Die paradysman. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die paradysman - Ettie Bierman страница 4

Die paradysman - Ettie Bierman

Скачать книгу

netnou net onverwags gevang. Ek het gedink hy storm.”

      “Sy,” korrigeer Rheeder. “Hy is sy.”

      Vir Tinka klink dit deurmekaar. “Wát?”

      “Sy is ’n teef, nie ’n reun nie. Eintlik jammer, anders het dit die koerant se agterblad gehaal, want dit sou ’n mediese wonderwerk gewees het as ’n reun swanger geword het.”

      “Swanger?” eggo Tinka.

      “ ’n Algemene toestand by die vroulike spesie wat plaasvind wanneer sy deur –”

      “Ek weet wat swangerskap is, Rheeder. Al is ek nie ’n geniale mediese dokter soos jy nie, het ek darem biologie op skool gehad. Ek het nie opgelet nie en aanvaar die hond is sommer net vet, dis al.”

      “Vetsug is ’n simptoom van swangerskap.” Sy gesig is sedig, maar ’n vonkel dans in sy grysgroen oë. “Het jy seergekry netnou toe sy jou onderstebo gespring het?”

      Tinka probeer haar waardigheid behou. “Ek het net my balans effens verloor, ek was nie onderstebo nie.”

      Hy lyk verbaas. “My aarde, ek kort seker ’n bril. Ek kon sweer jy was bokant onder – of onderkant bo – en dit was nie jou gesig wat ek aanskou het toe ek die deur oopgemaak het nie.”

      Tinka weet sy is besig om dié ronde te verloor. In die verlede het sy ’n kragmeting met Rheeder geniet, want dit het gewoonlik uitgeloop op ’n gelag en geëindig in ’n lekker warm omhelsing wat die belofte van nog veel meer gedra het … Maar nou weet sy nie hoe om die situasie te hanteer nie. Sy is in ’n hoek en die enigste manier om daaruit te kom is om aan te val.

      “Hoekom het jy nie die deur gouer oopgemaak nie? Ek moes ’n eeu buite staan en wag, uitgelewer aan die attensies van jou ongeskikte brak.”

      Asof Griet weet dis op haar gemik, flap sy haar ore en kyk verwytend na Tinka.

      Askies, ou Griet, vra sy in haar gedagtes verskoning. Ek weet jy wou net groet. Ek is nie vir jou kwaad nie, net vir jou baas … “En toe jy uiteindelik sover kom om oop te maak, lag jy vir my! Pleks dat jy verskoning vra, die dame ophelp en na haar welstand verneem.”

      “Ek wou, maar sy het gemaak of ’n slang haar gepik het en ‘Los my!’ geskree.”

      “Omdat jy sarkasties gekug en keel skoongemaak het.”

      “Ek het dit nie so bedoel nie. Hoe klink ’n sarkastiese kug?”

      “Soos joune!”

      “Jammer as ek verkeerd gereageer het, maar ek was net so stomgeslaan soos jy.”

      “Stomheid is nie ’n verskoning nie!”

      “Dus sal jy my ’n groot guns doen as jy hier kom bly en die hond kan kos gee wanneer ek nie tuis is nie,” paai hy.

      Hy beduie na buite. “Hierdie is ’n dubbele erf, soos jy seker opgelet het. Die digte struike en bome dien as ’n skans en jy is ver van die hoofhuis af, met jou eie straatingang. Ek respekteer die privaatheid van my huurders en sal nie aan jou deur kom klop nie, behalwe in ’n krisis. As dit gebeur dat jou geiser lek of die geute verstop is of wat ook al, kan jy net ’n nota onder my voordeur sit, dan sal ek werk maak daarvan. Ek ry vroeg soggens en kom gewoonlik eers laataand terug. Dikwels, met ’n noodgeval by die hospitaal, slaap ek sommer die nag daar. Ons sal mekaar selde sien – ’n reëling wat my sal pas.”

      Hy hoef dit nie uit te spel nie, dink sy gegrief. Asof sy die pes het!

      “Ja, dit sal my natuurlik ook pas,” stem sy saam. “Alles goed en wel, maar ek kan steeds nie hier bly nie.”

      “Hoekom nie?”

      “Dis nie betaamlik nie.”

      Rheeder toets by die opwasbak of die druppende kraan lek en of dit net nie behoorlik toegedraai is nie. Hy kyk skuins oor sy skouer. “Onbetaamlik? Hoe bedoel jy?”

      Sy klik ergerlik haar tong. “Jy weet wat ek bedoel.”

      Hy hou hom dom. “Nee, ek weet nie. Vertel my.”

      Sy is skielik ongemaklik. “Jy en ek … albei ongetroud. Dis onbehoorlik dat ek in die agterplaas van ’n alleenloperman bly.”

      “Dis nie my agterplaas nie, dis die tuin.”

      “Dis een en dieselfde ding. Dit sal lyk of ons weer ’n verhouding het en so te sê saambly.”

      Hy trek groot oë. “Hoe skokkend! In die een en twintigste eeu? Hulle sal ons teer en veer en onder sensuur plaas.”

      “Dis nie snaaks nie,” sê sy styf. “Ek hou nie daarvan as mense skinder nie.”

      Sy een wenkbrou lig spottend. “Van wanneer af steur jy jou aan skinderstories en wat die mense sê? Dit het jou nie voorheen gepla nie. Of het jy skielik preuts geword daar in Parys?”

      Sy weet hy verwys na haar verhouding met Eugene. Sy word rooi en kyk anderpad. “Dit was anders.”

      “Hoe anders?”

      “Ons het nie saamgewoon nie. Daar was ander mense by. Ons was nie mekaar se ekse nie en het op troue gestaan. En die Franse is in elk geval meer permissief as die Suid-Afrikaners.”

      “O … Het julle nie saamgebly nie?”

      Sy herhaal nie die inligting nie, gee hom net ’n dwars kyk.

      Rheeder los die kraan, leun teen die wasbak en vou sy arms. “Jy aanvaar dit sommer as vanselfsprekend dat ek ’n alleenloper is. Hoe weet jy ek is nie ’n respektabele getroude man nie?”

      Hy lyk doodluiters, doodkalm. Tinka is onthuts en op die verkeerde voet gevang. Hy dra nie ’n trouring nie, dit het sy dadelik opgemerk. Maar dit beteken niks; nie alle mans dra ’n ring nie. Dokters was gedurig hande, werk in water of met delikate instrumente en dan is ’n ring lastig.

      In haar e-posse aan tant Olga het sy gereeld verneem hoe dit met hom gaan. Sy ma het altyd geantwoord: Goed, hy werk hard, sy praktyk hou hom besig en daar’s nie klagtes nie. Gewoonhede. Maar tant Olga was dalk taktvol om ’n turksvy-onderwerp te vermy. Rheeder is ’n aantreklike, viriele man. Selfs nou nog, al is hulle vervreem, kry sy lus om aan daardie gespierde manslyf van hom te vat. Met haar hande oor sy sterk skouers te streel, oor sy ribbes te vryf en oor sy plat maagspiere … Dis amper onmoontlik dat een of ander vroumens nog nie daarin geslaag het om so ’n vangs nader te haak nie.

      “Wie sê ek het nie ’n vrou daar anderkant in die kombuis nie, besig om aartappels en pampoen te skil om vir haar man aandete te kook?” vra hy terwyl ’n vreemde glimlag om sy mond speel.

      Tinka probeer hom peil, maar sy kan nie die uitdrukking in sy oë lees nie. Sy antwoord met ’n teenvraag: “Hét jy?”

      “ ’n Wat?”

      “ ’n Vrou.”

      “Hoekom nie? Is ek te oud en te lelik? Nie hubaar genoeg nie?”

      Hy is moedswillig en vat ’n kans, raai sy. Om te wys hy’s nie

Скачать книгу