Katryn. Jan Huisamen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Katryn - Jan Huisamen страница 3
“Ek het myself geblo dat ek my oupa se wit kinders sal wys dat ek nêrens vir hulle sal agterstaan nie. Alles wat hulle doen, sal ek net so goed doen, en nog beter ook. Ek het dit reggekry ook, maar wat my neus in die kraalmis gesmeer het, was die skool. Toe die meester die skool op Grootderm kom begin het, kon húlle gaan en ék moes buite bly. Toe het ek geweet die vloek van ’n bruin vel is te groot om van jou af te skud. Barend Goosen se wit kinders het my verbygegaan en my hier teen die rivier agtergelaat. Daar was vir lank ’n wrok in my hart, en as dit nie vir jou en ons kinders was nie, sou daai wrok my binnegoed weggevreet het.
“Maar Salmon, ek het geleer daar is één manier waarop ons byna gelyk met die witman kan kom, en dis met geld. As jy voor die toonbank staan, praat jou geld net so hard as sy geld. Dis hoekom ek wil hê ons moet spaar. Want dis geld wat ons van die witman kan losmaak. Eerwaarde praat al lankal van die plan wat Kleurlingadministrasie glo het om plasies langs die rivier aan hardwerkende Namafamilies te gee. As daai kans kom, moet ons hom gryp. Ons kan nie lees of skrywe nie, maar ons kan met bokke werk en ons kan lusern plant. En ons kan tel. Gee vir ons ’n plasie en voor jy kan sê akkedis se stert loop ons met ons koppe in die lug. Dan hoef ons nie meer van smôrs tot saans ‘ja, baas’ en ‘nee, baas’ en ‘asseblief, baas’ en ‘dankie, baas’ te sê nie. Maar as daai kans kom, moet ons ’n geldjie in die boek hê, of die kans loop by ons verby.”
Salmon het diep gesug. “Ja, Katryn . . . Ek weet hoe jy voel, en soos jy voel, so voel ek ook. Maar wys vir my één Namafamilie wat ’n eie boerdery begin het en wat nie kort voor lank maar weer bakhand voor die witman moes gaan staan nie.”
“Ja, Salmon, ek weet. Maar dis omdat hulle nie ’n posboekie met ’n klompie geld in gehad het nie. Toe hulle gereedskap vir die tuine moes koop, was daar nie geld nie, en toe hulle aanteelvee moes koop, was daar nie geld nie. Of dit nou ’n witman of ’n bruinman is, as hy ’n boerdery aan die gang wil sit sonder ’n paar ekstra oulappe in die sak, is dit so goed hy ry die woestyn in op ’n kameel wat nie vooraf water gesuip het nie.
“As ek spaar, my man, moet jy my help. Maar voor jy my help, moet jy verstaan, dis hoekom ek nou die ding met jou kom bepraat het. Ons spaar solat ons eendag op ons eie plek kan staan, ons én die kinders.”
Salmon het lank na haar gesit en kyk, en toe sy twee swaar, eelterige hande op haar skouers gesit. “Ek het nie soveel geloof in die goewerment se planne soos jy nie, Katryn, maar ek het ’n groot geloof in jóú. As die kans kom wat jy van praat, moet jy maar die kopwerk doen, ek en die kinders sal ons lywe gee. Met ons lywe sal ons werk vir so lank as wat die liewe Here krag in ons sit.”
Sy was skoon bewoë van dankbaarheid. “Ek weet, my man,” het sy sag gesê. “Op die lywe van Salmon Jonis en sy kinders is daar nie ’n lui haar nie.”
“Ja, en die paar lui hare wat daar was, het jy uit ons uitgehel.”
Dit het haar laat lag, en sy het haar arms om sy nek gesit en hom styf vasgedruk.
Ná haar ma se dood het hulle die huisie op Grootderm opgegee en afgetrek Kortdoorn toe, na die sinkhuis waar Katryn grootgeword het. Hulle moes soggens vroeër opstaan om invaltyd by die werk te wees, maar hulle het nie omgegee nie. Hulle boktroppie was nou al stewig, en die vier kinders het hulle kant gebring met die versorging van die vee. Naweke het hulle almal van vroeg tot laat in haar ma se tuinerye gewerk. Met die geld wat hulle gespaar het, kon Katryn ’n paar aanteelooie en twee ramme bykoop.
Met die terugtrek Kortdoorn toe was daar net een vlieg in die salf: Abraham Klink. Want dis waar hy en sy gesin hulle onlangs tuisgemaak het, die sagsinnige antie Sophy en Koos en Joey, die twee kinders. Nou het Katryn ontdek hoe lyk die gevaarlikste vyand wat ’n mens kan hê. Hy lyk soos ’n onskuldige engel. Hy trek vir hom ’n kleed van goedheid en skynheiligheid en onskuldigheid aan en hy doen hom voor as die verontregte en die vals beskuldigde. Só ’n vyand was Abraham Klink.
Die Klinke was hakskeenbyters, hulle was sluipers in die nag. Koos en Joey was hulle pa se meelopers. Eers was dit net ’n bietjie moeilikheid hier en daar: ’n gat wat in die groentetuin se takskerm gemaak is sodat die bokke kon inkom en die tuinery vertrap; ’n messteek in elkeen van die waatlemoene en spanspekke as hulle net-net bekwaam raak vir pluk; kooksels boontjies in die nag gepluk; pampoene en skorsies afgebreek en stukkend gegooi; druiwetrosse gestroop van die ranke.
Leivore is gebreek, waterpype is stukkend gesny en die pomp wat haar pa nog gekoop het en waarmee hulle oor baie jare water na die lusernland gepomp het, het sand in sy sump gekry. Die bokkraal se hek is oopgemaak sodat die diere uitgekom en weggedwaal het. Of die lammerhok is helder oordag oopgelos sodat die lammers die ooie voor melktyd uitgesuip het.
Daar was geen bewyse nie, nie ’n enkele voetspoor nie, maar sy het geweet wie die skuldiges was. Elke keer het sy Port Nolloth se polisiestasie toe gebel en gesê sy wil ’n klag lê vir saakbeskadiging of betreding, maar elke keer is sy droëbek gelos. Sy het sersant Koekemoer oor en oor gesmeek dat die polisie moet kom help, maar hulle het nie een maal gekom nie.
Tot die sersant op ’n dag gesê het as sy nog één keer bel, sal hy haar kom oplaai en haar toesluit.
“Op watter klag nogal?” het sy gevra.
“Op die oomblik weet ek nie,” het hy op haar geskree, “maar teen die tyd wat ek op Kortdoorn kom, sal ek baie klagtes uitgedink het!”
Maar as jy ’n mens van die Richtersveld die seerste wil slaan, moet jy skade aan sy boktrop aanrig. Op ’n dag is een van die duur ramme wat Katryn met spaargeld uit die posboekie gekoop het, gevang en sy teelkliere afgesny.
Hierdie keer het sy die polisie op Springbok gebel. Sy het haar saak mooi verduidelik en die adjudant het gesê hy sal sorg dat Port Nolloth die saak ondersoek. Eers ’n week later kom sersant Koekemoer op Kortdoorn aan. Toe is sy klaar dreunlyf oor die lang gewag, en sy laat hom dit ook verstaan.
Sy het vir hom die hele kwessie met Abraham Klink uitgelê en al die voorvalle op haar vingers afgetel: dat dit twaalf jaar gelede begin het met die ontering van haar pa se graf, en die afgelope jaar die verwoesting van hulle tuinerye, die pomp wat gesaboteer is, die verskriklike skade aan haar boktrop.
Hoe meer sy verduidelik dat dit die Klinke se werk is, hoe meer stry die sersant met haar oor “bewyse”. Maar hy is darem daar weg om die Klinke te gaan ondervra.
Met die terugkom sê hy vir haar daar is geen bewyse nie, hy sal die saak moet sluit.
Toe vlam sy op soos ’n asbos en toe is dit die een woord op die ander.
Later het die sersant op haar geskree: “Jy is ’n liegbek en ’n kwaadstoker, Katryn Jonis! Jy lieg van goeie en ordentlike mense, mense wat nie ’n kooipister in die pad sal doodtrap nie! Hulle harte is seer en die trane loop oor hulle wange dat jy sulke bose goed van hulle kan dink en om dan nog daarmee polisie toe te hardloop! As jy my óóit weer hierdie slegte stuk sandpad van Port Nolloth af laat ry agter so ’n verdomde spul leuens aan, gooi ek jou agter in die wên en sluit jou vir ’n maand in ’n sel sonder venster op. En dan laat ek jou hierdie hele sestig myl met die voet terugloop. Weet jy waarvoor ek nou lus het? Ek het lus om jou nóú agter in die wên te laai en jou voor Abraham Klink te gaan afgooi sodat jy hulle om verskoning kan vra.”
Dit was die laaste strooi. Sy het haar vinger in Koekemoer se gesig gedruk en teruggeskree.
“Vat aan my vir enigiets anders en ek sal met jou saamgaan, maar vat aan my om voor Abraham Klink te gaan kruip, dan