Harry Griesel 2: Die spookplaag. Sonja Kaiblinger
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Harry Griesel 2: Die spookplaag - Sonja Kaiblinger страница 5
“Ek verstaan.” Bert gryp onderlangs ’n paar druiwekorrels uit die yskas. “ ’n Mens ontmoet nie aldag spoke nie. Dis nogal eienaardig dat jy my skielik kan sien! Is dit dalk daardie aaklige bril se skuld?”
Emily haal die bril versigtig af en knip haar oë. “Ja.” Sy knik haar kop. “Sonder die bril kan ek net die oop yskas en um … vlieënde druiwekorrels sien.” Sy sit die bril weer op. “Met die bril sien ek jou baie duidelik.”
Otto loop diep ingedagte heen en weer voor die yskas. “Dié ding moes aan oom Archibald behoort het. Dit lyk of hy met spooknavorsing besig was. Hy het die bril seker self ontwerp.”
“Bert, jy het oom Archibald geken.” Dit lyk of Emily uiteindelik tot verhaal kom en doen wat sy die beste doen: om raaisels op te los deur die regte vrae te vra. “Het jy iets buitengewoons agtergekom terwyl hy hier gebly het?”
“Nee.” Bert skud sy kop. “Toe Archibald en Sharon hier ingetrek het, was Molly, Tony en ek al dood. Op dié manier kon ons die twee nuwe eienaars van die villa goed dophou. Maar Archibald het nie baie in die kombuis gekom nie. As ek reg onthou, het ek hom amper nooit gesien nie. Otto se kamer was destyds sy kantoor en hy was gedurig daar besig. Hy en sy assistent het partykeer dae lank daarin weggekruip.”
“Assistent?” Emily spits haar ore.
“Ja, so ’n lang, nors ou met die naam Bernard.”
“Het hulle eksperimente in die kamer gedoen?” wil Otto weet.
“Dis moontlik.” Bert glip terug in die yskas en druk sy lyf tussen die melksakkies in. “Hoekom wil julle al die goed weet? Hoekom vra julle nie net vir Sir Tony nie? Hy snuffel mos orals rond om seker te maak ‘dat alles reg verloop’ soos hy altyd sê. Ek is seker hy sal meer oor Archibald weet as ek.”
Otto skud sy kop. “Ek dink nie ons moet nie. Toe ek netnou die bril opgesit het, het Sir Tony skoon mal geword.”
Bert rol sy oë. “Asof dit iets nuuts is.”
“Nee.” Otto skud sy kop. “Hierdie keer was anders. Hy het soos ’n maer vark geskree, na die sitkamer se hoek gevlug en die volgende oomblik het hy sommer net in die lug opgelos. Dit het gelyk of … of hy getraumatiseer is.”
“Ek moet erken, dit klink nie soos hy nie.” Bert lig sy wenkbroue vraend. “Waar is hy nou?”
“Ek het g’n idee nie.”
“Maar ek weet.” Vincent duik agter Otto en Emily op en fladder al in die rondte bokant die eettafel. Hy is hoogs ontsteld. “Hy kruip in die kaggel weg, bibber en beef soos ’n riet en praat ’n klomp nonsens. Julle
beter hom daar uithaal as julle nie wil hê Vader Krismis moet oor vier weke dadelik weghol nie.” Hy skud sy kop. “Ek het my hart al klaar op die nuwe, taai vlieëvanger gesit wat hulle op die tele-inkopiekanaal adverteer.”
Emily kyk om. “Kruip hy in die skoorsteen weg? Dis vrek ongemaklik!”
“Tja, ek sê mos die ou toppie is getik.” Vincent gee ’n stout laggie. “Terloops, daai sterk bril, Emily … ek wil nou nie snaaks wees nie, maar jy lyk al mal genoeg sonder die ding.”
“Hou jou bek, Vincent!” knor Otto vererg.
“Wat’s dit nou? Dis die waarheid.”
Met sy kop effens skuins gedraai kyk Vincent na Emily. “Hoekom sit jy die ding op? Is jou oë só swak?”
“Nee.” Otto vou sy arms. “Emily kan spoke met die bril sien. Dis iets wat oom Archibald ontwerp het.”
Vincent se bek hang behoorlik oop. “Jy maak seker ’n grap.”
“Nee, dis waar,” antwoord Emily.
“So njannies?” Vincent gaan sit op Emily se skouer en vat aan die brilraam. “Dis vir jou ’n ding. ’n Regte spookbril? Dit sal maklik duisende op die internet haal, dink julle nie ook so nie?” Sy klein ogies rek soos pierings. “Kan ek dit dalk ’n bietjie leen? Net vir … vir ’n klein rukkie?”
“Oor my dooie liggaam.” Otto stoot Vincent van Emily se skouer af en die vlermuis gaan sit skel-skel op die gordynreling. “Ons moet aan ’n plan dink om Sir Tony uit die kaggel te kry. Ek wed julle hy weet meer oor oom Archibald se navorsing. Miskien kan hy ons ook vertel waarvoor hierdie vreemde sonroom gebruik word.”
Otto is skoon senuweeagtig van pure nuuskierigheid. Hy het ’n duisend vrae oor die goed wat hulle in die aardbol gekry het. Oom Archibald sou beslis die Nobelprys gewen het vir ’n bril waarmee ’n mens spoke kan sien. Sy uitvindsel sou ’n revolusie in die wetenskaplike wêreld veroorsaak het. Hoekom het hy dit ’n geheim gehou? Otto sug. Dis jammer oom Archibald is al amper vyftien jaar gelede oorlede en dat hy hom nie kan vra nie. Tannie Sharon het gesê Archibald moes destyds Skotland toe gaan om ’n prys te ontvang vir sy groot prestasies en sy werk in die farmaseutiese bedryf. Hy het daardie tyd nog vir ’n paar maande in Londen gewerk. Dit was winter en tannie Sharon het hom aangeraai om liewer nie met die motor soontoe te ry nie, sy was bekommerd oor die gladde yspaaie. Maar oom Archibald wou niks hoor nie.
Hulle het sy verfrommelde motor aan die voet van ’n steil krans gekry. Oom Archibald moes van die pad gegly en oor die afgrond gery het. Daar was egter nie ’n spoor van oom Archibald nie.
Tannie Sharon wou vir ’n lang tyd nie glo haar man is dood nie. Maar hoe langer hy weg was, hoe skraler het haar hoop geword om hom weer te sien. Sy het uiteindelik ’n grafsteen ter nagedagtenis aan hom in die kerkhof laat oprig. Sy praat omtrent nooit oor Archibald nie, maar partykeer sien Otto dat sy na die foto in die sitkamer kyk en baie hartseer raak. Arme tannie Sharon. Die onsekerheid moet verskriklik wees.
Otto sit en tob oor alles. Dis eienaardig dat daar so baie geheimsinnige sterfgevalle in sy familie is. Otto se ouers het twee jaar gelede tydens argeologiese uitgrawings in Mexiko verongeluk. Dis in elk geval wat in die koerante gestaan het. Hulle lyke is nooit gevind nie. En dan is daar nog die kwessie van Otto se paranormale gawe. Hoekom het juis hý hierdie vreemde gawe?
Otto het soveel vrae, hy weet nie meer hoe het hy dit nie. Hy hoop Sir Tony kan hom ten minste met sy vrae oor oom Archibald help. Maar daarvoor moet hy die spook eers uit die skoorsteen lok.
***
Ongelukkig werk dinge nie uit soos Otto dit wil hê nie. Sir Tony bly sit in die skoorsteen en weier volstrek om uit te kom. Hy is ook nie bereid om met hulle oor die bril te praat nie. Hulle kry net so hier en daar ’n enkele woord as antwoord en kry niks verder uit hom uit nie. Dis ’n uitputtende besigheid.
“Dit moet iets ergs wees as Sir Tony botweg weier om met ons daaroor te praat,” dink Emily hardop. “Dis nou jammer. Ek sou hom baie graag persoonlik wou leer ken.”
“Jy kan eintlik