Katryn. Jan Huisamen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Katryn - Jan Huisamen страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Katryn - Jan Huisamen

Скачать книгу

het. As Katryn Jonis verkeerd was, sal sy verskoning vra, maar nie vir ’n skynheilige duiwel soos daai man nie. Hoor jy vir my vandag: ek sal nóóit voor Abraham Klink gaan kruip nie!”

      Sy onthou nog hoe die sersant teruggedeins het, en die skok en verontwaardiging op sy gesig dat sy so met hom durf praat het. Op daardie oomblik het sy geweet dat sy van hom ’n vyand gemaak het. Dit was eers later dat sy besef het hóé groot en hóé dodelik die vyand was.

      Dit het nie gehelp om by bure en vriende te kla nie. Sy het agtergekom dat die mense hulle nie wou glo nie. In die oë van die mense langs die rivier was Abraham Klink met sy winkelbakkies ’n goedige oompie, en die veel jonger antie Sophy die gaafste mens wat jy jou kan voorstel. Ook op Koos en Joey was daar nie ’n speld te steek nie, goed gemanierde en voorbeeldige kinders.

      Eendag het die ouderling selfs met Katryn en Salmon kom praat. Hy het hulle ernstig vermaan en hulle aangesê om na Kuboes te gaan en vir eerwaarde Schmidt te vra om vir hulle te bid sodat die duiwel wat haat in hulle harte saai, uit hulle lewe sou wyk.

      . Hoofstuk 2 .

      Vanoggend is daar net een ander vrou in die sel oor. Dié lê rugkant en slaap. Waar Katryn regop teen die koue muur sit, dink sy aan die Here. Maar haar gedagtes oor die Here is nie lekker gedagtes nie.

      Sy is opstandig, en as die drang om te twis deurbreek, prewel sy: “Ag, Here, as jy net nie so van my af wil wegraak nie! Partykeers voel dit tog of jy hier rond is, maar as ek dan my hande na jou uitsteek, raak jy net so weer weg. Kom staan dan net een slag voor my dat ek jou met my oog kan sien en in jou oog kan kyk, dan kan ons mos hierdie ding wat jy oor my en my familie gebring het, uitpraat. Ek weet hoekom jy aanmekaar jou rug vir my draai as ek jou soek. Dis omdat ek vir jou kwaad is. Maar kom en kom sê nou vir my, Here: wie se skouers moet die skuld vir hierdie kwaadwees dra? Jy sal moet erken, Here, dat jy nie reg gemaak het met ons Jonisse nie. Eers het jy my en Salmon se harte laat oorloop van blydskap en geluk. Maar Here, jy kan mos nie stry dat ons Jonisse ook ons kant gebring het nie. Elke Nagmaal was ons in die kerk op Kuboes. Gaan vra maar vir eerwaarde Schmidt of Katryn ooit ’n Nagmaal gemis het. En Here, jy sal onthou ons het nie leëhand Kuboes toe gegaan nie. Van ons vetste lammers en kapaters het ons saam aangeja vir die kerk. Maar ons loop nog so die regte pad, die Godvresende pad, toe begin jy ons te treiter. Jy gaan haal eintlik daai gespuis Klinke Kortdoorn toe en jy kom sit hulle teenaan ons neer. So gee jy vir Abraham Klink die kans waarvoor hy vir twaalf jaar gewag het: om vir Katryn Jonis, nageslag van Willem Goosen, soos die duiwel te vervolg. Ek vra weer, Here, soos ek al so baie gevra het: Wat het ons gemaak om sulke haat te verdien? Jy weet my pa was ’n goeie mens, Here, en ek perbeer mos ook. Waar was jy toe alles net slegter en slegter gegaan het, tot op die dag wat ek in die poeliesbakkie van my mense af weggery is om hier in die tronk te kom sit en wag op die galgtou?

      “Waarom, Here? Kom staan net ’n slag hier by my en dan vertel jy vir my wáárom. Is dit oor Joey se voorkind dat jy hierdie verskriklike ding oor my laat kom het? Ek weet ek het verkeerd gedoen, Here, maar niemand nie, veral nie jy wie se oog orals kan sien nie, kan my daarvoor verkwalik nie. Ek kon nie anders doen as wat ek gedoen het nie, en as die kans nou weer voor my gelê word, sal ek net dieselfde doen.”

      Hulle het nog in Salmon se enkelkamer op Grootderm gebly toe sy die ontdekking gemaak het oor die oppratery. Die vrou wat die voorman se seuntjie oppas, was dié dag siek en toe laat haal die wit voorman haar van die lande af om sy vrou te gaan help met die kind. Katryn het dit al vantevore gedoen en het daar niks van gehou nie, want die kind was woelig en stout. Sy sou eerder die hele dag met ’n graaf in die warm son werk as om kind op te pas.

      Met die intrap het die ma haar georder om buite te gaan loop met die kind. Sy is af rivier toe met hom en by een van die kuile het sy hom gewys hoe om kluite en stokkies in die water te gooi. Twee plaaswerkers het op die wal verbygeloop en toe sy omdraai en hulle groet, hoor sy ’n geskree agter haar. Sy was net betyds om te sien hoe die kind onder die bruin modderwater verdwyn.

      Gelukkig was die twee manne goeie swemmers. Hulle het skoene en klere uitgepluk, ingeduik en na die kind begin soek. Dit was nie lank voor hulle hom gekry het nie, maar vir haar het dit soos ’n ewigheid gevoel. Toe die mans die liggaampie uitbring, was daar geen teken van lewe by die kind nie. En toe gebeur dit: sy kry die snaaksste gevoel oor haar hele lyf, ’n gloeiende warmte wat deur haar loop soos ’n stroom.

      Sy het die kind se hande gegryp en met hom begin praat. Sy het gepraat en gepraat en vir hom gesê om teen die dood te stry en die lewe terug te vat. Een oomblik het die woorde deur haar tande gesis en die volgende oomblik het sy op hom geskel en woorde in sy ore geskree. Vir ’n lang tyd het sy aangehou sonder dat iets gebeur, en toe het sy skielik gevoel hoe die krag uit haar lyf na die kind toe begin vloei. Die kragstroom het al sterker geraak en eensklaps het die kind regop gesit en sy oë oopgemaak.

      Die twee mans het die hele tyd stomverbaas gestaar. Sy onthou hoe sy teen die wal probeer uitklim het met die kind in haar arms, maar sy was te lam en haar knieë het onder haar geswik. Die mans moes haar daar uithelp.

      By die huis het sy vir die witvrou gesê die kind se klere is nat omdat hy in die leivoor gespeel het. Die vrou kon sien sy is siek; sy het haar ’n kopseerpil gegee en haar huis toe gestuur. Daar het sy op die bed neergeval en geslaap tot Salmon die middag van die werk af gekom het.

      Die nuus het gou deur die hele Richtersveld versprei: dat daar weer ’n opprater onder die Namavolk was. Dat sy, Katryn, met dié spesiale gawe gebore is, het sy in haar dag des lewens nooit kon dink nie.

      Toe sy nog ’n kind was, het sy haar ma baie keer uitgevra oor die hele ding van die opprater – altyd net ’n vrou – en dan het haar ma gesê dis iemand wat met ’n baie sterke krag in haar gebore is.

      “Watse krag?” het sy gevra.

      “Dis ’n krag wat sterk genoeg is om ’n mens gesond te maak en uit die dode terug te bring.”

      “Maar wie gee vir haar daai krag, Ma?”

      “Niemand weet nie, nie eens die opprater self weet dit nie. Sy sal vir jare die krag met haar saamdra en nie daarvan weet nie, tot sy dit op ’n dag verskriklik nodig kry en ’n sterwende mens gesond sal praat. Van daai dag af weet sy dat sy ’n opprater is, en die volk weet wie hulle nuwe opprater is. ’n Opprater werk net met jong kinders, sy mors nie asem op ou en sieklike mense nie.”

      “Is dit ’n soort kerkding?”

      “Nee, dit het niks met kerk te doen nie. Hulle sê as jy hoor hoe die opprater raas en skel en die kind slegsê, sal jy weet dis nie ’n kerkpraat nie. Al ding van oppraat wat almal wat dit gesien het vir jou sal sê, is dat daai krag nie ’n bietjie krag is nie, hy’s soos ’n weerligstraal. Kinders by wie jy die oggend nie meer die asemhaling kon sien nie, speel teen die aand weer met hulle maters. Die gesond word is ook nie ’n halwe gesond word nie. Die kind blý gesond en hy raak groot.”

      “Het Ma al self so ’n oppratery gesien?”

      “Nee, maar jou ouma het my vertel hoe jou oumagrootjie haar broer se kind opgepraat het nadat ’n geelslang hom gepik het. Almal het gedink die kind is al dood, want die twee-twee gaatjies van die slang het so gesit in sy gesig en teen sy nek. Sy het die voormiddag begin praat en oor die middag gepraat en aangehou praat tot die son al begin koel raak het. Toe staan die kind net so op om by die ander kinders te gaan speel. Hulle sê sy was so moeg dat hulle haar huis toe moes help en sy het geslaap tot die volgende dag.”

      Ná die storie met die voorman se kind is Katryn al oor ’n tyd gevra vir die oppraat van ’n sterwende kind. Dit was harde en senutergende werk wat haar gespanne en moeg gemaak het. Eenkeer het hulle twee kinders binne ’n week

Скачать книгу