Kan ek maar aan jou selluliet vat?. André le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kan ek maar aan jou selluliet vat? - André le Roux страница 5

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Kan ek maar aan jou selluliet vat? - André le Roux

Скачать книгу

het ook ’n paar ander eienskappe genoem wat hulle in die vrou soek waarop hulle verlief sal raak: nuuskierigheid, ’n sin vir avontuur, intelligensie, sin vir humor, houding, karakter en persoonlikheid, asook fisieke eienskappe soos mooi oë, hande, voete, hare, ’n glimlag, mooi tande en, seker vanselfsprekend, mooi borste en boude.

      Vroue het ook genoem: ’n vonk, ’n “vibrasie” of aura, ’n glinstering in die oog, die manier waarop die man beweeg, die kontoere van sy arms, sy passie, ’n glimlag, intelligensie, kreatiwiteit, selfversekerdheid, charisma. Die man moet ook skoon wees en lekker ruik. Hy moet “klas” hê, met goeie maniere. Jy kyk na sy hare, sy (sterk) gesig, sy hande, stem, tande, lippe en boude.

      Vroue kyk nogals graag na ’n man se boude.

      Daar’s sowaar nog: volwassenheid, beskeidenheid, geloof, hoë morele waardes, respek, opregtheid, en hy moet goed met mense oor die weg kom. En, natuurlik, hy moet van diere hou.

      Vir ander vroue is dit: arrogansie, houding, status en ’n cocky sin vir humor.

      Vroue soek nie min nie …

      Die gemene deler in bostaande, naas fisieke eienskappe, is intelligensie. ’n Switserse studie (2010) het bevind verhoudings werk beter as die vrou ’n bietjie slimmer as die man is. Blykbaar is jul kanse 20% beter om gelukkig te wees as die vrou 27% slimmer is, volgens die navorsing aan die Geneefse Sakeskool. (Hulle sê selfs jy moet ’n graad hê en hy nie.) Daarby moet hy verkieslik vyf jaar ouer as jy wees, en julle moet uit dieselfde kulturele agtergrond kom.

      Weer eens soek julle ’n man soos Pa, ’n vrou soos Ma. Gedeelde belangstellings, waardes en daardie gedeelde kulturele agtergrond sal help, hoewel dit nie bepalend is nie.

      Die Amerikaanse gedragswetenskaplikes Stephen Emlen en Peter Buston (2003) het byna 1 000 studente tussen 18 en 24 gevra watter eienskappe belangrik is in ’n langtermynmaat en ook in hulself. Die tien eienskappe wat die studente in volgorde van belangrikheid moes plaas, was a. geld, b. fisieke aantreklikheid, c. getrouheid, d. ouerskapvaardighede, e. sosiale status, f. gesondheid, g. of hulle kinders wil hê, h. toegewydheid aan jou, i. ambisie, en j. sterkte van familiebande.

      Geld, status of fisieke aantreklikheid was nie boaan die studente se lysie nie. Aantreklikheid was net belangrik vir mense wat hulself ook as aantreklik beskou het. Die belangrikste eienskappe was a. goeie ouerskapvaardighede, b. toegewydheid en c. seksuele getrouheid. Dié eienskappe was eweneens die belangrikste in hulself.

      Liefde is wel ’n sintuiglike ervaring. Jy a. sien dit eers, dan b. hoor jy dit wanneer julle begin gesels, dan c. ruik julle mekaar, en dan d. voel julle dit – letterlik en figuurlik – wanneer julle aan mekaar begin vat.

      Britse navorsing (2010) het getoon ’n man wat ’n langtermynverhouding soek, maak meer oogkontak. Hy kyk langer na jou gesig as na jou lyf. Maar as sy oë aanmekaar na jou lyf afdwaal, stel hy dalk net belang in ’n kortstondige aandjie uit (of in).

      Oog-taal, noem die Amerikaanse antropoloog en gedragswetenskaplike Helen Fisher dit. Soos toe julle met mekaar begin flankeer het.

      Jul arms raak ook “losser” om die ander persoon in te laat, te wys jy’s welkom, voeg Joe Navarro by.

      Al hierdie verliefdheid en lyftaal gebeur in die brein. As die brein nie vonke afgee en sterre laat verskiet nie gaan julle nie twee keer na mekaar kyk nie.

      Dit begin by sy testosteroon en jou estrogeen. Die liefde is vol chemie en onkeerbare hormone, nie logika nie. Sonder hormone is dit nie moontlik om verlief te raak nie, en sonder om verlief te raak is dit nie moontlik om lief te raak vir mekaar nie.

      Al kom julle verby die eerste toets van verliefdheid (julle hou van wat julle sien), kan julle die tweede toets dop sodra julle jul monde oopmaak.

      In so ’n hoë estrogeen-stemmetjie kom dit: “Ek hou nie van pizza nie.”

      “Hoe bedoel jy jy hou nie van pizza nie?” (Diep stem.)

      “Pizza gee my sooibrand.”

      “En braaivleis?”

      “Braaivleis laat my hik.”

      “Rugby?”

      “Is barbaars.”

      Die brein is doodstil, niks gebeur nie, die hormone hiberneer of fibrilleer soos ’n ongesonde hart. Maar as julle albei hou van wat julle sien en hoor, kan julle aangaan na ruik en voel …

      “Jy’t so ’n pragtige mond, ek wil aan jou lippe hang! Jy’s seker nie van hier rond nie? Pofadder, kan jy nou meer? Ek’t ’n tante Joan wat daar woon. Sy’s baie ryk, ’n stuk of ses plase in die omgewing.” (As jy nog nie weggehardloop het nie …)

      Om te spog met ’n ryk tante is een van die swakste aanlê-sinne. Die beste een is aangewys op ’n wetenskapfees in Skotland (2006): “Waarvan hou jy op jou pizza?” Dit gee julle kans om oor iets te gesels.

      Toevallig het ’n Amerikaanse neuroloog (2005) bevind die geur van kaas-pizza verbeter die bloedvloei na ’n man se penis met 5%, springmielies met botter op met 9%, en laventel en pampoentert albei met 40%. Laasgenoemde twee geure laat ’n vrou ook nie koud nie, maar die geur van drop of liquorice saam met die geur van komkommer (omdat dit fallies is?) laat meer bloed na haar vagina vloei. Drop doen dit ook vir ’n man (13%), en gekombineer met die geur van oliebolle verbeter dit tot 32%.

      “Ek ruik doughnuts!”

      Die hormone begin bruis, tintel en tuimel.

      “Wat gebeur met my? Ek het nog nooit so gevoel nie!”

      “Ek ook nie!”

      Adrenalien sit jou hart op loop, verhoog jou bloeddruk en sit ’n blos op jou wange. Dit maak jou so “wakker”, dit voel of jy aan adrenaliensport deelneem. Jy konsentreer goed, jou korttermyngeheue verbeter dadelik, jy’s doelgerig – maar kan nie slaap nie. Jou eetlus neem ook af. In dié stadium is koue water en ’n stukkie kaas ’n volledige ete. Of julle voer mekaar stukkies pizza of tjips.

      Kos speel inderdaad ’n belangrike rol in ’n vryery. Sodra hy jou uitneem vir ete en hy betaal, weet jy hy’s besig om jou die hof te maak, sê Fisher. Dus: Kos in ruil vir seks (courtship feeding), en dit maak sin. Deur vir jou kos te koop probeer hy wys hy het die vermoë om vir jou, en later vir die kinders, te sorg.

      Alles gebeur in die regterkant van jou brein en in die middel, waar die liefde lê, maar julle sien hoe mooi die ander een is aan die linkerkant van die brein.

      Julle is vol energie en sien kans vir enigiets. Julle skrik nie vir ’n risiko nie. Of julle 16 of 60 is, maak nie saak nie, julle besluit om by Gouritsrivier te gaan rekspring, al het julle nog nooit eens by die woonstel se drie voordeurtrappies afgespring nie. Die liefde het daardie deel in die amigdala van die brein waar vrees ontspring eenvoudig stilgemaak.

      “Weg is ons!”

      Julle fokus net op mekaar, kan aan niks anders dink nie. Fisher glo hierdie fokus is nodig sodat die man nie sy “mating energy” vermors op vroue in die algemeen nie. Hy konsentreer op een vrou, en dis jy.

      Jy’s sy dopamien en hy joune.

      Dié neuro-oordragstof sorg vir daardie uit-jou-vel-uit-gevoel. Die najaag daarvan lei ook tot verslawing en die drang na sekere kossoorte of soetgoed

Скачать книгу