Legkaart van die liefde. Renda de Waal
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Legkaart van die liefde - Renda de Waal страница 6
Hulle gesels oor nuus van die dag: die uitwerking van al die heffings op die salaris wat die gewone man huis toe neem, al die politieke manewales, die godsdiensdebat wat net nie ophou nie.
Deon se menings is weldeurdag; hy stel belang in haar menings en dwing haar om uit die vuis en dieper te dink.
Langsamerhand, soos die ete vorder, raak die gesprek meer persoonlik. Hulle vra oor mekaar se belangstellings uit. Doen jy iets anders vir oefening behalwe gim? Wat lees jy? Ander stokperdjies? Flieks wat ’n indruk op jou gemaak het? Musiek? Sy vind uit dat Deon twee en dertig jaar oud is, nege jaar ouer as syself.
Hulle is klaar met hulle hoofgereg toe ’n vriend van Deon kom groet.
Deon kyk gesteurd op, maar kom op sy voete en groet. Hy stel haar voor, sê dis sy boesemvriend, Jean Duval, maar hy maak dit in nieverbale taal duidelik dat Jean nie moet talm nie.
Dit gee Willa ’n paar broodnodige oomblikke om bestek te neem. Sy sal versigtig moet wees. Die wyn en die man is direk na haar kop toe. Sy, wat gewoonlik so gereserveerd is, het onder sy belangstelling oopgemaak, haar gedagtes onvoorwaardelik met hom gedeel en onder sy goedkeuring geblom. Dwarsdeur die ete het sy oë haar geliefkoos, het sy blik soos ’n aanraking van haar skouers, haar mond, haar oë gevoel.
Sy bedekte misnoeë oor die onderbreking laat haar ongelooflik spesiaal voel.
Jean groet gou met ’n geamuseerde glimlag om sy mond.
Deon vra om verskoning vir die onderbreking en verneem of sy nagereg wil eet.
“Ek kan nie ’n krummeltjie meer eet nie,” sê Willa, “maar koffie sal lekker wees, dankie.”
Nadat hy vir hulle albei koffie bestel het, sê Deon: “As jy wil, kan ek bietjie kyk na jou gholf, jy sê mos jy vind dit ’n moeilike spel. Waarmee presies sukkel jy?”
“Laat ek sien,” lag Willa. “Ek sukkel met my afslane, ek sukkel met my naderhoue, ek sukkel met my sethoue. So jy kan maar sê ek sukkel met gholf.”
Toe Deon lag, gaan sy voort: “Onthou, ek het maar ’n paar maande gelede begin. Ek het enkele lesse gekry, maar vermoed dis nou net oefen vorentoe. En ek sal dit nie aan jou doen om saam met ’n beginner soos ek te speel nie.”
“Ek sal daarvan hou om saam met jou te speel, en nie net gholf nie.”
Willa trek haar asem in. Die beelde wat sy woorde in haar oproep, laat haar vuurwarm bloos. En die probleem is dat sy ’n beginner is wat baie soorte speletjies betref, veral die soort speletjies wat sy woorde suggereer, en dit laat haar meewarig glimlag.
“Jy doen dit al weer,” sê Deon. “Daardie innerlike oomblikke van pret waarvan net jy weet. En tot dusver wou jy hulle nie met my deel nie. Kan ek betaal daarvoor?”
“Hoeveel sou jy bereid wees om te betaal? Die spreekwoordelike pennie?” skerm sy.
Hy leun vorentoe, druk haar hare agter haar oor in, soos hy haar al ’n paar keer sien doen het, en sê speels: “Maak jou prys.”
“Gevaarlike aanbod, meneer Joubert. Ek kan jou dalk kaal uittrek.” Onmiddellik besef sy dat sy die grootste flater begaan het deur juis dié beeld te gebruik.
Hy gooi sy kop agtertoe en lag: “Jy het my toestemming,” en vra tergend: “Gee jy my wedersyds toestemming?”
“Jy weet baie goed ek het spreekwoordelik gepraat,” en toe moet sy ondanks haar verleentheid saamlag.
Terug by die woonstel vra Willa of hy wil inkom vir koffie?
Met ’n ironiese glimlaggie, sê Deon: “Liewer nie, want dis nie koffie wat ek wil hê nie. Of tee, of enige ander drankie nie.”
“Dis net koffie wat op die spyskaart is,” daag sy hom uit.
“Ek beplan om die spyskaart uit te brei.” En met die kriptiese woorde trek hy haar vir ’n oomblik nader en druk sy mond in die holte tussen haar skouer en haar nek.
“Lekker slaap.” Hy trek die deur agter hom toe.
Willa moet eers teen die deur leun om haar bewende bene kans te gee om te herstel.
Die volgende oggend lê Willa nog in haar bed toe haar selfoon lui. Deon. Haar hart klop in haar keel toe sy sy naam sien. Hy vra of sy die aand saam met hom na die fliek sal gaan kyk waaroor hulle die vorige aand gepraat het.
Willa stem in. Hy spreek af om haar vroeg te kom kry sodat hulle eers iewers kan gaan eet.
Die een afspraak volg na die ander. Hulle sien mekaar daardie eerste paar weke elke dag, meestal selfs vir middagete. Deon maak geen geheim daarvan dat hy haar geselskap geniet en haar graag meer wil sien nie.
En Willa dink nie eens daaraan om haar ’n bietjie meer onbeskikbaar te stel nie. Soos hy, wil sy hom sien en by hom wees. Hulle kan nie genoeg kry van gesels nie, en Deon is versigtig om nie aanmerkings te maak wat haar verleë laat voel nie.
Hy raak selde aan haar. Sy oë lag in hare, en dit terg, maar dit liefkoos haar nie soos die eerste aand nie. Sy voel verward. As dit nie vir sy afskeidswoorde daardie eerste aand was nie, sou sy rêrig gedink het hulle is net vriende en dat daar geen dieper aangetrokkenheid van sy kant is nie.
Willa besef al hoe meer dat dit nie met haar die geval is nie. Hy is seker die aantreklikste man op die aarde, besluit sy elke keer opnuut. Die emosies wat hy by haar wek, word by die dag intenser. Sy gesigsuitdrukkings leer sy ken. Hoe lag eerste by sy oë begin en dan na sy mond versprei. Hoe hy ernstig kan raak, die lyne om sy mond duideliker. Sy hou van sy houding teenoor die lewe, die verantwoordelikheidsgevoel teenoor en respek vir sy werknemers, sy begeerte om ’n verskil te maak.
Een heerlike, warm Saterdagoggend nooi hy haar na sy huis. Sy raak dadelik verlief op die groot, ou huis met sy pragtige tuin. Gerieflik binne, en onpretensieus luuks, ’n mengsel van oud en modern.
Deon stel voor dat hulle in die swembad afkoel.
Hulle swem en speel met ’n bal, en klim later uit om in die son droog te bak. Deon probeer nie sy belangstelling verberg toe sy, effens selfbewus in haar bikini, sonblok aan haar lyf smeer nie, maar bied ook nie aan om dit vir haar te doen nie.
Sy huiwer tussen verligting aan die een kant – sy aanraking sou net te veel van ’n uitwerking op haar gehad het – en verwarring aan die ander kant: Ander jong mans het nooit die geleentheid verby laat gaan om aan te bied om so ’n takie te verrig nie.
Vir die eerste keer in haar lewe is sy intens bewus van ’n man se liggaam: sy lang, goed gevormde bene, sy breë skouers, sy gespierde borskas en maag, sy sterk arms.
Hoe sal dit voel …? Nee, keer sy haar gedagtes; haar gesig sal haar net verraai.
Toe sy later omdraai om op haar maag te lê, steek Deon sy hand uit en raak liggies met sy wysvinger aan die geboortevlekkie baie laag op haar rug.
“’n Geboortevlekkie?”
En toe sy glimlaggend knik: “Ek het vir ’n oomblik gedink dis ’n tatoeëermerk. Dis ’n perfekte hartjie.”
“Ek het dit by my ma geërf. Sy het op presies dieselfde plek ook so ’n geboortevlek