Sonpad na Zanzibar. Madeleine Malherbe

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sonpad na Zanzibar - Madeleine Malherbe страница 5

Sonpad na Zanzibar - Madeleine Malherbe

Скачать книгу

af te smeer nie.

      “Goed, dankie, tannie Katarina,” antwoord Isabelle werktuiglik. “Jammer ek kom nou eers hier aan.”

      “Dis in die haak. Ek wil nie hê jy moet verplig voel om elke dag te kom nie. Ek wil juis met jou daaroor praat.” Die ouer vrou beduie dat Isabelle moet sit.

      “Waar is Rigardt?” vra sy nietemin.

      “Sy pa stap met hom om die blok.” Katarina vee moeg oor haar oë, versigtig om nie haar maskara te smeer nie. “Kom sit hier by my. Koffie? ’n Glasie wyn?”

      “Nie nou nie, dankie. Ek het pas koffie gedrink.”

      “Ek het gewonder waar jy bly.”

      Katarina klink nie verwytend nie, maar Isabelle kom agter dat daar tog ’n vraag in haar opmerking skuil.

      “Iemand wat vanoggend in my vasgery het, leen vir my ’n motor,” verduidelik sy bondig. Sy verswyg die omvang van die skade, en Katarina vra gelukkig nie verder uit nie. Sy lyk afgetrokke en speel aanhoudend met haar swaar silwerarmband.

      “Ek sal nie doekies omdraai nie, Isabelle. Ek en oom Walter het gepraat. Ons wil hê jy moet weet dat ons nie sal omgee as jy die verlowing verbreek nie. Om die waarheid te sê: ons dring daarop aan dat jy dit doen.”

      Die woorde skok deur Isabelle. Dis nie heeltemal onverwags nie, maar noudat dit gesê is, voel sy tog skuldig. Sy het gehoop dit sal eendag gesê word, maar sy kan net dink wat dit vir Katarina gekos het om dit te moet sê. Net sy wat Isabelle is, weet dat sy twee jaar gelede al die verlowing wou verbreek – onder ander, vroeër omstandighede.

      Maar vandag weet sy dat dit hierdie keer nie langer uitgestel mag word nie. Sy voel oud en moeg, baie moeg. Die afgelope jare het aan haar gevat. Dit het haar vreugde gesteel, haar lewenslus geblus. Sy het werklik langer aangehou as wat enigiemand van haar kon verwag.

      “Soos Rigardt nou is, kan hy jou niks bied nie. Hy kan nie ’n werk doen wat julle sal onderhou nie. Hy kan nie vir jou vrolike, opgewekte geselskap wees nie. Hy kan jou nie op uitstappies neem en lekker vakansies bied nie. Hy is nie meer die man aan wie jy verloof geraak het nie. Dis ’n ander mens wat hier sit. As hy binnekort begin werk by sy pa se fabriek, sal hy onder iemand se toesig ’n outomatiese werkie moet doen. Dit sal hom iets gee om besig te bly, mense en gesigte om te sien. Ons is natuurlik baie bly oor die geweldige verbetering wat daar die afgelope tyd was, maar dit kan nog jare duur voordat hy weer die mens is soos wat ons hom geken het. Indien ooit.”

      Isabelle bly kop onderstebo sit. Sy weet nie wat om vir hierdie trotse, deftige vrou te sê nie. Sy weet dat die laaste twee jaar ook vir Katarina geknak het. Geen ma kon haar seun soveel sien deurmaak en onaangeraak bly nie. Sy het, net soos Isabelle, gejuig oor elke klein vordering wat daar intussen te bespeur was. Aanvanklik elke klein beweging raakgesien, elke oomblik van waarheid beleef en bespreek. Vir almal wat belanggestel het, alles vertel.

      “Ek sal daaroor dink, tannie,” stel Isabelle die oomblik uit. Maar sy weet sy het klaar besluit. Wat sy nou gevra word om te doen, is net die vooraf uitgemaakte slot van ’n baie lang, baie treurige verhaal.

      “Daar is nie ’n ander antwoord nie.”

      Katarina vat haar hand en druk dit innig – vir haar ’n ongewone gebaar. Isabelle het haar leer ken as iemand wat nie maklik emosie wys of haar waardigheid prysgee nie. Oom Walter is die een wat maklik trane afvee, wat groot omhelsings maak en stywe drukkies uitdeel.

      “Wat jy vir ons seun gedoen het, sal ons nooit vergeet nie. Ons weet jy het jare opgeoffer, dae ingesit, baie ure aanhoudend probeer en weer probeer. Nou moet ons jou vrystel sodat jy kan aanbeweeg, ’n nuwe lewe begin. Miskien weer ’n man ontmoet. Hou die ringetjie en laat verander dit in iets moois – ’n hangertjie, of iets om sommer nou en dan as ’n stukkie juweliersware te dra. Kom kuier nou en dan. Maar ontmoet iemand anders, en kom stel hom eendag aan ons voor.”

      Isabelle sit doodstil, haar blik op die mooi vrou met die moeë oë. Wat moes dit haar nie gekos het om te sê wat sy nou gesê het nie …

      Met hierdie woorde het Katarina erken dat sy die handdoek ingooi. Dat sy haar ambisieuse drome vir haar seun begrawe het en leer aanvaar het wat die lewe hom toegedeel het.

      Van haar wat Isabelle is, sal sy ma nooit die volle waarheid oor Rigardt hoor nie. Dis ’n geheim wat saam met haar eendag graf toe sal gaan, het Isabelle lankal besluit.

      Die voordeur gaan oop en Rigardt en oom Walter kom in. Toe Isabelle die vreugde op Rigardt se gesig sien toe hy haar gewaar, wil haar hart breek. Amper begewe haar moed haar.

      Sy knik net effens met haar kop in Katarina se rigting, sien dat die ouer vrou dit raaksien. Hulle verstaan mekaar se verwarring, mekaar se leed.

      ~ 3 ~

      Dag vir dag as Isabelle in Ernst Joubert se guitige sportmotortjie rondry, dink sy aan hom. Sy sien hom egter nie weer nie.

      Sou hy dan nooit wonder wanneer hy weer sy motor sal terughê nie? Mis hy dit nie tydens naweke, wanneer hy blykbaar met die motortjie gery het nie? Miskien Hartbeespoortdam toe om te gaan seil, saam met ’n lieflike meisie wie se hare in die wind wapper. Of na ’n lekker wegbreekplaas iewers diep in die platteland?

      Isabelle se motor word herstel.

      “Maar dit gaan lank neem,” verseker die paneelklopper haar. “Die skade is groot en ek wag vir ’n part. En die fabriek wat die onderdele maak, is aan die staak. Ek besef dis ’n splinternuwe motor; dit moet so goed as uit die boks wees,” verseker die fris man met die getatoeëerde arms haar. “Jy sal ongelukkig nog moet wag. Ek weet nie vir hoe lank nog nie.”

      Sy is dus afhanklik van die geleende motortjie. Sy moet seker maar vir Ernst Joubert kontak en sê dat dit nog miskien tot tien dae sal neem.

      Maar sy bly baie besig en kom nie by bel uit nie. Boonop voel sy hy kan maar die ongerief verduur aangesien hy so dom was om ’n ongeluk te maak deur sy selfoon in sy motor te gebruik. Hy kry net wat hy verdien, verseker sy haarself ietwat moedswillig.

      Sy gaan gereeld na Dolf Dreyer in sy weelderige huis, waar ’n kloekende huishulp en ’n inwonende assistent, Thabo, vir hom sorg.

      “Die pyn maak my klaar,” sê hy moedeloos.

      “ ’n Skietwond is ’n duiwel,” stem sy saam. “Dit doen soveel skade omdat dit so groot is en ’n groot klomp weefsel of been vernietig. Ek is so bly jou neuroloog gaan vir jou ’n pynblokkeerder insit. Ek weet van baie goeie resultate met dié operasietjie. Sodra die blokkeerder in is, keer dit dat die senuwees die pynboodskap na die brein deurgee.”

      Sy laat hom opstaan en wys hom weer hoe om die swakker linkerbeen te oefen.

      “Wanneer hierdie regterbeen nog ’n bietjie sterker is, gaan jy weer stap! Dan sal die swakker linkerbeen ook begin verbeter. Moenie nou staan en moedeloos raak nie, Dolf. Ek maak staat op jou. Oefen! Oefen! Oefen! Jy kán dit doen.”

      Hy is ’n groot man en sy is uitasem toe sy hom stewig om die middel vashou en hom weer in die rolstoel laat sak. Sy probeer om nie te dink aan die nabyheid van die man nie. Hy is groot en fris, ’n pragtige man, wat nou ongelukkig ’n bietjie gewig optel omdat hy nie meer aktief is nie. Maar steeds ’n lus vir die oog, moet sy erken.

      “Dankie, jy’s ’n engel,” sê hy

Скачать книгу