Brand. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Brand - Fanie Viljoen страница 2
“Hei, Estie, soek jy ’n date?” roep die eerste ou toe sy wegstap. “Ons kan begraafplaas toe gaan. Jy sal dit like.”
Estie knyp haar oë toe. Die ouens se gespot vou soos ’n swaar kombers om haar. Die begraafplaas … Sy en haar pa gaan nog af en toe soontoe om blomme op haar ma se graf te sit. Sy sal November al twee jaar dood wees.
Nee, sy moenie by die skool aan haar ma dink nie. Dis nog ’n seer wat sy in haar lyf moet wegsteek.
Vinnig maak sy haar uit die voete. Daar is ’n plek op die skoolgrond waar sy altyd gaan sit wanneer sy van die kinders af wil wegkom: die trappie by die gym se agterdeur. Pousetyd gooi die boom langsaan ’n lekker skaduwee oor die trap. Niemand kom ooit daar nie, nie eens die ander rokers nie.
Ingedagte gaan sit sy, haar skouer teen die reling. Met haar maer bene onder haar ingevou, haal sy ’n pakkie sigarette uit haar baadjie se binnesak. Sy klap die boksie oop, kry ’n sigaret en steek dit aan. Diep trek sy die rook in. Die kooltjie gloei oranje en laat die kalmte deur haar walm. Dis beter. Sy rook nie omdat dit cool lyk nie. Die sigaret help om haar kop stil te kry. Sy vat nog ’n teug, dan haal sy haar selfoon uit.
Sy gaan op Instagram, daarna op Facebook. Sedert vanoggend volg vier ouens haar terug op Instagram, en drie ouens het haar Facebook-vriendskapsversoeke aanvaar. Sy ken hulle van geen kant af nie, maar hulle is nou haar vriende. Omdat hulle vriende is, het Facebook hul profiele oopgegooi.
Sy is by die eerste ou, Deon, s’n en loer nuuskierig rond in sy lewe. Almal doen mos Facebook stalking, sê sy vir haarself. Deon is nog op skool. Hy bly in Kaapstad, maar hy lyk soos iemand wat in ’n Hollywood-fliek sou kon speel: fris gebou, blou oë, blond.
Eers lees sy Deon se statusse van die afgelope maand of twee.
Hangin’ out with my buddies.
Early mornings after a late night are the worst.
What happened to the weekend?
Daar is tonne meer soos hierdie. Estie lees omtrent almal. Af en toe bekruip ’n glimlag haar. Dis asof sy die ou ken, al het hulle nog nooit ontmoet nie.
Later gaan sy na sy foto’s. Sy speel met die punt van haar hare oor haar lippe terwyl sy deur elke album van sy lewe blaai. Sy sien hoe hy en sy pelle partytjie hou, aan sport deelneem, lag. Sy kyk hoe wonderlik sy lewe is. Hoe gelukkig hy is. Dit maak haar ’n bietjie hartseer, en op ’n vreemde manier ook ’n bietjie gelukkig.
Sy hoor iemand van die stoep se kant af aankom. Flippit! Sy laat val die selfoon vinnig in haar sak. Druk haastig die sigaret, wat al kort tussen haar vingers brand, dood. Die stompie skiet sy eenkant toe terwyl haar hart teen haar ribbes stamp.
Sy probeer voorgee dat alles oukei is. Sy sit mos maar net op die trap, dis al.
Uit die hoek van haar oog sien sy die ou. Hy loop koponderstebo en skop-skop na die gras terwyl hy verbyloop.
Estie het hom al by die skool gesien. Hy is in een van die ander graadelfklasse. So ’n weirderige ou met ’n weirderige donker kyk. Sy naam is Adrian of iets. Adrian Foster, dink sy. As sy reg onthou, het hy ’n jonger suster en ’n ouer broer. Die broer en suster is van daardie tipe leerders wat jy gereeld met skoolopening op die verhoog sien.
Vandag kry hulle ’n simpel ou medalje, môre kry hulle ’n diploma. Dis seker hoekom hulle so ’n helse scheme van hulleself het: omdat hulle sulke totale uitblinkers is.
Estie is seker dan ’n “insinker”. Sy doen niks buitemuurs of iets wat haar sal laat uitstaan nie. Sy is net hier.
Dalk soos Adrian. Hy was nog nooit op die verhoog nie. Sy weet nie eens of hy aan sport deelneem nie. Sy gaan nooit na die skool se verpligte sportbyeenkomste toe nie, al dreig die onderwysers hoe. Dis ’n pot tjol. Sy wonder of Adrian na sulke goed toe gaan. Eintlik weet sy niks van hom af nie.
Ingedagte grawe Estie in haar sak vir ’n pakkie kougom. Sy druk ’n stukkie in haar kies om die sigaretrook weg te steek. Dan kyk sy op na Adrian. Hy gee so ’n effense glimlag in die verbyloop, maar hy lag nie vir haar nie. Dis net ’n glimlaggie, soos in: Hallo, ek sien jou, Estie.
’n Hallo-ek-sien-jou-glimlag sal sy enige dag vat. Enige hartseerdag soos vandag.
Adrian Foster. Vanmiddag gaan sy hom op Facebook soek.
2
Arian lê later die middag uitgestrek op die sitkamerbank. Hy doen al die afgelope halfuur niks nie. Die halfure voor dit ook: niks. Hy is kaalvoet en dra weer gister se swart jeans en sy gunsteling- T-hemp met ’n brandende Mickey Mouse op. Netflix is aan op sy tablet, maar die reeks wat hy al heelmiddag vreetkyk, het teen episode vier simpel begin word, daarom dwaal sy aandag en word die klank net agtergrondgeraas totdat ’n kar se deur buite toeklap.
Oomblikke later kom sy broer, Janco, en suster, Liny, vol lewe ná die sportoefening by die voordeur in.
“Dankie tog ons is by die huis! Dit voel of my maag homself opvreet van hongerte,” sê Liny. Sy gly haar tas van haar rug af en laat val dit waar almal oor die ding sal moet trap om by die kombuis te kom.
Janco slinger sy swemsak in Arian se rigting waar hy op die naat van sy rug op die bank lê. Die sak met die paddapote, swembril en nat handdoek land met ’n slag op Arian se maag.
“Komaan, Janco!” Vies klap Arian die ding af.
“Ag sorry, bru. Ek het jou nie gesien nie.” Janco gee ’n onskuldige spotlag.
“Ha-ha, baie snaaks. Maak dan flippenwil jou oë oop.”
“Julle vloek nie in my huis nie,” sê hulle ma toe sy ook binnekom. Haar kort blonde hare is dieselfde kleur as Liny s’n. Fyn kommerplooie kreukel om haar oë en tussen haar wenkbroue. Sy is ’n ouditeur en sit heeldag en frons vir ’n spul syfers en belastingberekeninge. Saans bring sy die werk huis toe in daardie skootrekenaarsak wat nou aan haar skouer rem. Vanmiddag is haar hande ook vol Pick n Pay-sakke.
“Dis nie ek wat vloek nie, dis Arian,” sê Janco.
“ ‘Flippenwil’ is nie vloek nie,” kap hy terug.
“Dit ís in my huis,” sê sy ma. “Stop dit onmiddellik.”
“Jy het gehoor wat Ma sê, Arian.” Janco grinnik. “Stop dit onmiddellik.”
“En lê jy al weer, Arian?” vra sy ma toe sy verbystap kombuis toe. Sy wag nie vir ’n antwoord nie, want dis so duidelik soos ’n gebreekte selfoonskerm.
“Hy lê altyd,” sê Janco en klap Arian teen die agterkop. “As hy nog rustiger raak, beland hy in ’n koma.”
Arian kan opspring en hom terugklap. Maar hy doen dit nie. Hy mors nie sy energie nie.
Janco voel seker beter as hy ander mense kan slegsê of seermaak. Die onnies en kinders by die skool ken nie hierdie kant van hom nie, maar Arian ken dit. Hulle deel ’n kamer, netjies in twee gedeel met ’n stuk maskeerband. Arian se deel is by die venster, en Janco s’n by die muur sodat hy sy magdom sertifikate kan uitstal.
“Los tog vir Arian,” sê Liny en sug. Arian staan in elk geval op