Sonpad na Zanzibar. Madeleine Malherbe

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sonpad na Zanzibar - Madeleine Malherbe страница 7

Sonpad na Zanzibar - Madeleine Malherbe

Скачать книгу

Sy weet hoeveel ure en ure se rehabilitasie hom gebring het tot op hierdie punt waar hy homself taamlik goed kan behelp.

      Sy weet ook dat hy liewers alles self moet doen – dis goed vir sy selfvertroue.

      En juis om hom nie as ’n hulpelose gestremde te laat voorkom nie, het sy moeite gedoen met haar voorkoms. Mense sal meer respek vir hom hê as die vrou aan sy sy iemand is op wie hy trots kan wees, dink sy simpatiek. Iemand wat by hom is omdat sy hom waardeer as mens, en nie uit jammerte of omdat sy betaal word om saam met hom daar te wees nie. Of ’n afgesloofde familielid nie.

      Sy weet sy lyk pragtig met haar hare wat in sagte kartels om haar gesig en tot in haar nek hang. Haar ovaalvormige gesig lyk mooi met amper enige haarstyl, selfs as sy haar hare strak wegkam vir die werk. Maar daar kom ’n vriendelike sagtheid oor haar as haar hare los hang en sy vleiende, vroulike klere aantrek.

      Hulle geniet die fliek en raak na die tyd in druk gesprek daaroor.

      “Ek hou nie van Meryl Streep nie, sy het al wéér oorspeel,” kla sy kastig.

      “Jy is seker nie ernstig nie,” kap hy teë. “As jý in so ’n krisis was, sou jy ook tekere gegaan het.”

      Sy lag hom uit. “Sy was uitstekend. Ek wou jou maar net ’n bietjie terg. Ek weet die meeste mense is mal oor haar.”

      “Kom ons gaan eet iets of gaan drink ’n glasie wyn,” stel hy voor.

      “Dit sal lekker wees.”

      Sy help hom kies tussen twee restaurante wat albei gesellig lyk. Hulle kry ’n lekker hoekie waar sy rolstoel uit die pad staan. Hy staan self op en kom sit langs haar aan tafel. Heimlik is sy bly dat hulle nie te veel in die oog is nie. Sy wil darem nou ook nie dat bekendes hulle dalk sien en allerhande verkeerde afleidings maak nie.

      Amptelik is sy nog ’n verloofde vrou, hoewel sy weet dat niemand meer van haar verwag om aan Rigardt getrou te wees nie. Maar nie meer vir lank nie, beloof sy haarself. Sy is dit aan haarself verskuldig om weer met die lewe aan te gaan.

      “Wat het jy nog onlangs gesien?” vra Dolf uit.

      Sy erken dat sy lanklaas gefliek het, lanklaas uitgeëet het, lanklaas vlooimark toe was, lanklaas in die winkels rondgeflenter het, behalwe soms met ’n vriendin wat haar saamsleep.

      “Dan is dit hoog tyd dat albei van ons hierdie aand geniet,” kondig hy aan en vra dat die kelner spyskaarte bring. “Ons gaan eet en drink en vrolik wees.”

      Dit word die lekkerste aand wat Isabelle in twee jaar beleef het. Sy flankeer ’n bietjie met hom, terg hom en laat haar terugterg. Hy laai haar eers kort voor middernag by haar huis af.

      “Jammer dit het so laat geword. Jy moet môre werk,” sê hy.

      Sy buk af by sy oop motorvenster. “Dis niks. Ek het lanklaas laat uitgebly en dit was heerlik. Lekker slaap!”

      “Jy het my vanaand ’n groot eer aangedoen.” Hy sit sy hand op hare. “Ek kan jou nooit vergoed daarvoor nie. Dankie dat jy vir my so absoluut pragtig lyk, en dat jy geduld met my gehad het.”

      “Ons moet dit weer doen,” stel sy voor.

      Sy weet dat sy onder die omstandighede maar die voortou kan neem. Self sal hy dalk nie die selfvertroue hê om haar uit te vra nie.

      “Dit sal heerlik wees.”

      Sy leun vinnig vorentoe en soen hom op die wang, kry die geur van ’n heerlike vars naskeermiddel. Toe draai sy om en verdwyn by haar huisie se voordeur in. Sy hoor hom nog ’n rukkie wag, dan sy motor aanskakel en baie stadig wegry.

      Dit was nou lekker, dink sy tevrede. ’n Lekker ontspanne aandjie by die fliek en daarna lekker geselskap, soos in die dae toe sy baie uitgegaan het voor en na sy vir Rigardt ontmoet het.

      Al het ek die man nou ook self uitgenooi, het ek vanaand ’n afspraak gehad, juig dit in haar.

      Wat het my besiel? wonder sy egter die volgende dag in die helder oggendlig terwyl sy en Maxi en Yvette gou saam praktykvergadering hou.

      “Nie net het ek met ’n pasiënt uitgegaan nie, ek het hom sowaar gesoen! Én hom aanleiding gegee om te dink daar sal nog sulke afsprake wees,” erken sy teenoor haar kollegas.

      “Gesoen nogal, nè?” beklemtoon Maxie dramaties.

      “Net ’n ou piksoentjie vir nagsê,” antwoord Isabelle, skielik skaam oor haar impulsiewe daad.

      “Kan nie skade doen nie,” reken die kalm Yvette. “Hy sal ’n sot wees as hy op die eerste aand, ná die eerste soentjie, allerhande gedagtes kry.”

      Maar Isabelle is nie so seker nie. Dit was ’n fout, erken sy teenoor haarself. Sy is nie regtig verlief op Dolf nie, en dit was baie verkeerd om hom aanleiding te gee. Hy is reeds kwesbaar, en moontlik oorgevoelig vir verwerping omdat hy in ’n rolstoel is.

      “Al wat met die affêre – let wel, ek sê affêre en nie affair nie – verkeerd is, is dat dit dom van jou is om uit een verhouding oor te gaan in nog ’n verhouding met ’n gestremde,” voeg Yvette by. “Maar dis darem waar: as die brein helder is, is daar nie soveel sprake van gestremdheid nie. Dan is dit net die liggaam wat sukkel. Maar jy as fisio weet miskien meer as enigiemand anders wat die implikasies dáárvan is.”

      “Die twee gevalle is glad nie eenders nie,” protesteer Isabelle.

      “Aan die ander kant,” gaan Maxie voort, “is jy darem ook, meer as enigiemand anders, daartoe in staat om so ’n persoon by te staan en selfs te versorg.”

      “Maar wil jy nou regtigwaar jou werk daar buite in jou persoonlike lewe ook nog doen?” vra Yvette. “Moet jy nie iewers wegkom van pasiënte en hulle probleme nie? Is dit nie genoeg dat jy agt of meer ure van elke dag rehabilitasiewerk doen nie?”

      “Stop, stop, stop! Dis nie asof ek met die man gaan trou nie.”

      Isabelle is lief vir haar kollegas wat haar en haar situasie so deur en deur ken en haar so wonderlik ondersteun. Maar nou is sy moeg vir al die kommentaar op haar aandjie uit saam met Dolf.

      “Kan ons asseblief vergeet van my dinge en net aangaan met die vergadering? Wie gaan volgende maand die rehab-hospitaal doen as Yvette met verlof is?”

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек,

Скачать книгу