Fransi en die filmster. Anita du Preez
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Fransi en die filmster - Anita du Preez страница 2
“Het jy nie werk om mee aan te gaan nie? Hoekom gaan haal jy nie solank die resin-gietsels van daai rivierklippe uit die rubber moulds nie, huh? Hulle behoort nou mooi gestol te wees en ons moet omtrent nog veertig giet.”
“Oukei, oukei, boss, I know when I’m not wanted . . .”
Fransi laat haar assistent skouerophalend gaan. Mens mors nie jou energie nie. Choose your battles, and use your weapons, is haar ma se motto om te oorleef in ’n manswêreld. Haar ma weet. Ná vier seuns en ’n moeilike man in die huis. En Fransi weet ook. Want sy was ook daar. En as die heelal anders besluit het, was haar naam Frans.
Die feit dat dinge dan dalk makliker vir haar sou verloop het in die kunswêreld waar dit meer aanvaarbaar is vir ’n vrou om mooi prentjies van kosmosse te skilder as om met hamers en beitels te werskaf, is iets waaroor sy lankal nie meer tob nie. Selfs Patrick Muelle het lank aan sy potloodjie gekou voordat hy kans gesien het om ’n vrou as fabriseerder aan te stel. Maar sy kla nie, haal net diep asem en vat haar lipstiffie uit haar hempsak om haar mond vryhand perfek rooi in te kleur.
Toe stap sy studio toe en haal haar hamerboor uit haar groot pienk gereedskapkis, sonder om met ’n siel oogkontak te maak. Geen man of muur gaan haar onderkry nie. Ook nie die hele oerwoud of die rivierwalle wat sy nog moet bou vir die studio se huidige poging, Lost Zombies, nie.
Die manne tel soos een hul gereedskap op en buk af na hul onderskeie take, want enigeen kan sien Fransi Fouché se tea break het haar bui hoegenaamd nie verbeter nie. En dit voorspel niks goeds vir die res van die dag nie.
Vernon is die res van die oggend nie met ’n oog te siene nie. Toe Fransi teen eenuur weer in haar boot gaan skuiling soek, word sy nie gepla nie. Sy moet sê, sy is nogal gedaan. Dis harde werk en hoewel sy superfiks is en gereeld haar kant bring by die gym, bly dit harde werk, troos sy haarself toe sy net ’n korte oomblik haar kop teen die boot se een vergulde pilaar laat rus.
Sy moet ingesluimer het, want in haar halfwakker droom buk iemand besorg oor haar.
“Oh my word! Will you look at that?” hoor sy die persoon sê.
“Like a modern-day Raphael Madonna, floating down the Nile. That cloud of dark hair against such pale perfect skin! Those perfect brows! That red mouth!”
Sy sukkel uit die slaapdieptes op en toe sy opkyk, is die son reg agter die een wat praat.
“Who is she?”
Sy knipper haar oë en ’n oomblik is daar twee van hulle. Albei lyk na Matt Delmayer. Sy maak liewer haar oë weer toe. Dalk kan sy net vir oulaas ’n minuut of twee in die droom ingly. So salig in die sonnetjie. So moeg. Geen wonder sy sien dubbel nie.
Toe sy uit die saligheid deurbreek na die werklikheid en wonder hoe lank sy dan geslaap het, is daar niemand by haar nie.
* * *
Skynbaar het Vernon dié keer nie twak gepraat nie, want van toe af word Matt Delmayer se naam om elke draai in die studio gehoor. Dis egter eers twee weke later dat Fransi die wonderwerk met eie oë kan aanskou toe hy die Vrydagmiddag in lewende lywe doodluiters saam met Patrick Muelle by die studio se deur instap.
Sy voel hom nog vóór sy hom sien. Meestal omdat almal anders hul gereedskap neersit en die lawaai van sae, bore en hamerslae in die studio onnatuurlik stil raak. Toe sy die bak rubbermengsel los wat sy besig is om te roer en omdraai, staan hy daar. En hy lyk nog beter as in al sy movies saam. En Fransi sal dit nie sommer erken nie, maar sy het nie een misgeloop nie.
Sy drink hom in. Die karamelkleurige vel oor perfekte gelaatstrekke, daardie effens sardoniese trekkie om die mond, die eksotiese tatoes, alles. Maar veral die byna magiese misterie van die man. Die magnetiese krag waarmee hy onmiddellik die hele vertrek oorheers, is selfs sterker as waarmee hy die silwerdoek in enige van sy films in beslag neem. En tog straal daar ’n mensliewendheid, ’n sagtheid, wat amper grens aan skugterheid, uit sy gesigsuitdrukking terwyl hy elkeen in die vertrek stadig opsom, geleidelik intrek en uiteindelik heeltemal betower.
Aanvanklik sien hy haar nie eens raak daar eenkant in haar overalls en army boots voor haar werkstafel nie, maar dan ontmoet Franscheska Fouché en Matt Delmayer se oë bo-oor alles en almal om hulle. En net daar is hulle pure Gone with the Wind. Want verlief raak, lyk sover sy weet in alle eeue presies dieselfde. Scarlett O’Hara is nie ’n patch op ’n ademlose Fransi nie en Rhett Butler sou sy storie moes ken om die intense uitdrukking in Matt se oë na te boots. Die vonke spat behoorlik en almal kan sien dit kom nie van die Eskomkabels wat oral rondlê nie.
En hét die man nie ’n paar oë aan hom nie. Smeulend, sensueel, vlammend . . . Elke vrou op aarde sal getuig dat daar nie genoeg vurig romantiese woorde bestaan om Matt Delmayer se broeiende swartbruin kykers, wat nou met soveel erns op Fransi gerig is, te beskryf nie.
Selfs toe Patrick Muelle hom anderkant toe beduie om iets te wys, kyk hy op. Reg in haar oë. Fransi weet nie of sy vries of smelt nie. In haar wildste drome! Matt Delmayer? Haar kniekoppe voel vreemd jellierig, maar sy staan haar staan voor almal. Gelukkig dra sy vandag haar pas gewaste hare los en nie soos gewoonlik in ’n bolletjie geskroef agter haar kop nie. En nee, dit was nie omdat daar rumours in die studio gesweef het dat sy vanoggend ekstra parfuum agter haar ore en ’n tweede laag Desire Red op haar lippe gesit het nie. O nee. Die goeie feetjies was vanmôre bloot aan haar kant.
Sy haal diep asem en draai ietwat onwillig om na haar werkstafel. Nee, Franscheska! Jy moet besig lyk. Hulle moenie sien hoe gerattle jy is nie. Veral hy! Sy kan skaars sien, so bewe sy, maar toe sy fokus, is die bak gietmengsel waarmee sy doenig was vinnig aan ’t stol. Vaderland. Sy kan beslis nie bekostig om dit te laat verhard nie. Dis die prototipe wat sy skep sodat ander die afgietsels daarvan kan maak. Sy het tog al honderde sulkes gemaak. Hoe sal dit lyk as sy dit opneuk? Veral nóú!
Sy begin dadelik konsentreer om dit in die wagtende voorbereide matrys te giet. Versigtig. Daar moenie lugborrels vorm nie. Die bak is swaar. Stadig . . . stadig . . . tot heel bo. Mooi. Daarsy! Sy asem verlig uit en laat sak haar arms.
Toe sy opkyk, is Matt Delmayer halfpad by die deur uit diep in gesprek met Patrick Muelle. Oukei. Dis dan dít, dink Fransi en vee haar hande aan ’n lap af. Iets in haar voel onverwags swaar, afgesak soos loodgietsels.
Toe kyk hy om. Sy sien hoe sy oë oor die vertrek weer na haar soek. En hare vind. Haar hele wese hou asem op. Raak stil. Lig. Want die uitdrukking wat sy daar sien, slaan haar twyfel heeltemal weg. Hy mag dalk hierdie verre illusie op papier of filmdoek wees wat haar mond nog altyd laat kwyl het, oor wie sy selfs soms in swak oomblikke verspotte fantasieë opgebou het, maar daardie oë is dié van ’n vlees-en-bloed-man wat ’n vrou sien waarin hy nóú, hiér, belangstel. Dit bevestig alles. Belowe alles. Verander die onwerklike na ’n werklikheid. Maak die onmoontlike moontlik. Oë wat háár, Fransi, brandmerk vir homself. En net daar weet sy: Matt Delmayer sal weer van hom laat hoor.
Gelukkig weet sy mos daar bestaan min mans wat vir Franscheska Fouché kan weerstaan as sy die dag anders besluit het. En sy wat Fransi is, het nog nooit so seker gevoel oor enige besluit wat sy in haar een en dertig jaar geneem het nie.
Sy wil hierdie man hê.
Of hy nou die bekendste filmster is, of nie. Of haar pa nou gaan hou van sy tatoes of sy kop vol toiingrige vlegseltjies wat tot op sy gespierde skouers hang, sy mond wat amper te mooi is vir ’n man of die goue oorbel in sy regteroor ofte nie.
Sy wil hom hê.
2