Bet-El. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Bet-El - Helena Hugo страница 12
“Jy het vanaand ook nagmaal gebruik.”
“Is dit hoekom jy by my raad soek?”
“Ek moet Saterdag vir Dominee sê of ek aanneem. Oom Barend is my ouderling, ek gaan meer dikwels met die Janses te doen kry. Ek is bang ek loop my in haar vas. Sy kuier by haar ouers, tant Adriana kan oor niks anders praat as Adrie en haar kinders nie. My kop is verkeerd, ek word mal.”
Die ouer man sug, dit lyk of hy sy waardigheid darem halfpad herwin het. “Wanneer laas,” vra hy, “het jy haar in lewende lywe gesien?”
“Kersfees verlede jaar, van ver af in die kerk.”
“Het jy ná die diens met haar gaan praat?”
“Ek het gemaak dat ek wegkom. Ek wil nie soos my pa wees nie.”
“Dan moet jy hierdie Adrie-vroumens uit jou sisteem uitwerk. Jy sal dit net regkry as jy ophou drome droom. Dink aan dit wat sy jou aangedoen het, hoe sy dit gedoen het.”
“Ek kan haar nie haat nie.”
“Dis nie wat ek voorstel nie. Beheer jou, groet haar en vergeet van haar. Steek die kers op volgende keer wanneer jy en Anna liefde maak.”
Daniël voel bloed na sy kop vloei. “Hoe weet Meester? Ek dag Meester ‘maak nie liefde’ nie.”
“Ek lees boeke wat ek nie vir jou ma aangee nie. Dit daar gelaat.” Hy stoot die witblitsbottel eenkant toe. “Ek is ’n gebore Jood, dis my nasie, maar ek is ’n Christen, nes jy en jou mense. My vader, rus sy siel, het vir ons die voorbeeld gestel, ons kerk toe gevat, die keuse aan Moeder en aan my en my suster oorgelaat.”
“Ek het nie geweet Meester het ’n suster nie?”
“Esther, ja. Oor haar …” Sy stem raak so sag, Daniël hoor skaars. “Oor haar praat ek nie nou nie.”
“Meester se ouers?”
“My ouers is dood, wreed vermoor. Dis ook ’n ander gesprek.”
“Ek het nie geweet nie.”
“Ek onthou hulle met trots. Vader was ’n filosoof, ’n kenner van antieke Joodse geskrifte. Hy het die Tora geken, die geskiedenis van die Jode op die punte van sy vingers, maar hy het nie toegelaat dat dit hom bind nie. Christus Jesus se lewe, sy uitsprake, sy kruisdood het Vader so gefassineer dat hy hom losgemaak van die ou godsdiens. Hy was ’n bekeerde Jood, ’n innig oortuigde Christen.”
“Meester se ma?”
“Moeder het vasgeklou aan die tradisie, met die gevolg dat ons nog al die Joodse gebruike gehandhaaf het. Ek het eerstehandse ervaring van hoe wette en seremonies jou bind, hoe voorskriftelik dit kan wees. Jesus het twee seremonies ingestel: die sakramente van die doop en die nagmaal.”
Meester Elie vou sy arms op die tafel voor hom, oorweeg blykbaar sy woorde. Hy het die houding van leermeester aangeneem en Daniël durf hom nie in die rede val nie. “Die nagmaalsformulier,” sê hy, “is myns insiens te lank en omslagtig, maar steeds Skrifgefundeer. As jy vanaand stip daarna geluister het en nie tussendeur aan die slaap geraak het nie, sou jy gehoor het dat Jesus nie van ons verwag om perfekte mense te wees nie, ons kan nie. Nie een van ons kan ons saligheid verdien nie. Maar Hy roep ons tot geloof in Hom, én tot diens. Ek verseker jou, Daniël, dien Hom voluit, dan sal jy sterk staan teen enige versoeking, ook teen hierdie vrou wat jou liefde nie werd is nie. Verstaan jy dit?”
Die kamp het tot rus gekom, die paddas en krieke nie. Motte en ander vlieënde goggas dans in die lig van die lantern, sommige na hul gewisse einde toe.
Dien God voluit en jy sal sterker staan teen enige versoeking.
Dat die antwoord so eenvoudig is, het Daniël bly hoop en hier kry hy dit van iemand wat alles verloor het en dit regkry om die familie wat hom aangeneem het, onselfsugtig lief te hê, ook die vrou wat sy hart gesteel het.
“Meester, dankie. Ek wou dit ook só uitwerk, ek bedoel, dat niemand perfek kan wees nie, maar Meester het my verder gevat. Ek het die antwoord, ek sal die Here met my hele lewe dien, ek en my huis.”
Meester Elie strek oor die tafel, hou sy hande na Daniël toe uit. “Die Here weet, as ek maar ’n seun kon hê, soos jy,” sê hy en daar is trane in sy oë.
Hoofstuk 5
Die baba wat in die wiegie lê, is die gaafste ou seuntjie. Hy kraai van plesier, skop met sy voetjies, maal met sy armpies. Myne, my baba! Anna Catharina buk om sy kombersie reg te trek. Ma Susanna, ma Caroline, tant Georgina, tant Hester, aunty Meredith, al die tantes en Elsje staan in ’n kring om die wiegie. Te mooi, die ou seuntjie, haar en Daniël se eersteling. Ma Susanna en ma Caroline stry oor wie hom eerste mag optel. Tant Hester stoot almal weg, sy lig die kombersie. Die hele wiegie is vol van Daniël se voete, skeef misvormd, seer. Die vloek, die vloek, die vloek, koorsing al die tantes. Almal het swart rokke aan. Annatjie lê in haar kissie, sy kyk vir hulle met die baba se ogies, praat reg uit die Bybel: De Heere doet my nederliggen; hy voert my sachtkens door de dal der schaduwe des doots. Annatjie huppel deur ’n lenteveld van wit blommetjies. Die seuntjie klouter oor die rand van sy wiegie. Die tweetjies vat hande en hardloop reg deur die muur. Sy wil hulle agternasit. Haar voete is in die grond geplant, sy kan nie roer nie, sy is bang en skreeu: Help my, help!
Die volgende oomblik draai die seuntjie om. Sy mond gaan oop, hy praat met ’n harde fluisterstem: “Wat? Wat is dit? Anna, is jy wakker?”
Iemand hang oor haar, ’n donker homp in die grys lig. Ruik na Daniël, maar sy stoot hom weg. Moet asem kry, lug skep. Sit toe vervaard regop, besef sy het gedroom en druk haar hande teen haar gesig, voel verlig dat sy wel ’n gesig het, ’n kop, ’n lyf en arms, bene wat kan hardloop.
Dankie, Jesus. Dis net ’n droom.
“Wat makeer? Anna?” Sy stem kom nog deur droomnewels na haar toe aangedreun. “Jy’s rusteloos.”
“Sommer ’n nagmerrie.”
“Jy praat in jou slaap.”
“Wat het ek gesê?”
“Niks, ek kon nie hoor nie.”
“Waar is ons?”
“In Kimberley. Dis Paasfees. Ons kampeer op die kerk se meent.”
“Skies, ek is deur die slaap.” Sy leun terug. Buite begin die eerste voëltjie tjilp. “Oggend?”
“Amper. Wil jy nog na die vroeë biduur toe?”
“Het ek so gesê?”
“Gisteraand.”
“Dan gaan ons.”
Sy kan hul klere wat Daniël aan ’n staander opgehang het, net-net uitmaak.
“Lyk soos afkopmense.”
“Wat?”
“Ons klere, soos mense sonder koppe.”
Daniël kyk na haar. Sy dink hy frons.
“Moet