Brand. Fanie Viljoen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Brand - Fanie Viljoen страница 4

Brand - Fanie Viljoen

Скачать книгу

rooi, karamel en bruin gekleur. Haar lippe is altyd dieprooi. Sy is so oud soos Estie se ma nou sou gewees het. Sy gebruik duur gesigsrome en goed om die plooie weg te hou. Haar klere sit ook gedurig te styf. Dis tienerklere, enige swaap kan dit sien. Dis asof sy jonger probeer lyk as wat sy is. Sulke valsheid laat Estie se nekhare rys. Sien haar pa dit dan nie raak nie? En hy betaal vir alles: die rome, die grimering, die klere.

      “Estie, die kos …”

      Sy pluk die oorfone uit en druk haar selfoon onder die duvet in, maar tannie Charlene het dit gesien.

      “Wat maak jy?”

      “Niks nie, tannie.”

      “Gee vir my jou selfoon.” Sy hou haar hand met die maer vingers en gemanikuurde naels uit.

      “Hoekom?”

      “Ek wil net ’n bietjie kyk.” Haar wenkbroue lig. Twee rye plooie verskyn op haar voorkop.

      “Nee.”

      “Estie, gee jou foon.”

      “Dis privaat.”

      Tannie Charlene trek haar skouers ergerlik terug. “Jy is nog ’n kind.”

      “En tannie is nie my ma nie.”

      “Niks is privaat nie.”

      “Gaan kyk na jou eie selfoon.” Hierdie vrou met haar stywe klere en kamtige mooi maniertjies sal nie haar ma se plek vat nie. Estie wens partykeer haar pa wil die vroumens net los en klaarkry. Sy en haar pa kan alleen regkom. Hulle het nie hierdie vrou in hulle lewens nodig nie. Maar haar pa dink seker nie so nie. Estie sien hy dra nie meer sy trouring nie. Hy het dit altyd aangehad, selfs ná haar ma se dood. Nou lê dit in sy bedkassielaai. Estie het dit daar gekry.

      “Wil jy hê ek moet jou pa roep? Hy kan kom kyk wat jy doen.” Haar bolip beweeg soos ’n rooi slang.

      “Nee,” antwoord Estie sag.

      “As ’n mens iets so vinnig wegsteek, is jy met onheilighede besig. Ek lees wat sê hulle op die internet. Hoe tieners na lelike goed kyk en kaalfoto’s neem. Die mense sê jy moet weet wat op jou kinders se fone aangaan.”

      “Ek sê jou, jy is nie my ma nie. Ek is nie jou kind nie.” Estie sê dit harder, met meer byt.

      Die ergerlikheid blits in tannie Charlene se oë. “Jy moet werklik dink aan jou woorde, Estie. Dit maak seer.”

      Dit maak seer? Estie sou lag as sy nie so kwaad was nie.

      Tannie Charlene buk vinnig verby haar, lig die duvet op en gryp die selfoon. Estie keer verniet. Tannie Charlene kyk na die foto op die skerm. Haar wenkbroue lig weer. “Ek was reg. Wie is hierdie?”

      “Net ’n ou.”

      “Sy naam?”

      “Adrian … um, Arian.”

      “Hoe ken jy hom?”

      “Hy is in my skool.” Estie sê dit snedig, vou haar arms en val terug teen die kussing.

      Tannie Charlene se vingers vee oor die skerm. “En hierdie ander mense?”

      Estie sit weer regop. “Gee my foon, tannie.”

      “Tweeduisend negehonderd en twaalf vriende … Wat! Ken jy soveel mense?”

      “Ja.”

      “Almal?”

      Estie wil haar selfoon teruggryp, maar tannie Charlene ruk dit weg. Haar oë staan stokstyf van skok. “Hulle is seker nie almal in jou skool nie?”

      “Tannie sal nie verstaan nie.”

      “Wie is die mense, Estie?”

      “Dis net mense.”

      “Maar ken jy hulle?”

      “Party.”

      “Hoeveel van hulle?” Tannie Charlene wag vir ’n antwoord.

      Estie rol haar oë. Sy sê nie ’n woord nie.

      “Hóéveel van hulle?”

      “Party,” herhaal Estie.

      “Stuur hulle vir jou boodskappe?”

      “Partykeer.”

      “Watse boodskappe? Oor siek goed?”

      “Tannie bedoel seks? Sê dit maar. Ek weet wat dit is. Ons leer daarvan in die skool. En ek hoor vir tannie en my pa –”

      “Estie!”

      Op ’n manier hou Estie daarvan om die skok op haar gesig te sien.

      “Jy sê dit nie!”

      “Tannie wou weet. En die antwoord is nee. Ek praat nie met my Facebook-vriende oor seks nie.” Estie kan sien sy glo haar nie.

      “Ek sal met jou pa moet gesels.” Tannie Charlene gee die selfoon terug. Sy gee Estie nog ’n donker kyk. “Jy kan kom eet. Die kos is reg.”

      “Ek is nie honger nie,” sê Estie vinnig. Sy vee tannie Charlene se vingermerke op haar selfoonskerm met haar T-hemp af.

      “Jy moet eet.”

      “Ek sal later.”

      “Estie …” sê tannie Charlene. Sy laat die naam tussen hulle hang. Dan steek sy haar hand uit om aan Estie se wang te vat, maar Estie ruk weg. “Ek wil nie baklei nie.” Estie rol weer haar oë. “Jy weet jy kan met my kom praat as daar ’n probleem is.”

      “As tannie my ma was, sou ek, dankie.” Estie skuif weg. “Los my nou.”

      Die plakkaat van Arctic Monkeys waai op toe tannie Charlene die deur agter haar toemaak. Uit die kombuis sing Queen weer “I want to break free”. Estie druk die oorfone terug in haar ore. Sy staar na haar selfoon, maak seker al die vrou se vingermerke is af.

      Dan gaan sy terug na Arian se foto. Lank staar sy daarna totdat die woede wegsyfer. Uiteindelik plooi ’n glimlaggie om haar lippe. Dis net effens, soos ’n Hallo-ek-sien-jou-glimlag.

      3

      Arian lê met sy gesig na die muur en slaap. Grysblou lig val deur die spleet tussen die gordyne oor sy opgetrekte bene. Hy is gedompel in ’n droom waarin hy in die skoolportaal sit en wag om die berader te sien. Die lugversorger dreun sag. Om die tyd om te kry, maak Arian al die tydskrifte in die ontvangsarea bymekaar. Hy stapel hulle opmekaar op die koffietafel. Die skool se ontvangsdame kyk eers op toe Arian ’n sigaretaansteker uithaal en die hoek van die onderste tydskrif aan die brand steek.

      Meteens skrik Arian helder wakker. Dis asof die vlamme nog in sy kykers brand. Hy sit regop en tuur die donker in na waar sy skootrekenaar se blou kragliggie flikker. In die enkelbed

Скачать книгу