet sy ken met haar vinger lig sodat sy behoorlik kan inloer. Gelukkig staan Louisa nog daar, anders sou hy dalk vatterig geraak het. Tog voel Rafaella hoe skuif hy sy been skelmpies om hard teen hare te druk. Vabond, dink sy, maar hou haar kalm, maak of sy niks agterkom nie.

      “Dit lyk nie sleg nie,” troos sy, maar sy sien die keel is wel ’n bietjie rooi. Sy voel weerskante van sy nek. “Jy het nog jou mangels, nè?”

      “Ja.” Sy oë word groot. “Is hulle ontsteek?”

      “Ek het ongelukkig nie my instrumente om diep in jou keel en in jou ore te kyk nie, maar dit lyk nie so nie. Hoe lank is jou keel al seer?”

      “Sedert gisteraand.” Hy kyk betekenisvol, beskuldigend na haar.

      “Jy het nie koors nie. Is jou nek styf?” Sy voel daaraan, laat hom sy kop heen en weer beweeg. “Nee, jou nek is nie styf nie. Jy het waarskynlik nie mangelontsteking nie, maar jy moet dat Giulio jou ook ondersoek.”

      “Jy weet, my pa het gedink hy het laringitis en mangelontsteking, en toe is dit veel erger …”

      “Nee, Luigi! Jy oorreageer nou. Drink warm vloeistof soos sop of tee met suurlemoen en heuning, en gorrel met warm soutwater. Het Giulio vir jou iets met ibuprofen gegee?”

      “Jy moet maar kyk. Die goed is daar op die tafel.”

      Sy los hom en gaan kyk. “Ja, hier is dit, en hier’s suigtablette ook. Suig dit, dit sal help. En rus jou stem.” Sy kyk hom streng aan, en hoop hy kry die boodskap.

      “Ek voel sommer beter, dottore,” spot hy swakkies. “Maar jy sal my moet dophou. As ek sieker word, is dit jou skuld.”

      Gelukkig gaan die deur oop. Maria kom met ’n stomende beker in, omgewe deur ’n sterk parfuumgeur. “Caro, ek het vir jou die warm drankie gebring wat Mimi altyd vir my maak. Drink dit dadelik, terwyl dit nog warm is.”

      Rafaella draai na Louisa. “Wel, Luigi is in sorgsame hande. Jy hoef jou nie te bekommer nie. Verskoon my.”

      Sy is verlig om daar uit te kom. Hoe siek voel hy werklik, of is dit net ’n hele performance om haar onthalwe? Sy het sowaar nie verwag om haar hier by La Renza in so iets vas te loop nie. Sy moes aan hom vat! Sy vel onder haar hande voel, sy geur in haar neus kry. Hy het dit natuurlik geniet, maar sy het sowaar as vet nie.

      11

      Luigi kom wel dié aand af vir aandete, maar steeds met die serp om sy keel gedraai. Maria maak ’n ophef van hom, streel sy wang en maak hennerige geluidjies van simpatie, asof hy ’n siek kind is wat gepamperlang moet word. Giulio lyk weer glad nie bekommerd oor sy broer nie. So asof hy dink dis sommer aansit. Rafaella hou haar baie ongeërg.

      Sy bevind haar vir ’n verandering langs Giulio aan tafel. Terwyl die wyn geskink word, leun hy sameswerend oor na haar. “As my broer nie in die nag vir jou kom sing nie, sal hy ook nie siek word nie.”

      Hy weet! Sy bloos van verleentheid, wat moet sy tog sê?

      “Ek het hom geensins aangemoedig om so ’n verspotte ding te doen nie, Giulio.”

      Hy grinnik egter goedig vir haar ongemak. “Nee, dit is juis dáárom dat hy dit doen. Hy is so gewoond dat almal voor sy voete val dat hy die een wat dit nié doen nie, eenvoudig móét oorhaal.”

      Sy maak haar mond oop om te antwoord, maar sien betyds dat die ander mense na hulle kyk.

      “Wat fluister julle daar?” wil Luigi stuurs weet.

      “Ons bespreek jou simptome,” terg Giulio.

      Luigi is rooi in die gesig en lyk asof hy hom vererg, maar hy sê niks.

      Louisa verander taktvol die onderwerp. “Het julle lus om Lucca se Luminara te gaan sien? Dit is ’n maanligfees waartydens slegs kerse in die stad gebrand word. Daar is ’n groot optog met musiek, kostuums, vlae, en mense stap of hardloop om die mure en deur die strate en piazzas. Siena se beroemde Palio is ongelukkig al verby.”

      “Julle kan gaan, maar ék gaan nie in die nag rondloop nie,” sê Luigi. “Maria moet ook nie. Ons sal net koue vat.”

      “Wil jy nie Cortona behoorlik besigtig nie?” vra Giulio vir Rafaella. “Jy het nog nie juis kans gehad om dit te doen nie.”

      “O ja, daar is baie om te sien. Ek was al voorheen in Cortona, maar op ’n haastige toer.”

      “Wil jy San Gimignano ook besoek?”

      “Daar was ek ook al, ek wil eintlik die graagste na Arezzo gaan,” sê Rafaella. “Ons was nog nie daar nie. Daar is skilderye deur Piero della Francesca wat ek graag wil sien.”

      “Dit was ook die tuiste van die digter Petrarca, wat al sy gedigte aan ene Laura opgedra het,” sê Giulio, en glimlag vir haar. “Baie romanties. Een van die grootste liefdesverhale van alle tye.”

      “Ja, ek ken die verhaal. Die hele omgewing is byna té romanties en ek kan dink dat dit ’n digter sal inspireer. Die Middeleeuse geboue in Arezzo is glo so goed bewaar dat ’n mens voel asof jy in ’n timewarp is.”

      “Die Piazza Grande is besonder mooi,” sê Louisa. “Julle móét dit eenvoudig gaan sien.”

      Rafaella hoor haar vaagweg praat, maar sy en Giulio kyk mekaar nog diep in die oë nadat hulle van Petrarca en Laura se liefde gepraat het, en haar hart klop heelwat harder as normaalweg.

      “Ons kan Arezzo oormôre, Saterdag, besoek,” sê Giulio, en verbreek oogkontak.

      “Ek en Maria sal saamkom,” sê Luigi. “Dis mos ’n dagtoer.”

      “Is julle seker?” vra Giulio. “Wat as iemand julle herken?”

      “Ons sal ons vermom sodat ons bewonderaars

Скачать книгу