Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Israel reeks: Omnibus 1 - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 17
Die aand ná ete is dit so koud dat Ruwth die verwarmer aanskakel. Buite die venster flonker die stad se ligte oor die heuwels van Jerusalem.
“Ek wil jou van myself vertel, Marc, anders bly ek ’n enigma vir jou. Ek kan sien jy verstaan nie hoe al die stukke inmekaarpas nie. Miskien is dit ook nodig vir jou om beter te begryp wie jy is, waar jy vandaan kom.”
“Ek wil vreeslik graag hoor.”
“Nou waar begin ek?” Sy kruis haar bene ingedagte, leun terug in haar groot stoel. “Heel voor, waarskynlik.”
“Ek dink so.”
Sy glimlag vir hom. “Jy weet dalk al ’n bietjie?”
“’n Heel klein bietjie.”
Sy laat haar kop teen die hoë rugleuning van die stoel sak. Haar hande lê los in haar skoot gevou. “Ek is ’n Duitse Jood van geboorte. En ’n oorlewende van die Shoah, of soos julle sal sê, die Holocaust. Een derde van die wêreld se Joodse bevolking is met die Shoah uitgemoor.”
Sy sug, vee oor haar voorkop asof sy moeg is. “Ek praat nie graag oor hierdie dinge nie, Marc, maar ek het die gevoel dat jy dit moet hoor.” Sy wag nie om te kyk wat sy reaksie is nie, dis asof sy half in ’n ander wêreld in beweeg. “Ek het in Berlyn grootgeword. Een van vier kinders. Drie broers en toe ek. ’n Meisie. My vader was ’n bekende regsgeleerde. Ons huis het aan dié van my grootvader gegrens. Die sinagoge het in sy huis bymekaargekom. Ons was ’n groot familie, welaf, gelukkig. In die jare voor Hitler se magsoorname was die Jode ’n gerespekteerde gemeenskap. Maar toe kom Adolf Hitler aan bewind …”
Sy kyk ’n paar oomblikke deur die venster na buite. Daar waai ’n paar sagte reëndruppels teen die ruit vas. “Ek dink die eerste keer wat dit tot my as kind van twaalf, dertien deurgedring het dat iets verskrikliks aan die gebeur was, was toe ons onderwyseres al die Joodse kinders uit haar klas gejaag het. ‘Loop, julle vuil Jode,’ het sy geskree, ‘ek wil julle nie weer in my klas sien nie. Julle wat die Here vermoor het.’ My gesig is daardie dag stukkend geslaan, my bene blou geskop. My broers het nog slegter daarvan afgekom. My beste maatjie van baie jare se ouers het haar nie meer toegelaat om na my toe te kom nie. Ons moes almal geel sterre aan ons klere vaswerk vir wanneer ons op straat verskyn. Banke in die park het bordjies gehad: ‘Geen Jode’. In die koerante het die vreeslikste karikature van Jode verskyn. Ons het die sondebokke geword van alles wat met die volk verkeerd gegaan het. Op Kristallenag in 1938 is al die vensters van ons huis stukkend gegooi. Ons is almal in die agterplaas bymekaargemaak waar my pa geslaan is totdat hy op sy knieë neergesak het. Dit was verskriklik vir ons kinders om dit te sien. Toe my oudste broer hom wou ophelp, is hy byna doodgeskop. My grootvader se huis is half afgebrand omdat die sinagoge daarin was. Al die ander sinagoges in die stad is verwoes. Kort daarna het hulle begin om mense na konsentrasiekampe weg te voer. Eers die ouer mense …”
Sy sit weer ’n paar oomblikke stil deur die venster na buite en kyk, en Marc sien die weerkaatsing van haar gesig wit uit die ruit na hom terugkyk. Hy praat nie tussenin nie omdat hy nie heeltemal seker is of sy van hom bewus is nie.
“My pa en broers is op een dag weggeneem. Ons het later vasgestel hulle is in Treblinka. Hulle is daar vermoor. Ek het nie een van hulle ooit weer gesien nie. Ek het saam met my ma die dodemars na Bergen-Belsen meegemaak ’n paar maande nadat hulle weg is. Daaroor wil ek nie juis praat nie. So baie mense is op daardie mars doodgeslaan of doodgeskiet omdat hulle nie verder kon nie. Ek weet nie hoe ons dit gemaak het nie. Maar ons het die kamp gehaal. Die kamp … hoe beskryf ’n mens dié hel? Werk van donker tot donker. Een sny brood en ’n beker koffie, af en toe ’n beker sop. Die ure en ure wat ons moes staan om getel te word … En altyd moes ons van die wagte hoor: ‘Dis in Jesus se Naam dat ons dit doen. Julle wou Hom mos doodmaak. Jesus haat julle!’ My ma is daar dood. Tifus.” Sy laat haar oë ’n paar oomblikke sak, maar toe kyk sy hom vol aan. “In 1943, as tiener, het een van die kampoffisiere my as sy persoonlike prostituut in sy kwartiere op die kampterrein ingeneem. In dié tyd het ek ’n aborsie gehad. Op vier maande omdat ek dit weggesteek het. Gewoonlik is die meisies doodgemaak as dit aan die lig kom dat hulle swanger was. Hy het my beskerm en na ’n dokter in die stad geneem om die baba … weg te neem. Hy het my by hom gehou tot die bevryding toe. Dit is hoekom ek oorleef het.”
Marc kyk haar stilswygend aan. Hy besef dat elke woord wat hy nou sê banaal sal klink. Hy sien hoe haar oë stadig met trane vul, en hy byt op sy tande om syne terug te hou, maar dit help nie. Voordat hy homself kan keer, staan hy vinnig op en gaan sit op die mat by haar knieë. Hy voel haar hande in sy hare.
“Ek het met so ’n ontsaglike skuldgevoel oorleef. Goed gevoed en warm geklee, die offisier se hoer. Ek het bly leef, terwyl ander wat dit nie wou doen nie, doodgemaak is. Ek het geleef en ses miljoen het gesterf. Ek wat geen reg gehad het om te leef nie.” Sy skuif haar truimou op en wys hom die aaklige swart teken op haar binnearm met die woorde: Nur für Offizieren.
Marc se asem slaan weg. Hy druk sy kop teen haar knieë. “Kan dit nie verwyder word nie?”
“Dit kan. Maar ek wil nooit vergeet hoe groot die genade is wat aan my betoon is nie.”
Dis ’n rukkie stil, toe praat sy weer sag. “Ek het die naam ‘oorlewende’ gehaat. Maar ek weet nou dat ek oorleef het omdat Iemand oor my wag gehou het. Toe het ek dit nie besef nie. Mense het my gevra: Waar was jul God toe dit alles gebeur het? Ek het geen antwoord gehad nie. Ek het ophou glo in alles waarin ek van my geboorte af grootgemaak is. My ouers en al die mense om my het vir my gelieg oor God. Ek het Jesus met ’n passie gehaat. Dit was die mense van sy kerk wat hierdie dinge aan ons gedoen het.”
“Ek het nooit geweet dat dit aan die Jode vertel is nie.”
“Al die afgryslike dinge wat in die laaste twee duisend jaar aan die Jode gedoen is, was in die Naam van Jesus – omdat ons Jesus doodgemaak het.”
Marc skud sy kop ongelowig. Hy bly sit op die mat, maar hy leun nou met sy rug teen die ander stoel sodat hulle na mekaar kan kyk. Sy stoot die verwarmer met haar voet nader aan hom en hy sien dat haar gesig weer ontspanne is.
“Ná die oorlog het ek na familie in Duitsland gaan soek. Daar was net ’n oom oor. Hy het ook sy hele gesin verloor. Hy het my universiteit toe gestuur en daarna gesorg dat ek ’n goeie aanstelling by ’n ingenieursfirma kry. Daar was nie veel Duitse mans oor om die werk te doen nie.” Sy glimlag flou. “Dis waar ek Lucas leer ken het. Toe ek besef hy gaan nie by my bly nie, dat hy teruggaan na sy vrou in Suid-Afrika, wou ek dié baba ook laat … wegneem. Nou, as ek daaraan terugdink, meen ek dit was waarskynlik meer ’n dreigement in die hoop dat hy by my sou bly. Maar God het die baba gespaar en al het ek haar nooit gehad nie, het ek ná byna vyftig jaar vir jou. Sy genade is onverklaarbaar. Hodu l’Adonai ki tov …”
“Maar jy het tog weer by God uitgekom?”
Sy glimlag effens. “Die jaar nadat Lucas weg is, is ek Amerika toe. Daar het ek my man kort daarna ontmoet. Shimon was ’n mediese dokter in Pensacola en het die Shoah vrygespring omdat sy ouers in 1935, toe dinge begin skeef loop het, betyds uit Duitsland Amerika toe padgegee het. Hulle het die tekens wat ons verontagsaam het, ernstig opgeneem. Ons is in 1959 getroud. Ek was toe al nege en twintig, en ons het dadelik met ’n gesin begin. Ofer is in 1960 gebore en Uri drie jaar later. My man was ’n gelowige Chassidiese Jood, maar ek het nie eens meer sinagoge toe gegaan nie. Ek het in niks meer geglo nie. Toe Ofer agtien was, kom hy een aand doodstil by die huis aan. Ek onthou hoe hy daar gesit het asof hy iets wil sê en tog ook nie weet hoe nie. Maar meteens het hy uitgebars: ‘Ek het Jesus aangeneem. Hy is die Messias.’”
Sy skud haar kop. “Ek