Iemand soos jy. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Iemand soos jy - Schalkie van Wyk страница 5

Iemand soos jy - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

stoot Sonette se woonsteldeur oop. Sy merk dat die kombuislig brand en druk die voordeur agter haar toe.

      “Haai, Sonette! Ek kan nie glo ek het jou eindelik opgespoor nie!” roep sy terwyl sy deur die donker sitkamer na die kombuis draf.

      Die kombuislig word afgeskakel toe sy die deur bereik en sy ruk in haar spore tot stilstand. “Moenie laf …” begin sy onthuts, en snak na haar asem toe sy ’n donker gestalte voor haar gewaar.

      Sy maak haar mond instinktief oop om te gil, maar ’n sterk arm gryp haar vas en ’n hand smoor die beangste gil op haar lippe.

      2

      Skok laat Elzeri se hart pynlik in haar bors ruk en laat versteen elke spier in haar liggaam. Sy het ’n inbreker in Sonette se kombuis betrap en nou … en nou … Sy moet iets doen!

      Die man gaan haar versmoor, want sy kan nie asemhaal nie. Nee, sy kan, maar sy is só bang dat sy vergeet het om asem te haal. As die man se arm nie soos ’n staalband om haar bors en arms gesluit het nie, kon sy …

      “Dis vir die onverdiende skop op my maermerrie, klein pes!” sê Arendt uittartend, sy asem warm in haar oor. Hy los haar en skakel die kombuislig aan.

      Sy knip haar oë, verblind deur die onverwagte helderheid van die lig, en hou aan om haar oë te knip om van die onverwagte wasigheid voor haar oë ontslae te raak.

      “Klein tjankbalie! Jy het my in die grotte verseker jy is ’n supersterk meisie met bultende spiere en kennis van karate, maar nou huil jy soos ’n baba,” jou Arendt haar uit. Hy tel ’n rol handdoekpapier op en druk dit in haar hande. “Blaas jou neus en droog jou trane af, meisiemens. Sonette sal nie plasse water op haar skoon kombuisvloer waardeer nie.”

      Sy was nie eens bewus daarvan dat sy huil nie, dink Elzeri verslae, want dis asof haar oë sonder haar wete en sonder snikke huil. En sy weet nie waarom sy huil nie. Dit was ’n aaklige skok om in die donker deur iemand vasgegryp te word, maar gewoonlik is sy kwaad as sy skrik.

      Maar sy is nie nou kwaad nie, dink sy en staar deur haar trane na Arendt, wat haar fronsend betrag. Sy is net ontsteld en hartseer, daarom kan sy nie ophou huil nie.

      “Elzeri?” Arendt vat die rol handdoekpapier uit haar hand, skeur ’n strook af en klad haar trane met versigtige vingers. “Ek is nie spyt dat ek jou laat skrik het nie, want jy het my geskop, maar ek is jammer dat jy so verskriklik huil. Genugtig, meisiemens, dis nie nodig om dit te oordryf nie! Hoe vinniger ek jou trane afdroog, hoe vinniger huil jy! My ouma sê suikerwater is goed vir skok. Wil jy suikerwater hê?”

      “Ek is nie dors nie,” antwoord Elzeri troosteloos en huil onverpoos.

      “Maar jy ly aan skok.”

      Arendt hou haar van onder saamgetrekte wenkbroue dop en vra onbegrypend: “Wat makeer, jong? Vanmiddag was jy ’n opperste snip, maar op hierdie oomblik lyk jy soos ’n hartseer kind wat haar ma verloor het.”

      “Dis andersom: sy het mý aspris verloor,” verduidelik Elzeri.

      Sy besef dat dít die rede is vir haar onverklaarbare hartseer. Sy het ter wille van haar oupa voorgegee dat haar ma se hartelose optrede haar nie raak nie, maar dit was selfbedrog. Die wete dat sy ’n eie ma het, maar dat haar ma haar soos ’n ou skoen kon wegsmyt, is ’n groter hartseer as selfs haar geliefde ouma Beth se dood.

      “Sê jy jou ma het jou aspris verloor?” vra Arendt terwyl hy lepels vol suiker in ’n glas water gooi en dit roer.

      “Ja. Sy het my weggesmyt en my ouma …” ’n Harde hik verhoed dat sy haar sin kan voltooi en sy staar Arendt met verwytende oë aan.

      “Gaaf! Jy kan nie terselfdertyd hik en huil nie. Drink nou die suikerwater sodat jy kan ophou hik,” beveel Arendt en druk die glas in haar hand.

      Elzeri drink die suikerwater, was die glas onder die kraan en sit dit op die droograk neer. Sy talm voor die wasbak, ineens selfbewus oor haar onverwagte tranebui in Arendt se teenwoordigheid.

      Sy ken talle mans, en een en almal behandel haar met hoflikheid – almal behalwe Arendt. Hy probéér nie eens om hoflik teenoor haar op te tree nie. Selfs toe sy so bitterlik gehuil het, was hy geensins simpatiek nie. Hy bekommer hom meer oor Sonette se skoon kombuisvloer as oor haar hartseer, dink sy gekrenk en voel ergernis in haar binneste opvlam.

      “Dankie vir die suikerwater, Arendt. Aangesien jy hier kuier, sal ek liewer môre weer ’n draai kom maak,” sê sy styf.

      Sy stap na waar hy teen die deurkosyn aanleun en haar met ’n skeptiese uitdrukking op sy gesig betrag. Sy kyk misnoeg op na hom, maar hy ignoreer haar ergernis en vee met sy wysvinger onder haar linkeroog.

      “Traannat wange, rooigehuilde oë en ’n rooier neus. Nee, meisiemens, jy kan dit nie aan jou bejaarde oupa Gideon doen nie. Of gaan jy ’n klikbek wees en hom vertel ek het jou in die donker gegryp en jou laat huil?” vra hy beskuldigend.

      “Moenie jouself vlei nie, Arendt. Goed, ek het my lam geskrik, maar jy is beslis nie die oorsaak van my trane nie,” antwoord sy geraak.

      Sy uitdrukking word sober. Sy ligbruin oë boor speurend in hare asof hy die waarheid daar soek. “Het jy bedoel wat jy gesê het, Elzeri? Het iemand jou vertel jou ma het jou weggesmyt?”

      “Hoe anders?” vra sy driftig.

      Sy merk sy ongemak en sug moedeloos. “Ek het klaar gehuil, en nou slaan ek katkloue uit omdat ek verward is. Ek is jammer, Arendt. Ek het gehoop ek kon my hart teenoor Sonette uitpraat, maar jy kuier by haar en … en …”

      “En jy dink ’n man kan nie ook luister en verstaan nie?” vra hy, die glans van ’n glimlag in sy oë.

      “Jy is nie my vriend nie,” maak sy halfhartig kapsie. Sy is nie gretig om terug te keer na die eensaamheid van haar slaapkamer om oor haar onbekende ma te tob nie.

      “Dis nog beter, want vreemdelinge is die beste vertrouelinge. Jy praat vanaand met my, en môre kan jy jou verbeel jy het met ’n onpersoonlike bank in ’n park gesels, want ek is net ’n vreemdeling,” sê hy.

      Hy neem haar liggies aan die boarm en loop saam met haar na die rusbank in die sitkamer. Hy skakel ’n staanlamp aan en trek haar saam met hom op die lang rusbank neer. “Sit gemaklik en vertel my van jou hartelose ma. Toe, ek hou ook van stories, al is my naam nie Sonette nie.”

      Elzeri skop haar sandale uit en swaai haar bene tot op die bank, haar rug gestut teen die armleuning. Sy kyk na Arendt wat gemaklik terugleun teen die rugleuning, sy bene lank uitgestrek voor hom, sy kop in ’n luisterende houding.

      “Dit was al halfnege. Waar is Sonette?” vra sy agterdogtig.

      Hy kreun moedeloos. “Sy werk nagdiens om een van haar kollegas uit te help. Ek is jammer ek het jou nie eerder gesê nie, maar ek het jou oupa gebel. Hy het my vertel jy is op pad hierheen, daarom kon ek my wraak haarfyn beplan. Gaan jy nou met my rusie maak omdat ek jou laat skrik het, of gaan jy my van jou hartelose ma vertel?”

      “Ek het jou klaar van my ma vertel: sy het my weggesmyt,” antwoord Elzeri met onoortuigende onverskilligheid.

      “Is dit ál wat jou oupa Gideon jou vertel het? Het hy sommerso uit

Скачать книгу