Harry Griesel 2: Die spookplaag. Sonja Kaiblinger
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Harry Griesel 2: Die spookplaag - Sonja Kaiblinger страница 4
Otto maak soos sy sê. Dit vat ’n rukkie voor sy oë aan die bril gewoond is, maar dan herken hy vir Emily wat voor hom staan.
“En toe? Wat sien jy?” wil Emily weet.
“Dis alles ’n bietjie uit fokus.” Otto trek sy oë op skrefies. “Maar andersins lyk dinge normaal.” Hy voel ’n bietjie teleurgesteld. Hy weet nie wat hy eintlik verwag het nie. Miskien dat die wêreld deur die bril pienk sou lyk, of dat alles omgekeer sou wees soos wanneer jy in ’n spieël kyk. Die ding is nie juis opwindend nie.
“Die bril pas jou glad nie,” is Molly se kommentaar.
Sir Tony het intussen ophou hoes. Otto draai om sodat hy met die spook kan praat. “Wat dink jy, Tony?”
“Whaaaaaa!” Soos blits spring Sir Tony tot op die boonste sport van die leer wat by die boekrak staan. Hy trek sy bene tot teen sy bors en begin bibber en beef. Hy staar na Otto asof hy in ’n harige monster verander het.
Otto loop ’n paar treë in sy rigting. “Wat gaan met jou aan, Tony? Jy skrik nie gewoonlik so maklik vir iets nie.”
Sir Tony probeer homself nog kleiner maak. Groot sweetdruppels rol teen sy voorkop af. “Moenie naby my kom met daardie … afskuwelike ding op jou neus nie!”
Otto probeer hard om nie te lag nie. “Lyk ek so sleg met ’n bril?”
“Haal dit af! Haal dit af!” skree Sir Tony en word nog bleker as wat hy al is.
Otto kyk verbaas na die gespanne spook. Tony kan partykeer ’n bietjie snaaks optree, maar hy het hom nog nooit só gesien nie. “Wat gaan aan met jou?”
“Ek w … weet … nie,” stotter Sir Tony van benoudheid. Hoe nader Otto aan hom kom, hoe kleiner probeer hy homself maak. Dit lyk behoorlik of hy met die boekrakke saamsmelt. “Ek dink net die bril is … is iets af … afgrysliks.”
“Ja, maar hoekom …”
Paff! Nog voordat Otto ’n woord verder kan sê, los Sir Tony in die lug op en verdwyn.
Al wat Otto nog hoor, is die spook se jammerlike gehuil. Hy klink amper soos ’n hond wat aan ’n ketting vasgemaak is.
“Ek het geen idee wat met hom aangaan nie.” Molly skud haar kop so hard dat haar vlegsels behoorlik bokspring. “Ek sal gaan kyk of hy oukei is.”
’n Oomblik later is Emily en Otto weer alleen.
Otto skud sy kop. “Dis baie vreemd.”
“Nie so vreemd soos die goed wat oom Archibald nog hier gebêre het nie.” Emily haal ’n klein glasflessie uit die kissie. Die fles is vol van ’n melkerige wit vloeistof. “Dit lyk soos jogurt.”
Sy skroef dadelik die deksel af en druk haar vinger in die vloeistof. Sy kyk na die wit massa en ruik daaraan.
“Vir die wetenskap,” sug sy en lek aan haar vinger.
“Moenie, Emily!” skree Otto hard. “Die goed is seker teen hierdie tyd al vrot.”
“Sies!” Emily spoeg dit uit en gee die botteltjie vir Otto. “Dit … dit proe nog slegter as vrot jogurt. Dit proe soos … sonbrandroom.”
Otto het nie die vaagste benul hoe sonbrandroom proe nie, maar dit kan beslis nie lekker wees nie.
“Laat ons bietjie sien …” Otto staan ’n tree terug en kyk na die kissie met sy vreemde inhoud. “Ons het hier ’n boekie met oom Archibald se geheimsinnige aantekeninge, wat ’n definitiewe bewys is dat hy met spookverskynsels doenig was.”
Emily knik. “En ’n vreemde bril wat beslis nie eens in Archibald se tyd modern was nie. En sonbrandroom.”
“Ja.” Otto krap bietjie kop. “Die prentjie maak nie sin nie.”
“Ag wat, ten minste het ek nou ’n fantastiese nuwe ding wat ek kan leen.” Emily gryp die bril en sit dit op. Haar oë, wat twee verskillende kleure is, lyk dubbeld so groot as gewoonlik. “Dis cool, nè?”
“Baie mooi.” Otto gee haar ’n speelse hou in die ribbes. “Jy gaan die ster van die skool wees met daai ding!”
“Jong, ek weet nie hoe jy daaroor voel nie, maar ek is nou lus vir regte jogurt,” sê Emily en klim met die leer op tot in Otto se kamer, “met aarbeie en vanielje.”
Otto sluit die valdeur van die geheime kamer toe, skuif sy bedmat daaroor en volg Emily kombuis toe.
“Tannie Sharon het altyd baie jogurt in die yskas. Dit wil sê as Bert nie al alles opgevreet het nie.”
Emily maak die yskasdeur oop. “Ag, as dit moet, sal ek ook tevrede wees met ’n gewone sjokoladepoeding; dit sal oukei wees …” Sy bly skielik stil en staar asof gehipnotiseerd in die yskas.
“Wat is dit?” Otto stap nader. “Is daar niks meer oor nie?”
“D … daar is,” mompel Emily en trek die bril reg. Sy klou aan die yskas se handvatsel asof sy bang is sy gaan val. “B … Bert is in die yskas. Hy sit presies tussen die broccoli en die houer met suurroom.”
Otto kan sy ore nie glo nie. Hy stoot Emily versigtig uit die pad uit en loer in die yskas. So wraggies! Bert sit tussen die broccoli en die suurroom en knibbel aan ’n blok sjokolade waarvan hy nie eens die foelie oopgeskeur het nie.
“Wil jy ook ’n blokkie hê?” Ewe vrygewig bied Bert die sjokolade vir Otto aan. “Ek sal maar liewer nie vir jou vriendin Emily vra nie. Lyk my sy gaan enige oomblik naar word.”
Die spookbril
Bert sweef by die yskas uit en stel hom met ’n diep buiging aan Emily voor. “Aangename kennis, juffrou Emily. Dis wonderlik om mekaar uiteindelik van aangesig tot aangesig te sien. My naam is Albert Gustav Smith, voormalige sjef van Sir Tony,” verduidelik hy hoflik. “Deesdae is ek die oppasser van hierdie yskas. Ek pas die voorraad op. Dis nie ’n slegte werk nie.” Hy vee ’n paar sjokoladestukkies van sy hemp af en glimlag.
Pas die voorraad op! Ek sou eerder sê: vreet dit op, dink Otto en kyk na sy beste vriendin, wat ’n bietjie besluiteloos teen die kombuiskas leun en deur die dik lense na die spook kyk. Emily is nog tjoepstil, maar sy is ten minste nie meer so bleek om die kiewe nie.
Dit was nog altyd haar grootste droom om met spoke te kan praat. Paranormale verskynsels fassineer haar oneindig en sy het Otto nog altyd sy buitengewone gawe beny.
Wie sou kon dink dat oom Archibald se bril meer kan doen as net lelik lyk. Baie meer – dit kan spoke sigbaar en hoorbaar maak!
“My … my naam is Emily,” antwoord sy