Die paradysman. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die paradysman - Ettie Bierman страница 5

Die paradysman - Ettie Bierman

Скачать книгу

as hy veilig getroud is? vra sy haarself af.

      Ja, natuurlik, besluit sy dadelik. Wat tussen hulle was, is verby die dag toe Eugene op die toneel verskyn het. As Rheeder ’n vrou het wat vir hom aartappels en pampoen skil, sal sy wat Tinka is dankbaar wees, want dit sal haar gewete salf. Dit sal beteken dat sy die woonstel kan huur, wat die oplossing vir haar probleme sal wees.

      Rheeder lees die onsekerheid in haar oë. Donker oë met digte, roetswart wimpers. Katinka van der Bijl is die mooiste meisie wat hy ken. Hierdie fyn swartkop met die blink oë en porseleinvel het van die eerste oomblik af ’n beskermingsdrang in hom wakker gemaak, sodat hy sy arms om haar wou sit. Haar wou liefkoos en vertroetel. Haar soen en syne maak …

      Hy het haar die eerste keer by die biblioteek gesien en daarna weke lank soos ’n skaduwee daar rondgedwaal, gehoop om haar weer raak te loop. Hy het by die bib aangesluit, elke tweede dag sy boeke gaan omruil, nuwes uitgeneem en weer gaan terugruil. Soos ’n klimtol op en af. Net vir ’n kans om haar weer te sien en vas te stel wat dit aan die vroumens is wat sy eetlus laat verdwyn het en hom snags koorsig laat wakker lê het.

      Dit het hom ’n week gekos om haar vir koffie by die kafeteria te skiet. Hy was dom en lomp en skaam. Te bang om aan haar te raak. Sy pel Joe het ’n plan bedink: Hy moes sê hy het ’n boek gelees oor fortuinvertellery, oor hoe om palms te lees. Dit sou hom ’n wettige verskoning gee om haar hand vas te hou. Dit het gewerk …

      Om haar uiteindelik gesoen te kry, het hy self bedink en uitgevoer. Op skool het hy al so ’n bietjie geoefen, sodat hy nie meer heeltemal ’n groentjie was nie. Hy kon sy geluk nie glo toe Tinka ja gesê het om saam met hom na die fakulteitsdans te gaan nie. Hy het ’n nuwe hemp vir die okkasie gekoop, sy kar gewas en twintig gebedjies opgesê dat hulle twee sou kliek.

      Hulle hét. Meer as net gekliek. Hy is nie te waffers met ’n wals nie, maar toe hy haar in sy arms neem, het atome gesplits en die aarde ophou draai. Katinka van der Bijl was die meisie vir wie hy sy hele lewe gewag het. Sy trouvrou …

      Altans, so het hy gedink. Tot die nuwe lektor in skeppende skryfkuns die jaar daarop by die departement Lettere en Wysbegeerte aangestel is. Eugene Letoit was ’n langhaardigter in sy middel-dertigs. ’n Introvert en filosoof, kastig ’n kenner van ’n vrou se dieper psige en ’n vertroueling van die muse.

      Tussen hom en sy uitblinkerstudent was daar ’n konneksie, ’n instinktiewe vonk. Hy het kort voor lank die weerlose Tinka gebreinspoel. Sy was soos ’n vis aan ’n hoek. Het met sterre in haar oë aan sy lippe gehang en elke woord van die baster-Fransman se lesings ingedrink.

      Soos Rheeder van neurosjirurgie gedroom het, het sy van kleins af gedroom om eendag ’n boek te skryf. Die groot Afrikaanse roman, Hertzogpryswenner. Daarvoor was sy bereid om op te offer, prys te gee, haar hárt en siél te gee. Sy het Afrikaans, Engels en Frans as hoofvakke geneem, wyd gelees – al die werke van die groot skrywers – en self ’n klompie essays geproduseer.

      Letoit het haar idealisme uitgebuit. Die krag van jou drome bevrug jou sukses, was glo sy motto. Sy sterstudent het dit as haar persoonlike leuse geneem. Sy het nagte deur gewerk en haar elke vakansie in die biblioteek afgesloof. Aanvanklik het sy net Saterdagoggende ekstra klas geloop by die vent, later was dit smiddae ook, toe saans … En nóg later ’n hele naweek.

      Rheeder was magteloos om te keer. “Ek kan nie, ek is besig, ek het te veel werk,” het sy elke keer verskoning gemaak as hy wou kom kuier.

      Dit was nie net hy nie, selfs haar pa kon nie tot haar deurdring nie. Dit was asof sy ’n obsessie gehad het, asof sy deur die skepsel gehipnotiseer was. Om sin in haar kop te probeer praat het nie gehelp nie. Hy het probeer en haar pa ook. Albei het hulle teen ’n klipmuur vasgeloop, terwyl sy al verder van hulle weggedryf het. Sy het in ’n kommune saam met Letoit en ’n groep vrydenkers gaan bly wat hulleself as postmodernistiese kunstenaars beskou het.

      Tinka het haar kursus in skeppende literatuur cum laude geslaag. In haar honneursjaar het sy met ’n novelle gebaseer op die komplekse liefdesverhouding tussen die digters Sylvia Plath en Ted Hughes ’n beurs gewen van die Societé Française, om vir ’n jaar by die Sorbonne die werke van klassieke meesters te bestudeer. Letoit het familie in Frankryk gehad en sou haar vergesel. Saam sou hulle die Louvre verken, Montmartre en die Notre Dame, en aan die voete sit van meesters soos Jean-Jacques Rousseau, Victor Hugo, Voltaire en Emile Zola.

      Dit was die kans van ’n leeftyd. Tinka het op die wolke gesweef en wou na geen raad, waarskuwings of ’n skewe woord oor haar held luister nie. Dis wat die breuk tussen haar en haar pa veroorsaak het: die feit dat hy Letoit as ’n gebruiker beskou het, ’n mísbruiker en ’n manipuleerder.

      Rheeder het erger name gebruik: ’n Don Juan, roué en libertyn wat haar hart gaan breek. Name en woorde wat op dowe ore geval het. Sy het geglo hy is jaloers, daarom dat hy die arme, onskuldige Eugene voortdurend gekritiseer het. Sy en Eugene sou hulle almal verkeerd bewys. Hulle gaan idillies gelukkig wees, mekaar inspireer en tot groot hoogtes aanvuur.

      Die verskyning van Tinka se droom was die beëindiging van Rheeder s’n. Hy wou met alle geweld agternagaan om haar teen seerkry te beskerm. Sy finale eksamen vir internskap was op hande en hy was platsak, maar hy was bereid om sy kar te verkoop en later ’n her te skryf.

      Tinka wou hom egter nie hê nie. Blindederms en galblase was minder romanties as die Champs-Elysées en die Eiffeltoring. Dit het sy duidelik vir hom uitgespel: op ’n bankie langs die Apiesrivier, elke keer wat hy gebel het, en oplaas in ’n lang verduidelikende brief wat verklaar het dat haar gevoel vir hom dood is en dat hy nie vir haar moet wag nie.

      3

      Rheeder maak die kombuisvenster toe en neem die sleutels wat op die eetkamertafel lê.

      “Kom, ek gaan maak vir ons koffie, dan praat ons oor die woonstel.”

      Tinka volg hom gedwee verby die jakarandas, die swembad en oor die patio. Hy kyk vlugtig na haar motor en sy wens dit was ’n blinknuwe model wat van welvarendheid getuig, maar hierdie verrinneweerde ou rammelkassie was die beste wat sy kon bekostig. Haar pa het ’n bankrotboedel en ’n swaar skuldlas nagelaat, en sy moes haar spaargeld gebruik om dit te delg. Selfs die huis het ’n derde verband op gehad, sodat dié op ’n veiling verkoop moes word, saam met al die meubels.

      By sy voordeur staan Rheeder opsy sodat sy eerste kan instap. Tinka onthou hy het altyd goeie maniere gehad. Hy is nie die geduldigste man op aarde nie, maar al was hy soms woedend kwaad, het hy steeds hoflik gebly. Die enigste eienskap wat hy en Eugene gemeen gehad het.

      “Sit,” sê Rheeder in die sitkamer. “Koffie?”

      “Asseblief.”

      “Sterk, met warm melk?”

      Sy glimlag effens. “Jy het ’n goeie geheue.”

      Op pad kombuis toe gaan staan hy. “Ongelukkig, ja.”

      Sy snap die skimp. “Ek het dit vriendelik bedoel, as ’n kompliment. Dis nie nodig dat jy dit as ’n opening sien om weer die verlede op te rakel nie.”

      ’n Enigmatiese glimlaggie speel om sy mond en hy stap die gang af sonder ’n verdere woord.

      Tinka gebruik die kans om in die sitkamer rond te kyk. Dis netjies en smaakvol, maar kaal. Strak en ongesellig. Sy mis ’n paar helderkleurige kussings op die leerbank, ’n sagte leeslamp en ornamente of potplante. Daar is een skildery teen die muur – ’n Adriaan Boshoff, as sy haar nie misgis nie – maar dit hang simmetries, presies in

Скачать книгу