Skoonlief en die dirigent. Marijke Greeff

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Skoonlief en die dirigent - Marijke Greeff страница

Skoonlief en die dirigent - Marijke Greeff

Скачать книгу

>

      

      Skoonlief en die dirigent

      Marijke Greeff

      Satyn

      1

      “Dit sal die verdomde dag wees!” Nina bewe van verontwaardiging en gooi die vlegsel waarmee sy ingedagte staan en speel het, vererg terug oor haar skouer. “Dis heeltemal buite die kwessie – ek gaan nie lyfwag speel vir die een of ander pretty boy wat ’n lewe maak deur konsert te hou nie!” ’n Verblindende woede stoot in haar bors op en kom sit in ’n hittevlaag net onder haar wangbene. “Ek het baie belangriker goed om te doen as om ’n wildvreemde mansmens se hand te sit en vashou terwyl hy die rykes en beroemdes van die stad vermaak. Hoekom moet hy in elk geval opgepas word? Ek is seker dis net die kunssinnige bleeksiele wat na sy konserte gaan kyk.” Sy snork verontwaardig. “Geen gevaar daar nie!”

      “Ek dink nie jy verstaan mooi nie.” Patrick se donker oë gloei in sy bleek gesig en Nina weet uit jare lange ervaring dat wanneer haar broer se gesig so lyk, dit ’n seker teken van groot moeilikheid is. Sy onderdruk egter die ritseling van vrees in haar binneste en gooi haar skouers agteroor. Sy gaan nie nou ingee nie. Sy het te hard gewerk om te kom waar sy is om haar nou goedsmoeds in so ’n belaglike situasie te laat inboelie. Buitendien, haar intuïsie sê vir haar sy is uiteindelik op die spoor van die meesterbrein agter die groot dwelmnetwerk.

      “Ek is ’n speurder in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, nie ’n lyfwag nie. My posisie in die misdaadondersoekdiens is iets waarvoor ek baie moes opoffer, dit het nie in my skoot geval nie. Ek is besig om ’n belangrike saak te ondersoek, ek het nie tyd om die een of ander dirigent se hand vas te hou nie.”

      “Die belangrike saak waaraan jy kwansuis werk, is afgehandel, die dossier is gesluit, en die dirigent van wie jy so neerhalend praat, is ’n internasionale superster.”

      Nina rol haar oë. “Gmf! Soveel te meer rede om vir die man professionele beskerming te kry en nie ’n oorwerkte speurder nog meer te oorlaai nie.”

      “Nina, jy is besig om my geduld tot die uiterste te beproef!” Patrick se stem klap soos ’n sweep. “Jy is oorwerk omdat jy jou neus indruk waar dit nie hoort nie en dit veroorsaak dat jy perspektief verloor!”

      Nina se kop ruk op. “Perspektief verloor?” Sy gee twee treë en dan staan sy reg voor Patrick se lessenaar. Sy druk haar handpalms op die blad voor haar en leun vorentoe. “Wie is die een wat eintlik perspektief verloor? Het jý vergeet dat jy jou jongste broer net ’n paar maande gelede in ’n lykshuis moes gaan uitken?” Die bewing in haar bene slaan in haar stem deur. Sy buk nader en druk haar gesig byna teen haar broer s’n. Sy sluk vererg aan die knop in haar keel. Sy sal nié huil nie! Sy sal sterk wees ter wille van Damian.

      “Dis nou genoeg!” Pat slaan so hard met sy vuis op die lessenaar dat die papiere voor hom wip. Hy staan so vinnig op dat sy stoel agter hom omslaan. “Selfs die feit dat jou pa in die polisiediens was, en al jou broers steeds hier diens doen, gaan jou nie nou help nie, Nina. Ek is jou bevelvoerder en ek beveel jou om hierdie opdrag nougeset uit te voer. Doen dit nie, en jy sal die gevolge dra.”

      Nina verstyf. “Watter gevolge?”

      “Jy sal die res van jou loopbaan in die polisiediens agter ’n lessenaar in ’n kantoor slyt. Dis te sê as jy nie oneervol uit die diens ontslaan word nie.”

      “Maar –”

      “Ek het klaar gepraat, inspekteur O’Neill. Dis ’n direkte opdrag van die kommissaris dié. My hande is afgekap.” Pat tel sy stoel op en gaan sit weer. Hy lyk skielik vir Nina dodelik moeg en haar hart krimp pynlik ineen.

      “Kom die bevel van die kommissaris af?” Iets in Nina se binneste gee skiet, ’n gevoel van verligting wat die trane wat sy netnou kon keer, nou onwillekeurig in haar oë laat skiet. Sy moes geweet het dat dit nie Pat is wat hierdie besluit oor haar loopbaan geneem het nie.

      “Ek het vanoggend ’n lang gesprek met die kommissaris gehad.” Pat vee oor sy gesig. “Hy het ’n moeilike vergadering met die burgemeester en die regerende party agter die rug. Hulle dring aan daarop dat jy summier geskors word.”

      Nina se oë rek en haar hart klop benoud in haar keel. “Ek het ’n glas bier in die man se gesig gegooi, ek het nie aan sy persoon geraak nie. Hy het geen beserings opgedoen nie!”

      Pat sug. “Ja, Skoonlief, maar was dit nodig om vir die man te sê hy is slangbollie op die bodem van die see? Dit was baie erger as ’n opstopper. Dit het sy ego genoeg gekrenk om hom te noop om die saak baie hoër op te neem.”

      Nina se hart verteder toe sy die troetelnaampie hoor waarop haar broers haar sedert haar kinderjare al noem. Pat is dus nie só kwaad vir haar nie. Sy frons terwyl sy probeer onthou wat sy nog alles vir Samuel Meroni gesê het toe sy ’n week gelede haar bier in sy gesig gegooi het. Sy kyk na Pat. “Hy het eers by my probeer aanlê en toe dit nie werk nie, het hy my doelbewus probeer uitlok.”

      “Wat hy baie goed reggekry het.” Pat se stem is droog. “Hoekom het jy nie net omgedraai en weggeloop nie?”

      Nina se hande bal in vuiste en sy kyk pleitend na haar oudste broer. “Hoe kon ek? Ek bly dink aan Damian se gesig daardie laaste oggend toe hy gesê het dat ek in die bed moet klim en dat hy die leidraad sal ondersoek.” Sy sluk. “Hy het vir my ingestaan en met sy lewe daarvoor betaal. Ek het sy gebroke weduwee se gesig voor my gesien, en toe Meroni my koggel met die polisie se voortvarendheid wat weer op niks uitgeloop het nie, het ek heeltemal beheer verloor.”

      “En dit is presies hoekom jy jou vir ’n tydjie met iets anders moet besig hou.”

      “Maar ek sê jou Meroni is betrokke by hierdie dwelmnetwerk op wie se spoor ons al hoe lank sit, en ek sal my kop op ’n blok sit dat hy die een is wat die lokval beplan het waarin Damian dood is.”

      “Soos ek reeds herhaalde kere vir jou aan die verstand probeer bring het: die saak waarvan jy praat, is afgehandel. Die skuldiges is in hegtenis geneem, die dossier gesluit. Jy het geen bewyse teen Meroni nie, Skoonlief. Iemand met jou ervaring in die polisiediens behoort van beter te weet as om die man sommer so in die openbaar aan te vat, en dit terwyl hy in die geselskap is van prominente mense van die stad - geselskap waarvan sy verloofde en haar ouers ook deel uitgemaak het.”

      Nina gaan sit met ’n plofgeluid op die stoel agter haar. Sy weet dat die slak van ’n Meroni verloof is aan die biljoenêrsakeman Douglas Thomas se dogter. “En soos gewoonlik praat geld harder as enigiets anders. Dit was natuurlik Douglas Thomas wat sy invloed by die burgemeester en wie weet wie almal nog gebruik het om my uitgeskop te kry,” sê sy hees.

      “Hy is die hoofborg van die regerende party.” Pat kyk op sy horlosie. “Ek is laat vir ’n vergadering. Jou afspraak met Quinn Chauncey en die burgemeester is vanmiddag twee-uur in die Ardmere-hotel se konferensie-kamer.”

      Nina se wenkbroue lig. “Die Ardmere nogal! Hoe dan anders? Ek is seker net vyfsterweelde sal vir Quinn Chauncey goed genoeg wees.” Sy laat sak haar kop in haar hande. “Hoekom moet ek so gestraf word? Die man se ego is waarskynlik groter as sy bankrekening, en nou sit ek met hom opgeskeep. Hoe gaan ek ooit weer my gesig in die teekamer wys? Die res van hierdie afdeling gaan hulle slap lag as hulle weet wat ek vir die volgende twee weke moet doen.”

      Pat kyk streng na haar. “Ek hoef jou seker nie daaraan te herinner dat as jy jou vir een keer in jou lewe by die reëls gehou het, jy nie nou in hierdie situasie sou gewees het nie. O, en nog een ding: die burgemeester het versoek dat hierdie situasie nie aan die groot klok gehang word nie. Die Chauncey-span wil nie die konsertgangers afskrik deur te opsigtelike polisiëring nie.”

Скачать книгу