Ter wille van die vaders (Israel-reeks 10). Marzanne Leroux-Van der Boon
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ter wille van die vaders (Israel-reeks 10) - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 4
“Maar hulle het mos nie weer teruggekom nie,” sê die seuntjie vir sy ma.
Sy slaan haar arm om sy skouer en skud net haar kop.
Henok merk ’n kleinerige leerkoffer heel voor waarop in groot wit letters geskryf staan: Klara Sara Goldstein, Rote Kreuz-Gasse 5. Hy byt sy onderlip vas en kyk nie na Sarah nie.
By die volgende vertoonvenster hoor Henok sy vrou haar asem skerp intrek. Babaklere. ’n Fraai wit satynrokkie en truitjies met patrone in gebrei. Piepklein skoentjies. ’n Aangetrekte pop waarvan die kop af is. Sarah kyk hom bleek aan, haar mond weerloos van ellende, maar sy sê niks nie. Hy voel na haar hand, maar sy druk dit vinnig in haar broeksak.
Hy besef sy veg teen die ontroering wat haar wil oorweldig en hy dwing nie aanmerkings op haar af nie.
Eindelik is hulle buite en adem almal verlig die vars buitelug in. Voor hulle strek die lang ry barakke aan elke kant van die pad uit.
Henok se binneste trek benoud saam toe hy besef die gids is met hulle op pad na Blok 11 toe. Hy neem Sarah aan die arm en kyk af in haar gesig.
“Is jy moeg?” is ál wat hy kan dink om sy emosie te formuleer.
“Nee!” sê sy vinnig, maar toe verslap haar mond effens. “Dis baie interessant.”
Hy haal diep asem. “O.”
Voor hy iets verder kan sê, begin die gids oor haar mikrofoontjie praat.
“Dis die berugte Blok 11,” sy wys na die wit geverfde nommer by die ingang. “Auschwitz I se gevangenis. Die gevangenes van Auschwitz I en van Birkenau is hierheen gebring om gestraf te word vir wat die Nazi’s as ernstige oortredings beskou het. Dinge soos sabotasie in die Auschwitz-fabrieke of poging tot ontsnapping. Politieke gevangenes van buite die kamp is ook hier aangehou terwyl hulle verhoorafwagtend was. Die Gestapo se hof was in hierdie gebou.”
Sy neem die groep linksom die gebou. Hulle gaan staan voor ’n muur wat tussen Blok 10 en 11 loop. Teen ’n groot gedeelte van die muur is kranse gelê.
“Dit is die muur van die dood,” sê sy. “Hier is die gevangenes onmiddellik tereggestel nadat hulle in die hof skuldig bevind is.”
Henok kyk op na die bome met hul diepgroen blare wat bokant die muur teen die blou lug uittroon en hy snak na sy asem wat kort word in sy keel. Hy doen dit sag, want Sarah staan styf teen hom aan. Hy durf nie na haar kyk nie; al voel hy haar ril.
Die gids wys na betonversperrings wat voor elk van die kelderverdiepings se vensters gebou is. “Dit was om te verhinder dat die gevangenes in die kelderverdiepings na buite kon kyk.”
“Maar hulle sou tog kon hóór wat gebeur!” roep ’n vrou ontsteld uit.
“Hulle sou,” sê die gids gedemp. “Ek wil net sê dat een van hierdie selle dié is waar vader Maximilian Kolbe, die Poolse priester wat aangebied het om die plek van ’n veroordeelde Pool in te neem, gelaat is om van honger en dors te sterf.”
“Vertel vir ons die storie,” vra ’n man in die groep wat dit kennelik al gehoor het.
Die gids glimlag toegewend.
“Daar was ’n reël hier in Auschwitz waarmee die Nazi’s enigeen wou ontmoedig wat die gedagte gehad het om te ontsnap. As iemand wel daarin geslaag het om weg te kom, is tien ander in sy barak uit vergelding doodgeskiet. In 1941 het ’n man skynbaar uit vader Kolbe se kelderverdieping ontsnap. Die aaklige ironie van die storie is dat die lyk van die sogenaamde ontsnapte later in een van die kamp se latrines gevind is. Verdrink. Daar was dus geen rede vir die verskriklike vergelding nie. Maar ál die ander mans in die kelderverdieping is nietemin na buite geneem.”
Die jong gids trek haar asem in en roep toe dramaties so hard dat almal ruk van die skrik.
“‘Die vlugteling kan nie gevind word nie! Julle gaan hiervoor betaal! Tien van julle sal in die bunker sonder kos of water toegesluit word tot julle dood is!’” Haar stem keer terug na normaal. “So het kommandant Karl Fritzsch geskree.”
Haar gesig verkleur voor sy verder vertel: “Natuurlik het dit die gevangenes met angs vervul. Hulle het geweet ’n paar dae in daardie vertrek sonder kos en water laat jou binnegoed opdroog en jou brein soos vuur brand.”
Die mense luister stil.
“Die tien mans is uitgesoek. Een van hulle was Franciszek Gajowniczek. Hy was daar omdat hy die Poolse ondergrondse beweging gehelp het. Hy kon homself nie keer nie en het wanhopig uitgeroep,” weer die dramatiese stem: “‘My arme vrou! My arme kinders! Wat sal van hulle word?’
“Toe vader Maximilian die verskriklike kreet hoor, het hy stil vorentoe gestap. ‘Ek is ’n Katolieke priester,’ het hy gesê, ‘ek sal in sy plek gaan. Ek is oud. Hy het ’n vrou en kinders.’”
Die man wat die storie aangevra het, kan nie langer stilbly nie. “Toe die kommandant hom hoor praat, het hy gegil: ‘Wat sê die Poolse vark daar?’”
Die gids glimlag flou. “Dis reg. Vader Maximilian het natuurlik Pools gepraat. Hy het hier gesterf, terwyl Franciszek Auschwitz oorleef het.”
Hulle stap nog verby Blok 21 met die effens verweerde aanduiding bo die ingang: Chirurgische-Abt. Eintritt Verboten.
“Hier is baie van die grusame eksperimente op mense uitgevoer,” vertel die gids voor hulle verder gaan.
Verby die paradegrond waar die gevangenes baie ure op aandag moes staan om oor en oor getel te word, stap die toergroep. In reën, in sneeu, in die blakende son, dag vir dag moes hulle daar aantree. Die galg waar mense ten aanskoue van die hele kamp opgehang is. Ná die Neurenberg-verhore is die kampkommandant ook hier gehang.
Van daar stap hulle terug na die toerbussie om na Birkenau te ry.
Dit duur dan ook beswaarlik vyf minute voor hulle daar aankom. Hulle stap deur die ingang en ’n ent langs die spoorlyn op. Toe hulle omdraai en terugkyk, lê die so bekende toneel van Birkenau voor hulle. Die rooi baksteenpoort met sy toring bo-oor die deurgang vir die treine en die spoorlyn met die verweerde dwarslêers wat daarvandaan na die Birkenau-kamp lei. Weer klik die kamera’s onafgebroke.
Die groep loop met die grondpad verder. Onder hul voete knars die gruis in die stilte. Verder op langs die spoorlyn staan daar een van die houtspoorwaens waarin die gevangenes vervoer is. Daar is hier en daar gleuwe tussen die houtsparre waardeur dié wat daar teenaan gestaan het, miskien ’n bietjie vars lug sou kon inasem.
“Daar was ongeveer 70 tot 80 mense in een wa,” verduidelik die gids, “vir dae lank.”
“Daar kan mos nie so baie bankies inpas nie!” sê ’n seuntjie, verleë teen sy ma aangedruk.
“Daar was nie bankies in nie. Hulle moes op die grond sit, styf op mekaar. Of staan,” antwoord die gids oor haar mikrofoontjie.
“Daar’s nie vensters nie,” sê die kind weer sag.
Niemand antwoord hom nie en die groep stap sonder om te praat verder.
Kort daarna staan hulle voor die swart verbrande ruïnes van die krematorium. Hulle luister na die klein blonde gids se afgryslike relaas.