Die paradysman. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die paradysman - Ettie Bierman страница 8

Die paradysman - Ettie Bierman

Скачать книгу

neus vir winskopies gehad en Tinka het al die fyner kunsies by haar oudvennoot geleer.

      Hulle het by die Sorbonne in Parys ontmoet, waar Elizabeth dieselfde nagraadse kursus in kreatiewe skryfkuns geloop het as sy. Ondanks die groot ouderdomsverskil het hulle van die eerste dag af hegte vriendinne geword, wat mekaar oor en weer met werkstukke, opdragte en navorsing gehelp het.

      Elizabeth het ’n boekwinkel in Marble Arch gehad, met ’n dakwoonstel wat oor die Teems uitkyk. Toe Tinka een werksvakansie by haar gaan kuier het, was dit asof sy ná ’n lang reis tuisgekom het … Daar het sy geleer wat die woord “bibliomaan” beteken: iemand met ’n fanatiese, obsessiewe liefde vir boeke.

      Dit was amper soos ’n dwelm in haar bloed. Sy het dadelik geweet wat sy eendag in die lewe wil hê: ’n antieke boekwinkel soos Elizabeth’s, met die muwwe reuk van perkament, drukkersink en ou leer … ’n Geur lekkerder as Chanel, Estée Lauder of Yves Saint Laurent. Só hemels lekker, dit behoort gebottel te word.

      Die naam Katinka’s sal nie werk nie, het sy besef. Haar winkel eendag sal Yesterday’s heet en glanstydskrifte, vakliteratuur, kunsboeke, selfhelpboeke en al die jongste treffers aanhou, maar spesialiseer in skaars versamelaarsuitgawes.

      “ ’n Utopie vir ’n bibliomaan,” het Eugene dit opgesom.

      Al vals noot was dat Elizabeth nie van hom gehou het nie. “Die koning het nie klere aan nie,” het sy verklaar.

      Tinka was nie seker wat sy daarmee bedoel het nie en diep in haar hart was sy te bang om te vra, bang vir wat sy dalk sou hoor. Die krake in haar en haar held se verhouding het toe reeds begin wys, al wou sy dit nie raaksien nie.

      Haar ouer vriendin het haar stelling met ’n aanhaling van een van die groot meesters verduidelik: “Daar is baie in Eugene Letoit se filosofieë wat goed en oorspronklik is. Ongelukkig is dit wat goed is, nie oorspronklik nie en dit wat oorspronklik is, nie goed nie.”

      Dit was selfverklarend. Daarna het Tinka met nuwe oë na haar held en mentor begin kyk.

      Elizabeth was ’n bron van mensekennis waaruit Tinka baie geput het. Europa het haar ook lewenswysheid en visie gegee, sodat sy geleidelik self begin agterkom het dat die wyshede wat Eugene oor eindelose glase rooiwyn uitgeryg het, meesal geleende clichés was. Aanvanklik het dit haar nie gepla dat hy soveel tyd saam met sy boheemse vriende en familie deurbring terwyl die wyn vryelik gevloei het nie, later het dit haar begin hinder en uiteindelik erg geïrriteer. Veral toe sy agtergekom het daar is vroumense by betrokke: blinkoogmeisies wat net soos sy vroeër aan Eugene se lippe gehang het en gedink het hy is wonderlik.

      Al het sy kleivoete begin wys, was die heldeverering egter nog steeds daar, want dit was Eugene wat haar skryfdroom vlerke gegee het. Al het die seepbel gebars en die krake groter geword, het die vlammetjie van hul liefde hardnekkig bly flikker. Sy het haar blind gehou vir sy foute en aan haar droom bly klou.

      Elizabeth het haar emosies probeer ontleed. “Jy praat baie oor jou pa, Tinka. Oor hoe dikwels hy weg was op sakebesoeke en dan tuisgekom het met ’n wavrag presente: speelgoed vir ’n dogtertjie veel jonger as jy en duur partytjierokke wat drie nommers te klein was, asof hy nie kon onthou hoe oud jy is nie. Maar jy wou nie presente hê nie, jy wou hóm hê – ’n pa van vlees en bloed wat nie altyd op pad was lughawe toe, vergaderings toe, konstruksieaanlegte toe nie. Omdat jy ’n vaderfiguur gemis het, het jy vir ’n ouer man geswig en jou gevoel vir jou pa op Eugene geprojekteer.”

      Sy het heftig geprotesteer: “Eugene is ses en dertig, g’n oud genoeg om my pa te wees nie! En hy lyk totaal anders. My pa is donker en Eugene blond. My pa het nooit lang hare gehad nie. Hulle verskil hemelsbreed in geaardheid.”

      “Op pad veertig toe is nie bloedjonk nie; hy is dertien jaar ouer as jy. En voorkoms het niks daarmee te doen nie, ook nie persoonlikheid nie. Jy soek nie ’n replika van jou pa nie, net ’n plaasvervanger wat vir jou lief is en vir jou tyd inruim.”

      Sy het aanhou teëstribbel, nogtans het dit haar tot nadenke gestem. Eugene was nie meer so betrokke by haar soos op universiteit nie. Hy was afsydig en onbetrokke asof hy – soos haar pa – sy vriende belangriker geag het as vir haar. Hy was ook altyd op pad. Na ’n bistro, ’n brasserie, ’n sypaadjiekafee waar hy en sy wingerdbroers hulle dae omgekuier het.

      “Dis breinflos. Ons gooi idees rond, ruil temas uit, plagieer mekaar se koppe,” het hy verduidelik. “Hieruit gaan ’n Nobelprys kom, jy sal sien!”

      “En die meisies?” wou sy skepties weet. “Gooi julle dié ook rond en ruil hulle uit?”

      Eers het hy haar aantygings afgelag. Maar geleidelik het dit al meer tot bittere rusies tussen hulle gelei. En hulle het uitmekaargedryf.

      Aan die einde van haar kursus by die Sorbonne was daar niks wat haar teruggejaag het Suid-Afrika toe nie. Toe haar vriendin se aanbod van ’n vennootskap in Elizabeth’s kom, het Tinka nie geaarsel nie. Dit sou wonderlike ondervinding wees om eendag op terug te val as sy haar eie boekwinkel in Pretoria wou oopmaak.

      Eugene het onwelkom gevoel in Elizabeth se teenwoordigheid en het selde kom kuier. En die enkele kere wat Tinka die boottrein oor die Engelse kanaal gehaal het vir Kersfees of ’n feesnaweek, het sy ontuis gevoel in die kommune saam met Eugene se boheemse familie. Die rooiwyn het haar sooibrand gegee en hulle grappe was nie vir haar snaaks nie.

      En Eugene het verander. Een oomblik was hy liefdevol, dan weer aggressief en op die verdediging, asof hy skuldig gevoel het. Asof hy ook aan hulle verhouding begin twyfel het.

      Die vennootskap in Marble Arch het seepglad geloop, behalwe dat Elizabeth se gesondheid vinnig agteruitgegaan het. Op ’n dag, oor ’n koppie sterk Earl Grey-tee en griddlescones by die tafeltjie in die kombuis, het sy aangekondig: “Ek tree af. Almal dink ek is ’n ronde, vet, afgeleefde ou vrou en dis nie waar nie. Dis omdat daar ’n boek binne-in my is dat my midderif so uitbult. Daardie boek gaan nou geskryf word! En ek is g’n afgeleef nie. Catherine Cooksen het op dieselfde laat leeftyd begin skryf en Agatha Christie het op tágtig nog speurrillers soos ’n worsmasjien uitgeryg. Wat baat daardie kursus by die Sorbonne as ek niks daarmee máák nie? Nou is ’n goeie tyd om te begin!”

      Elizabeth se aftrede het saamgeval met Brittanje se koudste winter in twintig jaar. Tinka het chroniese brongitis ontwikkel en haar hande en voete het permanent gevries gevoel. Dit was November, sy was siek en sy het na Koos du Plessis se “Helder Somerkersfees” verlang. Huis toe verlang … Haar pa het oor die foon en in sy briewe depressief geklink.

      Toe kom die vliegtuigongeluk … en ’n tuiskoms veel anders as wat sy haar voorgestel het.

      Hoe het sy gister vir Rheeder gesê? Die lewe loop sy eie draaie …

      Sy sug terwyl sy met ’n terpentynlap verfspatsels van haar nuwe boekrakke afvryf. Daarna hang sy die geel-en-wit ruitjiesgordyn op om die winkel se mikroskopiese kombuisie af te skort.

      “Mooi,” sê ’n diep basstem agter haar.

      Sy hoef nie om te kyk nie. Niemand anders klink soos ’n groot, wollerige beer wat ’n rasper ingesluk het nie. Sy is altyd lus en druk hom tot hy “Uhgg-uhgg!” sê, soos die teddiebeer wat haar pa vir haar van oorsee af gebring het toe sy elf was.

      “Pastei?” bied haar buurman aan en oorhandig ’n papiersakkie.

      “Oe, dankie! Ek’s rasend honger. So besig gewees dat ek vergeet het om te eet. Bedoel jy die kombuisgordyn?”

      “Eintlik jy … Maar dis ook mooi. Die

Скачать книгу