Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Israel reeks: Omnibus 1 - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 14

Israel reeks: Omnibus 1 - Marzanne Leroux-Van der Boon Israel-reeks omnibus

Скачать книгу

weet nie presies waarom nie, maar hy voel hy moet eerder nie vir haar sê dat hy van môre af by Ruwth gaan bly nie.

      “Gaan slaap nou, Mamma,” sê hy vir haar. “Is Hannes daar?”

      “Hmm.”

      “Gaan slaap nou. Alles sal regkom. My kaart is amper klaar.”

      “Marc!”

      “Dis oukei, Mamma, ek is veilig. Dis nie halfpad so gevaarlik hier soos die media dit maak nie. Niks gevaarliker as in Suid-Afrika nie. Daar word baie meer mense op ’n dag doodgemaak as hier. Ek is baie versigtig, ek belowe.”

      Hy hoor Hannes die binnefoon optel. “Marc,” kom sy rustige stem tussen hulle in, “jy lewe nog, broer! Hou die vlag hoog, ek sal na jou ma omsien.”

      “Dankie,” sug hy verlig.

      Mara se stem het ook na normaal teruggekeer. “Kyk waar jy loop!” roep sy nog.

      Toe dui ’n skril geluid aan dat sy kaart verstryk het, en hulle word summier afgesny.

      Marc kyk na die laataandnuus. Daar is ’n oorsig van die twee weke lange selfmoordbomaanslae. President Bush spreek met ’n bekommerde gesig sy frustrasie uit oor die voortgesette geweld in Israel. Het Cheney en Zinni dan nie die grondwerk vir ’n skietstilstand gelê nie? Daar is fotomateriaal van die agtienjarige Joodse meisietjie wat in ’n koopsentrum in Kfar Saba deur ’n terroris doodgeskiet is. ’n Ma gooi haarself oor die kind se vlaggedrapeerde kis neer, met hande in die blou-en-wit Ster van Dawid geklem. Jasser Arafat se Fatah-beweging aanvaar verantwoordelikheid daarvoor. Daar is fotomateriaal van die sewe slagoffers van die busbom wat begrawe word. Dan flits fotomateriaal van die chaos in King Georgestraat waar ’n mensbom homself naby die Ben Yehuda-gebied opgeblaas het. Drie mense is dood en meer as tagtig gewond. In ’n somber stem rammel die verslaggewer af watter busroetes almal daarvandaan vertrek: Rehavia, die German Colony en Gilo. Die al-Aksa-martelaarsbrigade aanvaar verantwoordelikheid. Alle vredesonderhandelinge tussen Israel en Palestynse beamptes is onmiddellik opgeskort. “King George is so sentraal as wat jy kan kry in Jerusalem se middestad,” verklaar die nuusleser. “Net op in die straat van waar die Sbarro-Pizzeria dit ontgeld het.”

      Weer is daar fotomateriaal van die bomontploffing in die Moment-kafee. Dit is skrikwekkend om die verwoeste plek te sien waar Rivkah was. Waar haar twee vriende albei omgekom het. Twee maande en vier dae voor hul troue.

      Jerusalem

      25 Maart 2002

      01:15

      Nie op die bus ry nie. Nee, sê Ruwth. Is daar iets van Mara se skril vrees ook in háár stem? R-u-w-t-h. Ek het ’n grootmoeder in Jerusalem. Ek is ’n Jood met ’n grootmoeder in Jerusalem. Ek is ’n Afrikaner met ’n oupa op Stellenbosch. Ek het ’n pa gehad wat gay is. Ek het ’n meisie gehad wat ’n hoer was. Oester-my-oester, moet net nie weer toegaan nie, het sy vir my gesê. Toe’t ek oopgegaan. Waarom het ek so oopgegaan vir R-u-w-t-h, my grootmoeder, my Joodse grootmoeder in Jerusalem? In trane versmelt? En sy? Haar seun, het sy gesê, is ’n pastor? Ek het verkeerd gehoor, hy moet ’n rabbi wees. ’n Joodse pastor?

      En Rivkah het donker, donker hare soos Nicola. Klein handjies wat ’n ambulans bestuur en ’n Kalatsjnikof kan hanteer. Ek sal haar nie vertrou nie.

      Dis 01:48 en die stad se asem jaag nog angstig.

      Vyf

      Die kamer wat Ruwth vir hom reggemaak het, het ’n balkon. ’n Klein, smal balkonnetjie waarvandaan hy, as hy goed kyk, Betlehem in die verte kan sien lê. Die sesverdiepinggebou waarin die woonstel is, staan tussen baie soortgelykes in Oos-Talpiot: regop sandsteengebou, omring deur ’n netjies versorgde tuin en vlak by die bushalte in Isaac Rembastraat. As jy die kans wil waag, kan jy oor die Haas-Promenade en deur ’n Arabiese buurt loop, af na die Ou Stad toe. Voorlopig skud Ruwth nog haar kop negatief oor so ’n plan, maar Marc weet vir seker dat hy dit binnekort tog gaan waag.

      Gister teen die middaguur het sy hom by die Jaffa-poort afgelaai en hy het self sy weg na die Kotel gevind. Eers het hy op ’n begeleide toer met die ondergrondse tonnel, al met die muur langs en onder die Arabiese kwartier van die Ou Stad, gegaan – ’n staptog wat hom geweldig geïnteresseer het. Maar die res van die middag, totdat hy haar weer sesuur in die straat voor die Damaskus-poort ontmoet het, het hy by die Klaagmuur met sy sketsboek deurgebring. Daar was soveel wat hy wou vaslê dat die ure verbygevlieg het.

      Tog was hy heeltyd bewus van die baie soldate wat die gebied patrolleer en het sy oë kort-kort tussen die olyfgroen uniforms na Rivkah se figuurtjie gesoek. Maar sy was nie daar nie. Dit het hom op ’n vreemde manier teleurgestel. Die soort teleurstelling oor ’n vrou, wat hy geglo het hy in die jare ná Nicola afgesweer het. Maar hy het hom nie daarteen verset nie. Om ’n onbepaalde rede was dit nie so ’n bedreiging soos altyd nie. Tussen al die figure deur wat hy gesit en teken het, het haar gesig meer as een maal opgedoem. Dan het hy die skaduwees onder haar oë sag met sy duim inskakeer. En onthou hoe die verwoeste Moment-kafee op televisie daar uitgesien het. Hy het haar klein hand, verdwerg in dié van haar broer, geteken voordat hy weer opgekyk het na die yeshiva-student wat met so ’n vaart verbygeloop kom dat sy peyot verby sy ore stroom. Hy’t sy hoed met die een hand vasgehou en sy dunraambrilletjie met die ander op sy neus vasgedruk sonder om sy spoed te verminder. Marc het hom met vinnige maar sekure hale geskets. Sodat die swart-en-wit figuur uit die wit bladsy opgespring het nog voordat die man die muur bereik het. Marc kon self sien dat dit goed was en sy hart het opgewonde in sy binneste gebons.

      Toe het hy op die ingewing van die oomblik Rivkah se selnommer geskakel. Miskien het die buitengewone blydskap wat deel van hom geword het, hom so onverskrokke gemaak.

      Haar stem het tussen ’n geroesemoes van verkeersgeluide deur na hom toe gekom. “Marc, is dit jy?”

      “Ek, ja.”

      “Ek wou jou ook vandag bel.”

      “Nou het ek gebel.”

      Sy’t gelag. “Waar is jy?”

      “Net waar jy my die eerste keer gekry het.”

      Sy klik met haar tong. “Teken jy nog steeds?”

      “Nog steeds. Waar’s jy?”

      “Beheerpunt in Ramallah.”

      “Sjoe.”

      “Hier gaan nie op die oomblik veel aan nie.”

      “Ek hoop jy’t jou koeëlvaste baadjie aan.” Dit was wonderlik maklik om met haar te praat.

      Sy’t weer gelag. “Ek het hom aan. Marc.”

      “Hmm?”

      “Wil jy Vrydagaand by ons huis kom Shabbat vier?”

      Die sirene van die een of ander sekuriteitsvoertuig gil tussen hulle deur.

      “Wat was dit?” vra hy verskrik.

      “Weet nie. Het jy gehoor wat ek vra?”

      “Dit sal wonderlik wees.”

      “Is jy nog in Kikar Zion?”

      ’n

Скачать книгу