'n Brief vir Reina. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Brief vir Reina - Elsa Winckler страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Brief vir Reina - Elsa Winckler

Скачать книгу

tantes gaan sy ore van sy kop af praat van die kerk tot by die huis,” sê Larissa, met onderdrukte lag in haar stem. “En dit gee tant Cora darem ’n kans om weer na die mooi man te kyk.”

      “Gmf, jy weet wat ek van mooi mans dink.” Reina leun terug in haar stoel en maak haar oë toe.

      “Dit was ’n spesiale diens, dink jy nie so nie?” vra Larissa wat stadig in die stil straat afry. “God is goed, Hy doen goed, Hy is goed – dis die boodskap wat ek vandag gekry het. Nare dinge gebeur, maar dít verander nie.”

      Reina antwoord nie. Sy het gehoor wat die predikant sê, maar sy is sonder ouers, sonder haar liewe ouma; daar is min van die goeie in haar lewe oor.

      Vyf

      Derek staar die twee vroue agterna. Hy doen gereeld sake met mense, hy weet hoe om die sjarme aan te draai, vertel Santie hom gedurig, maar hy praat aanmekaar sy mond verby wanneer hy naby Reina Sauer is. Hy sê net mooi die verkeerde ding. Dis nie asof hy beplan het om ’n afspraak te probeer maak nie, hy kon net nie aan iets anders dink om te sê nie.

      Jy kon weggestap het, treiter ’n stemmetjie hom van nêrens af. Ja, hy kon, maar dan …

      Maar dan sou jy nie langer naby haar kon gestaan het nie.

      Wat?

      Met lang treë stap hy ontsteld terug na die teetafel. Hoekom hy aangebied het om die oumense aan te ry, weet nugter. Om uit sy pad te gaan vir ander mense is nie iets wat hy normaalweg doen nie; hy is gewoonlik te besig met sy eie dinge.

      Sodat jy weer vir Reina kan sien, praat die stemmetjie weer.

      Die tantes kwetter al die pad na Reina se huis. Dink hy nie dit was ’n besonderse diens nie? God is so goed, is dit nie wonderlik nie? Kyk nou maar vir hulle twee – as dit nie vir sy genade was nie, weet hulle nie wat sou van hulle geword het nie. En die tee was so lekker. Reina sou gehou het van die koeksisters; sy het so ’n soettand gehad. Is die dominee nie handsome nie? Het jy gesien ou Santjie Snyders het sowaar ook opgedaag? Sy kon so oor Reina skinder.

      Voor langs hom sit Fred doodstil. Hy staar by die venster uit. Wat sou die man se storie wees? Hoe het hy op McGregor beland? Van wat Derek kon aflei, is Fred alleen. Die opknapwerk wat hy heeldag loop en doen, doen hy sekerlik nie omdat dit vir hom lekker is nie; hy doen dit heel waarskynlik omdat hy moet.

      “Hoekom wil jy Reina se huis koop?” vra een van die tantes van agter af.

      Derek loer in sy spieël. Dis die een wat die meeste praat. Cora, as hy reg onthou.

      “Ek werk aan ’n behuisingsontwikkeling met sekuriteit,” antwoord hy. “Reina se huis is een van die eiendomme wat gesloop moet word voor dit kan gebeur. Ons het reeds die ander twee huise aan weerskante gekoop, ek moet nog net Reina se handtekening kry.”

      “Sjoe,” sê Cora.

      In sy truspieëltjie sien Derek hoe sy die ander tante se hand vasgryp. “Dis so ’n mooi ou huis, darem baie hartseer.”

      “Maar noudat julle vriendin dood is, sal julle seker wil … uhm, teruggaan?”

      “Teruggaan?” vra Cora. “Ons het nie meer ’n plek om na terug te gaan nie. Ons het by Reina gebly.”

      Derek frons. Dit kan nie wees nie, hy het tog met Reina van Deventer oor die koop van die eiendom gepraat en sy … Hy probeer onthou wat sy gesê het. Sy het gesê die huis behoort aan haar kleindogter, maar sy het nie volstrek geweier om die plek te verkoop nie. Beslis het sy niks van gaste in haar huis gesê nie.

      Sy gedagtes is nog by die ouma toe hy voor die huis stilhou. Die gekwetter van die tantes het opgehou, besef hy. Die drie mense wat uitklim, is bedeesd, bekommerd en ontsteld.

      Omdat hy die huis wil koop. Maar verdomp, dis nie asof hy ’n keuse het nie. Die enigste ander opsie is …

      Een wat hom nie pas nie. Hy kan sy huis in Clifton verkoop, die plan vir die ontwikkeling laat oordoen …

      Gou klim hy uit die motor. Dis nou wat gebeur as ’n mens in ’n kerk sit: jy begin dink aan allerhande belaglike goed. Dit gaan hopeloos te lank vat om weer ’n plan te laat opstel en dit te laat goedkeur. Buitendien, die koop van sy huis is so pas deur. Om dit dadelik weer in die mark te sit is waansin. Hy kan net verloor. Daar is die oordragkoste, die vervoerkoste van sy meubels en … waarnatoe sal hy nou trek? Hy het geen ander blyplek nie.

      “Wat van daardie huis?” vra Cora en beduie na nog ’n ou huis regoor Reina s’n. “Kan jy dit nie eerder koop nie? Daar is ook ’n kothuis agter wat die mense naweke uitverhuur.”

      Derek kyk lank na die huis. Vreemde gedagtes kom by hom op. As hy sy Clifton-huis verkoop en dié plek koop …

      Hy draai vervaard om. Waar op aarde kom die gedagte vandaan? Hy vermy die oë van die twee tantes wat hom angstig dophou.

      Hulle is nié sy probleem nie.

      “Ek wil net groet,” sê hy stroef en draf die paar trappies op tot by die voordeur.

      Voor hy kan klop, gaan die deur oop. Larissa kyk hom koel aan.

      “Ek het nie gedink jy wil afklim nie.”

      “Reina …”

      Larissa trek haar asem skerp in: “Jy kan haar beslis nie vandag oor besigheid spreek nie!” roep sy ontsteld uit.

      “Ek was nie van plan om dit te doen nie, ek wou hoor hoe dit met haar gaan,” sê hy kortaf.

      Reina verskyn agter Larissa. “Ek is fine. Ek maak vir ons tee, jy is welkom …”

      “Nee, hartjie, gaan sit julle,” sê Cora dadelik. “Ek en Trina sal die tee maak. Kom, Fred, jy kan die skinkbord indra.”

      ______________

      Reina vermy die vraagteken op Larissa se gesig. Nee, sy weet ook nie hoekom sy die man genooi het nie. Maar hy het die tantes en vir oom Fred huis toe gebring, dis seker net ordentlik.

      Sy gaan sit by die eetkamertafel.

      Larissa trek die stoel langs haar uit en gaan ook sit.

      Derek bly staan, sy hande in sy broeksakke.

      “Dankie dat jy die drie huis toe gebring het,” sê Reina.

      Hy knik. “Jy is bleek.”

      Reina trek haar mond. “Dit was ’n lang jaar.”

      “Wil jy sit?” vra Larissa vir Derek.

      Hy kyk in die rigting van die kombuis: “Cora sê vir my hulle bly hier. In die huis.”

      Reina kyk vlugtig na Larissa voor sy antwoord: “Ja, dis ook iets wat ek dié week eers uitgevind het. Ek was lanklaas by my ouma.”

      Hy bly ’n oomblik stil. “Dankie, ek sal nie vir tee bly nie, ek bel jou Maandag oor ’n afspraak. Jou telefoonnommer?” Hy haal sy foon uit en hou dit uit na haar.

      Sy tik gou haar nommer in voor

Скачать книгу