Iemand soos jy. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Iemand soos jy - Schalkie van Wyk страница 6

Iemand soos jy - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

Jy sal van ons kontrei hou,” kom dit ingenome van Arendt.

      Sy kyk hom onvergenoeg aan. “Jy het vir my gejok. Jy het gesê jy is ’n bouer, maar ek sal wed jy is ’n skaapboer, nes Sonette se oupa. En as jou plaas naby Oggendglorie is … Jy het gesê jy is ’n vreemdeling, maar as jy gereeld by Sonette kom kuier …”

      “Ek beloof jou plegtig: ek sal nie by Sonette kuier nie, daarom kan jy aan my dink as ’n vreemdeling. Ek boer soms, ja, maar as dit nodig is, bou ek ’n skuur of ’n muur of wat ook al op die plaas. Of glo jy ’n skaapboer loop van sonop tot sononder met ’n lang haakstok agter sy trop skape aan, slim meisie?” vra hy koggelend.

      “Nee … seker nie. Ken jy Sonette se oupa en ouma?” vra sy teësinnig.

      “Ja. Moet ek nou beloof om nie by oom Herman en tant Sannie van Breda te gaan kuier terwyl jy op Oggendglorie is nie?” vra hy onthuts.

      “Moenie laf wees nie! Oupa Gideon sê Oggendglorie is ’n groot plaas. Ek kan altyd gaan stap as jy kom kuier.”

      “Dit pas my, snip! Maar om voor te begin: jy en jou oupa Gideon het oor jou vakansie saam met Sonette op Oggendglorie gepraat. Wat nog?”

      “My oupa het gesê ons moet praat voordat hy my toelaat om op Oggendglorie te kuier en ek die waarheid oor my ma uit vreemde mense se monde hoor,” antwoord Elzeri mymerend. Sy kyk Arendt skerp aan. “Het my oupa bedoel oom Herman en tant Sannie van Breda ken my ma?”

      “Al die mense van ons kontrei ken haar, want sy het jare lank op een van die plase gewoon,” antwoord hy gelykmatig.

      “En Sonette? Ken sy ook my ma?” adem Elzeri ontsteld.

      Arendt skuif nader aan haar, neem albei haar hande in syne en sê nadruklik: “Jy het drie keuses, Elzeri. Jy kan glo Sonette is ’n verraderlike bedrieër en haar voortaan haat, of jy kan in trane uitbars omdat Sonette so ’n belangrike waarheid teenoor jou verswyg het. Jou derde keuse is om my te vra waarom Sonette jou nooit vertel het dat sy jou ma ken nie.”

      “Hoekom het sy my nie vertel nie, Arendt?”

      Elzeri voel die spanning in die groot hande wat hare styf vashou. Sy sien ’n spiertjie in sy linkerwang spring en besef dat dit vir hom moeilik is om haar vrae te beantwoord. Arendt wil nie by haar probleme betrokke wees nie, daarom lyk hy altyd so stroef en afsydig, besef sy. Sy wens sy kan ’n einde aan hulle gesprek maak.

      “Omdat jou ouma Beth aan Sonette gesê het jy glo jou ma is dood, Elzeri. Sonette was ontsteld, maar jou ouma het beloof om jou die waarheid te vertel wanneer jy jou studie voltooi het. Verkwalik jy Sonette oor haar stilswye?” vra hy, sy stemtoon ingehoue.

      “Natuurlik nie. Ouma Beth het Sonette aan my voorgestel, en sy het haar altyd soos ’n eie kleindogter behandel. Ek en Sonette het saam gehuil en mekaar getroos toe my ouma dood is. Nee, ek is nie kwaad vir enigiemand nie. Ek wens net ek het geweet waarom my ma my nie wou gehad het nie. Weet jy, Arendt?”

      “Ek twyfel of jou ma so ’n persoonlike saak met Sonette of selfs haar beste vriendin sal bespreek,” antwoord hy, sy uitdrukking geslote.

      Hy merk haar teleurstelling, druk haar hande bemoedigend en vervolg paaiend: “’n Vrou soos jou ma sou nie ligtelik van haar kind afstand gedoen het nie, Elzeri.”

      “Was sy te sieklik om my te versorg?” pleit sy om ’n aanvaarbare waarheid.

      ’n Trae glimlag flikker om sy lippe, maar verdwyn voordat dit sy oë bereik. “Ek sou nie weet nie, want al lyk ek blykbaar horingoud, is ek net ses jaar ouer as jy. Grootmense bespreek nie hulle persoonlike probleme met kinders nie. Maar ek kan jou vertel jou ma is ’n mooi blonde vrou – ’n saggeaarde mens wat haar miskien te maklik deur ander laat oorheers. Maar dis omtrent al wat ek van haar weet. Het jy nie foto’s van haar en jou pa nie?”

      “Nee.” Elzeri byt tobbend op haar onderlip, ’n ligte frons tussen haar wenkbroue. “My ouma het altyd gesê foto’s maak haar net hartseer, daarom het sy al haar foto’s van my pa en ma weggemaak. Maar dit was dan nie werklik die rede waarom sy nie eens een ou foto’tjie van my ouers gehou het nie: sy was bang ek herken my ma as ek haar êrens raakloop.”

      Hoop laat verhelder haar oë en sy gaan gretig voort: “Jy het gesê my ma het jare lank in julle kontrei gewoon. Kom kuier sy nog gereeld? Dalk ontmoet ek haar terwyl ek op Oggendglorie kuier!”

      Arendt huiwer en vra dan met nadruklike erns: “Is jy seker jy wil haar ontmoet, Elzeri? Op slot van sake is sy die vrou wat jou – in jou eie woorde – weggesmyt het.”

      “Ek weet wat ek gesê het, maar noudat ons daaroor gepraat het … Jy het tog gesê my ma sou nie ligtelik van my afstand gedoen het nie. Sy moes ’n goeie rede gehad het, maar watter rede? Ek wil weet, anders sal ek vir die res van my lewe daaroor wonder.”

      “Die waarheid is nie altyd aangenaam nie, Elzeri. Jy gaan jou ma haat as jy besluit haar redes was net oppervlakkige verskonings om van ’n lastige baba ontslae te raak. Is dit nie beter om haar nooit te ontmoet nie?” vra Arendt waarskuwend.

      “Hoe kan ek oordeel as ek nie weet nie? Ek dink … Nee, ek is seker my oupa het gesê my ma is gretig om my te ontmoet. Dalk kan ek haar sommer nog vanaand bel en ’n afspraak met haar maak!” sê sy opgewonde.

      Sy spring op, maar Arendt hou haar hande vas en trek haar weer op die rusbank langs hom neer. Sy kyk hom ergerlik aan en vra onvergenoeg: “Wat is dit nou weer? En hou op om my aan te gluur asof jy vermoed ek beplan ’n terroristeaanval! Hoekom lyk jy altyd kwaad as jy na my kyk?”

      “Ek is bekommerd, nie kwaad nie,” antwoord hy bruusk. “Eers verdrink jy in jou eie trane omdat jou ma jou weggesmyt het, en nou kan jy nie wag om haar te ontmoet nie. En jy wil haar ná nege in die aand bel. Jou oupa sal nie vir jou haar telefoonnommer kan gee nie, want hy is heel waarskynlik al in die bed. Laat jou oupa en jou ma met rus tot môreoggend, meisiemens. Gesels eers môre met Sonette en hoor wat dink sy van jou ma. Daarna kan jy met jou ma in verbinding tree.”

      “Jy is verskriklik geduldig, maar dis omdat dit nie jóú ma is nie,” sê Elzeri dikmond.

      Sy gaap dat haar oë traan en voel haarself bloos. “Gee jy om as ek vir ons gaan koffie maak? Ek voel vaak ná die lang, warm dag op Maropeng.”

      “Ek het ’n beter voorstel: ek sal vir ons aandete en koffie maak. Of het jy reeds aandete gehad?” vra hy en staan op.

      “Ek was nie vroeër honger nie. En ek weet al as ek en Sonette saam kuier, maak ons altyd iets lekkers te ete. Moet ek kom help?”

      “In ’n beknopte woonstelkombuis? Asseblief nie! Hier, hou die kussing vas en droom oor jou Dawie. Ek is nou-nou terug met ons koffie en ons ete.”

      Hy druk ’n roomkleurige stoelkussing in haar arms en loop kombuis toe.

      Dawie … onthou Elzeri. Sy leun met haar kop teen die rugleuning van die bank en sluit haar oë. Weet Dawie dat sy ’n weggooikind is? Nee, Dawie-hulle woon al die afgelope twintig jaar in die buurhuis. En al is hy drie jaar ouer as sy, sou hy nie haar ma geken het nie. Of sou hy? Hoe oud was sy toe haar ma weggegaan het?

      Sy moet onthou om haar oupa te vra, maar nie vanaand nie. Sy is so moeg van dink en wonder, so moeg van die tergende vrae wat deur haar brein warrel, dat sy net vir ’n paar oomblikke wil afskakel en van alles wil vergeet. Vreemd hoe

Скачать книгу