Mooier as Marilyn. Anita du Preez

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Mooier as Marilyn - Anita du Preez страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Mooier as Marilyn - Anita du Preez

Скачать книгу

het skaars ’n bewerige potloodstrepie bokant elke oog, toe die drie my kamer binnestoom, Christine heel voor met ’n skinkbord wat sy sonder seremonie langs die honde neerplak.

      “Wil julle nie liewer in die sitkamer …”

      “Nee. Dis fine hier,” antwoord al drie feitlik gelyk, gevolg deur ’n ongemaklike stilte.

      “Koekie?” vra ek min of meer in Liz se rigting, want iemand moet iets sê in hierdie absurde situasie. Soos ’n Chekhov-toneelstuk met die dogter, die ma, die stiefma, die eks, al die verloëndes saam in hul onderskeie dubbele rolle in een vertrek. ’n Flippen tea party met Vincent as enigste gemene deler.

      “Hallo, Desiree.” Liz skud haar kop: “Nie vir my nie, dankie.”

      What was I thinking? Net ordinêre mense eet. Ek sien hoe Liz haar tee vat en met koninklike grasie op die enigste stoel in my kamer gaan sit. Nee … plaasneem. Dis after all ’n Queen Anne.

      Caz sak op die kant van my bed neer met haar tee en pluk haar foon uit. Net die tiek-tiek van haar vingers op die skerm en die geklingel van teelepels teen porselein val in die stilte. Liz neem fyn slukkies en ondersoek die dekor onderlangs met haar oë. Die trekkie om haar mond verraai hoe sy voel oor die feit dat haar dogter so tuis is op my bed. Plus, dis die eerste maal dat sy tot in my en Vincent se slaapkamer kom, besef ek, en dit trek nogal aan my hartsnare. Kan seker nie vir haar maklik wees nie. Hoe sou ek byvoorbeeld voel om te sien hoe die lakens lyk waar Vincent en Gloria … nee, o hel. TMI.

      “Hoekom antwoord jy nooit jou bleddie foon nie, Desiree?” breek Christine die stilte. “Ek het hoeveel keer al probeer bel!” Oom Piet en Antie Soes lig hulle koppe en gluur my ook beskuldigend aan.

      Ek onthou van my foon, buk af en soek effens duiselig op die mat. Dit lê in twee stukke onder die bed. Caz kyk op, vat die foon en sit dit aanmekaar.

      Dit lui toe sy dit na my toe uithou. Dis nie Vincent nie. Dis Gloria.

      En sy soek vir Vincent. Huilend. “Jammer dat ek jóú nou pla, van alle mense, Desiree, genuine,” pleit sy snuiwend, “maar is Vincent daar by jou?”

      Liz, Caz en Christine sit vorentoe, met hulle tee halfpad monde toe, gevries soos toe ek kleintyd “K-I-N-G spells KING” gespeel het. Al drie ademloos. Op pause.

      “Ek het hom gister laas gesien … en … jy?” snuif Gloria snotterig voort in my verstomde oor. Ek skud my kop asof sy my kan sien, want daar kom geen woord oor my lippe nie.

      “Waar is jy?” kry ek uiteindelik my stem.

      “Hier buite. In my kar.”

      “Voor my húis?”

      “Ja,” snuit Gloria haar neus hard. “Weet iemand dalk waar hy is?”

      Ek laat sak die foon op my skoot sonder om haar vraag te beantwoord. “Dis Gloria,” kondig ek onnodig aan vir my vasgenaelde gehoor van drie.

      “Laat haar inkom,” besluit Christine namens my. “Bly!” sê sy vir die honde en storm voordeur toe. Kyk nie eens om sodat sy kan sien hoe ek arms swaai om haar te keer nie. Sy is mos mal oor drama. Sy is boonop gewoond aan oorvat en ons ander sit dan verlam, en dié petalje is seker beter as Days of our Lives. Behalwe dat dit my donnerse lewe is. Hoe de hel kan enigeen verwag ek moet die flippen merrie hier …?

      “Hulle is almal hier binne,” hoor ek Christine by die voordeur. En toe ’n dikgehuilde, taamlik verfomfaaide Gloria in die slaapkamerdeur verskyn, verander die atmosfeer in die vertrek onmiddellik. Net daar is ek, Liz en Caz, wat helse issues ondermekaar het, in dieselfde span. Verenig oor Vincent. Almal kyk na Gloria. Die flippen flooze. Die vyand.

      “Haai shame, julle. Sy is erg getraumatiseer,” sê Christine agter haar.

      Gloria gaan beteuterd staan. Sy lyk nie goed nie. Pofferige oë, slap haartjies, vormlose ou sweetpakbroek, sloffies en akute desperaatheid is nie juis haar beste look nie. Die transformasie is so hartverskeurend, juis omdat ek dit dadelik herken. Ek moet my afvra hoe ek die arme skepsel nou kan verstoot? Al hét sy ook by Vincent geslaap. Dis dan hoe ek al gelyk het.

      Toe ek na Liz se kant toe kyk, weet ek dit herinner haar aan meer as twaalf jaar gelede toe dit háár beurt was. En ek vang Caz se oog, en sien die onthou van ons albei se aftakeling in haar verbete uitdrukking. En vir die tweede keer binne minder as ’n minuut verander die gevoel in die vertrek.

      “Die donnerse mislike vark!” snuif Gloria en rem haar dun, te kort truitjie se moue af oor haar polse terwyl sy ons een vir een aankyk met maskarastrepe onder bloedrooi Bambi-ogies. “Mens kan niks glo wat hy sê nie!”

      “Well observed, my dear.” Liz hys haar op tot haar volle lengte. “Caz, gaan kry gou nog ’n koppie in die kombuis, asseblief, my kind. Vir Gloria.”

      “Nee wat, gaan haal liewer die boks tissues in die badkamer,” sê Christine, net om duidelik te maak wie die leiding hier neem. “Ek vat hierdie skinkbord kombuis toe en kry vir ons glase. En vodka. Ek dink nie tee gaan die ding doen nie.”

      En skielik is daar vyf. Vier van ons met ernstige griewe teen Vincent, plus Christine wat net saam is vir die ride. Sewe as jy Oom Piet en Antie Soes bytel.

      4

      “Goed, lyk my ons stem almal oor een ding saam,” sê Christine terwyl sy gewigtig haar plek inneem op die Queen Anne-stoel waaruit Liz pas opgestaan het. Die hondjies spring van die bed af en gaan sit onderdanig by haar voete.

      “En dit is?” vra Liz half vanuit die hoogte waar sy die ys staan en klingel in haar vodka-en-lemoensap wat Christine uitgedeel het.

      “Wel, dis pretty obvious,” sê Christine, wat van iewers af ’n pen en notaboekie opgediep het, “dat dinge nie so kan aangaan nie. Vincent de Lange moet in die bek geruk word!”

      Almal praat skielik gelyk, asof sy ’n genie uit ’n bottel losgelaat het. Soos vinke.

      “Wow, dames. Wag. One at a time, please!” keer die selfaangestelde leidster van hierdie nuwe klub vanuit haar voorsitterstoel.

      Maar almal praat weer op een slag.

      “Wag nou, wag nou, julle!” keer Liz met gesag in haar stem, en almal bly stil. “Kyk, dis hoe ek die saak sien.”

      “Ja, maar …” val Christine haar in die rede, maar dit help nie. Christine mag dalk haar klere in Parys koop en haar skoene in Italië, maar al laat sy nou ook haar naels in Peru doen, Liz laat haar nie afsit nie. Mens kan sien sy was al voorvrou op verskeie komitees.

      “Laat ek klaar praat, asseblief. Ons het elkeen ons eie appeltjie te skil met Vincent. Hy is Desiree se man – is dit steeds – en my eks, Caz se pa en Gloria se …” Haar mondjie plooi vieserig. “Wel, julle weet wat ek bedoel.”

      “Not really.” Christine skribbel verwoed in haar boekie. Skynbaar is dit ’n bleddie vergadering waar iemand notule moet neem.

      Liz kyk in haar rigting. “O ja, en dan is daar jy, Christine. Hoe presies sou jy jou rol hier verduidelik?”

      “Ek?” Christine sit regopper om die uitdaging af te weer. “Ek is hier as … jare lange vriendin … e … wat veg vir vroueregte in die algemeen en meer spesifiek in hierdie

Скачать книгу