Sondag van die silwersee. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sondag van die silwersee - Maretha Maartens страница 6

Sondag van die silwersee - Maretha Maartens

Скачать книгу

’n grendel ook.”

      “Oom het my lewe gered,” sê ek dankbaar.

      Hy werskaf met die kussings agter Buurvrou se rug. “Maar dit los nie jou probleem op nie. Die lollery kom by die oopsluit van buite af. Die slot is so uitgeslyt soos ’n ou mens se heuppotjie.”

      “Ek het nie geweet nie,” sê ek.

      “Hoe sal jy nou ook weet?” Sy agterkop staan hoekig, korrelkop gebore. “Alles gebeur mos maar met die intrekslag. Eers as ’n ou mens by jou intrek, vind jy uit van die heup se potjie. Eers as jy by ’n ou huis intrek, vind jy uit van sy skete.”

      Hy draai om en gee my die kyk van ’n óú gadeslaner.

      “Die mense voor jou het mos net gehuur, altyd ’n slegte voorbode. Hulle het een van die kinders – so ’n sening van ’n skepseltjie – gereeld deur die venster laat klim. Die ma stoot van onder af, die pa baklei omdat sundowner-tyd verbygaan. Toe verloor hulle boonop die voordeursleutel. ’n Geween en gekners van tande, want die een trek toe en die ander een wil juis by die voordeur ín en dis oor en weer verwyte . . . Ek en die tannie is ook maar dankbaar hulle is vort.”

      “Hulle hét hulle mooi eienskappe gehad,” sê Buurvrou.

      “As jy lank daarvoor soek, soos vir olie,” sê Buurman. “So, meisie, nou weet jy: ek het ’n loeper vir noodgevalle. Ondertussen moet jy die slot maar elke keer benáder.”

      Loeper? O, loper.

      Hy hang die loper aan ’n sleutelhaak met sleutels van alle vorms en groottes.

      “Later as jy goed ingeburger is, moet jy dit dalk maar oorweeg om ’n nuwe slot te laat insit. Dit gaan jou net kós, met daardie deur.”

      “Gaan skakel vir ons die ketel aan, hart,” sê my buurvrou vir hom. En vir my: “Ons drink gou ’n koffietjie. Ons moet darem vir jou sê ons is bly jy’t hier langs ons ingetrek, Farah.”

      “Dalk ’n volgende keer,” sê ek. “Ek bly nog tussen die bokse; ek moet gaan uitpak.”

      My buurman tel die bruin loefa van die vensterbank af op. “Dalk het jy nog nie tyd gekry om by die winkel uit te kom nie. Hier’s solank vir jou ’n vadoek. Jy’t seker maar heelwat om reg te vat daar oorkant die muurtjie.”

      “’n Vadoek, oom?”

      “Die goed vervuil in die tuin,” sê my buurman. “Ek het al seker by die ses dosyn van hulle hier aan my kant van die muurtjie gepluk. Al die ou vrouens in die straat was nou skottelgoed met dié vadoeke uit my tuin.”

      “Ek het altyd gedink loefas groei net in Indië,” sê ek.

      “Ek plant hulle self,” sê Buurman. “As jy by jou kombuisvenster uitkyk, sal jy die laastes aan jou kant van die werfmuur sien hang. Lelike plant, wilde ranke, maar in die blomtyd is die blomme iets vir die oog, en die loefa self lyk darem so half op ’n komkommer. Die ou vrouens is gaande oor die goed. Maar wag, ek sien jy’s haastig. Jy moet maar roep as ons met iets kan help. Probleme sal jy optel, dis die lewe. Veral met huurders – hulle maak dit twee keer meer. Gee mos nie om nie; dis anderman se goed en hulle doen hom ’n guns om hom vir die dak oor hulle kop te betaal.”

      “Die vrou was maar sitterig,” beaam Buurvrou.

      “Voor die TV,” kleur Buurman die prentjie klaar in. “Kyk sepies, rook, los die skottelgoed in die wasbak – nie dat sy veel gekook het nie. Daar was nie ’n hand op daai huis nie. En ons weet tog almal: as jy nie jou hand op jou huis hou nie, lig ’n ding wat jy nie geplant het nie, jou plek van onder sy fondasie af op. Die dorp is vol vreemde plante deesdae. Seker die uitlanders wat hier kom vakansie hou. Elkeen bring sy eie ondeug saam: plante en sade en dwelms en wie weet wat. Nee, ’n mens moet jou hand op ’n huis hou as jy van plan is om daarin te bly leef.”

      Ek knik instemmend.

      “Oom laat my aan my pa dink,” sê ek. “En dis ’n kompliment.”

      “Ek en die oukêrel het gekliek toe julle na die huis kom kyk het,” sê Buurman. “Ons sal die land en die wêreld behoorlik uitsorteer as hy weer kom kuier.”

      “Ek dink nie my pa sal ooit weer kuier nie,” sê ek. “Hy het ’n beroerte gehad en word 24 uur van die dag versorg. Ek bid maar net dat ek sy toestand verkeerd lees.”

      “Ai tog, ai tog,” sê my breedgespanne buurvrou simpatiek. “En jy, so alleen hier in die Kaap. Of is jy en jou vriend – die jong man wat in November saam met julle hier was – toe ondertussen getroud?”

      Sy verwag ’n antwoord van my.

      “Ons maak maar eers doodseker,” kry ek ’n antwoord aanmekaargetimmer.

      “Altyd ’n goeie ding,” sê my buurvrou. “Ons het dieselfde gedoen, en hier is ons nou al agt en veertig jaar lank getroud.”

      “Jjja-ppp,” sê Buurman. “En glo my, nék-omdraai het ons dikwels oorweeg, maar skei? Nooit nie.”

      “Dons was onmóóntlik toe hy jonk was,” vat my buurvrou vlam. “’n Vuurvreter as daar ooit een was. Baklei op elke kerkraadsvergadering. Kan nie van politieke vergaderings af wegbly nie, en as hy daar is, neem hy die vergadering oor. Ek het my morsdood geskaam.”

      “Dit kon ek nog nooit verstaan nie,” sê Buurman. “Die vreeslike geskamery. Sy’t tog voor die troue geweet waarvoor sy haar inlaat!”

      “Die ergste was etenstye,” sê Buurvrou. “Ons het destyds nog op Aberdeen gebly; jy weet hoe dit op die platteland gaan. Hy was in die polisie . . .”

      “. . . voor ek gaan boer het,” sê Buurman.

      “Die polisiestasie was twee blokke van die huis af,” sê Buurvrou. “Dons kon huis toe kom vir middagete. Ons het ’n buurtannie gehad wat nie ’n sáák met tyd gehad het nie. Halftwaalf, kwart oor twaalf kom drink sy tee. En dan raak sy aan die gesels. Dons het dié storie een of twee keer verduur, toe skakel hy oor na plan B. Hy het eenvoudig sy mes en vurk op die tafel oorkant haar uitgepak, die sout-en-peperpotjies voor hom neergesit, sy servet by sy kraag ingesteek en gewág. Ek het dan so verbouereerd geraak dat ek vir hom eiers gaan bak of ’n omelet gemaak het. Maar hy is nie eintlik een vir eiers nie. Een of twee keer se eiers, toe sê hy reguit vir die antie wat so ingeburger daar sit: ‘Nou ja, ek sien tannie maak aanstaltes om te gaan; tannie het seker ook verpligtinge dié tyd van die dag.’ Sy het aanstoot geneem en by ander tafels gaan praat; die hele Aberdeen het geweet watter kwaai man die arme ou pasgetroude vroutjie het.”

      “Dis ounag, my vrou,” sê Buurman en rangeer my met die regte hand-en-armbewegings gangdeur se kant toe.

      “Los soggens sommer die roldeur oop as jy skool toe ry,” sê hy. “Ek sal dit agter jou toemaak as jy uit is. Dis beter om vroeg op die pad te kom – die verkeer hier op Somerset-Wes en Stellenbosch se kant toe is iets aardigs. Die hele wêreld is mos deesdae hier in die Kaap. En vandeesweek gaan dit nog erger word met die Suidoosterfees en die J&B Met en als. Dan kom die kinders ook nog met die busse. Daardie manne sal hulle ry moet kén, dis ’n vinniger soort bergpas hierlangs as in die Sneeuberge.”

      “Alexander bestuur al jare lank sy pa se skaaplorries, my man,” sê my buurvrou. “Natuurlik moet ons bly bid vir hulle veiligheid, maar ek sê

Скачать книгу