Donatello en Volksie. Marion Erskine

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donatello en Volksie - Marion Erskine страница 13

Donatello en Volksie - Marion Erskine

Скачать книгу

dit ’n slegte ding is nie. Hoe meer tyd ’n mens op die internet deurbring, hoe vinniger kom jy agter hoeveel psychos aanlyn is. En Zoë het al baie van hulle ontmoet. Dit is juis wat vir haar so aanloklik is van Donatello. Hulle gesels lekker, oor allerhande dinge, en hy het haar ná ses dae nog nie in die bed probeer praat nie.

      Donatello: Jy daar?

      Zoë glimlag. Nes hulle afgespreek het. Nog ’n ding waarvan sy hou: as Donatello sê hy is daar, dan is hy altyd betyds.

      Volksie: Ek is. So wat dink jy van my foto?

      Donatello: As ek jou vertel hoe mooi jy vir my is, sal ek jou seker afskrik.

      Volksie: Ons sal maar moet sien. ;-)

      Donatello: En hoe lyk my foto?

      Volksie: LOL! Het lekker gelag toe ek die suit sien. Dit pas mooi by jou suiwer Afrikaans. Maar ek moet sê, jy’s nogal hot. :-P

      Donatello: *bloos* Dankie.

      Volksie: So, gaan ons mekaar nog vanaand ontmoet?

      Donatello: Natuurlik!

      Volksie: Sien jy darem so ’n bietjie uit?

      Donatello: Baie! Ek sal darem nie Nuwejaar ook stoksielalleen hoef in te gaan nie.

      Volksie: Selfde hier. O ja! BTW, ek’t na die lunar calendar gekyk. Dis ’n goeie dag vir begrafnisse.

      Donatello: Ekskuus?

      Volksie: Boom, man! Ek wil Boom se as op die berg gaan strooi.

      Zoë is onmiddellik spyt. Miskien is dit nie so ’n goeie idee om ’n dooie troeteldier se as met ’n eerste afspraak te strooi nie.

      Volksie: Jong, sorry. Dis heeltemal weird van my om Boom te wil saambring.

      Donatello: Nee. Bring hom gerus. Ek sal graag by wil wees as jy sy as strooi. Ek voel geëerd dat jy so ’n spesiale oomblik met my sou wou deel. En daar is natuurlik altyd ’n eerste keer vir alles.

      Zoë sug verlig.

      Donatello: :-) Kan ek jou kom oplaai? Of moet ek jou êrens kry?

      Volksie: Hm … ontmoet my by Clearwater Mall. Ingang 2.

      Donatello: Sê so sewe-uur?

      Volksie: Jip. Ek is die een met die trommel honde-as onder die arm.

      Donatello: Sien uit daarna!

      Volksie: Ditto. ;-) SMG! Ek en jy op Nuwejaar, saam met Boom en sy nuwe jar! C u l8r! xxx

      Zoë se hart bokspring behoorlik toe sy die kruisie kliek op die skerm. Sy dink sy het dit heeltemal verloor vir hierdie man. Die chemistry werk net. En dit is die eerste keer in haar lewe dat sy regtig so daarna uitsien om iemand van aangesig tot aangesig te ontmoet.

      Sy spring op en krap in haar kas rond. Wat gaan sy aantrek? Wat is Donatello se gunstelingkleur? Watter parfuum moet sy gebruik? Hoeveel make-up? Sommige mans hou mos nie van oordadige grimering nie. Ander hou wel daarvan. Onmiddellik is sy vies vir haarself. Vir wat worry sy nou oor make-up en wat sy moet aantrek? Was die hele idee nie juis dat sy net haarself gaan wees nie? Sy sug. Dis makliker as hulle oor die internet chat. Om iemand in real life te sien is anders. Sy moet maar net glo dat Donatello fine sal wees met hoe sy lyk en wie sy is. Die heel eerste keer in ’n bitter lang ruk voel dit vir haar asof die heelal haar genadig sal wees.

      7

      Die sondeboks

      Anton Badenhorst staan Oujaarsaand voor die spieël in sy slaapkamer en hou twee dasse teen sy hempskraag. Watter een? Blou of grys? Sy hare is netjies gekam en die grys Armani-pak pas volmaak om sy skouers. Hy staar ’n oomblik na homself in die spieël. Dertig jaar oud en steeds hoopvol dat die regte meisie in sy lewe sal instap.

      Op universiteit was Anton Badenhorst niks meer as ’n boekwurm wat ’n permanente ornament in die Puk se biblioteek was nie. Regte swot was nie grappies nie en om sy graad te cum was ononderhandelbaar. Almal in sy familie het dit reeds reggekry.

      Anton se paadjie was vir hom uitgekap: maak klaar met skool, studeer, kry ’n goeie werk, ’n spogmotor, ’n huis en dan ’n vrou en gesin. Dit ís immers die Suid-Afrikaanse weergawe van die American Dream.

      Ses jaar se harde werk is agter die rug en Anton het min of meer alles: ’n gerieflike huis wat uitkyk oor Johannesburg, met genoeg plek vir ’n vrou, ’n hond en ’n kind, en genoeg geld vir ’n gemaklike lewe. Moet ook nie die motor vergeet nie. En dit is nie asof hy nie probeer het om iemand te ontmoet nie. Hy het uit desperaatheid maar een aand op Matchmate geklim en sedertdien sy regmagtige aandeel aan eienaardige meisies gehad.

      Hy tel weer die blou das op en bestudeer dit in die spieël. Dié einste das het hy aangehad tydens die ontmoeting met MinkiMouse van Roodepoort. Sy het selfs beter gelyk as op haar Matchmate-foto en sake het gevorder tot by ’n derde afspraak. Dié vrolike Jennifer Arniston lookalike het al meer potensiaal getoon. Tot daardie laaste rampspoedige aand in die Staatsteater. Anton het dit goedgedink om haar te vra om My Fair Lady saam met hom te gaan kyk – dit is mos wat enige meisie op ’n spesiale aand sou wou sien. Aanvanklik het alles seepglad verloop. Minki het in elk geval pragtig gelyk. “Ek leef my só in sulke tipe stories in,” het sy sag in sy oor gefluister toe die ligte uitdoof. Min het Anton geweet presies hóé sy haar sou inleef.

      Toe die eerste snaakse toneel hom op die verhoog afspeel en ’n effense snorkgeluid hier langs hom opklink, het Anton gedink hy verbeel hom. Maar daarna was dit pure lyding. Elke keer wanneer Minki iets snaaks gevind het, het sy gesnork van die lag soos wat geen mens haar sou kon nadoen nie. Ongelukkig het die gelag later oorgegaan in ’n bitter gehuil soos wat die blyspel gevorder het. Dit het net nog meer sout in Anton se wonde gevryf. Dit was die langste drie uur in sy hele lewe. Pure pyn en lyding. Boonop het sy met die volgende afspraak en die een daarna Anton net nog meer en meer aan sy ma herinner. En dit was ’n uitgemaakte saak: Anton het nie kans gesien vir twee van hulle soort in sy lewe nie. Nee, Minki Verster, alias Miss Piggy, sou nooit weer die Staatsteater saam met hóm sien nie.

      Anton lig die grys das op en onthou hy het dit met sy laaste internetafspraak aangehad. Met ene SuperSonia, ’n skraal blondekop wat op die oog af met ’n baie fyn opvoeding kon spog. Sy was baie skaam en dit het ’n behoorlike ruk geneem voordat sy uit haar dop gekruip het – wat vir Anton perfek gepas het. So ver verwyder van sy ma as kan kom. Die aand van hul laaste afspraak het sy ’n robynrooi rok aangehad wat netjies om haar slanke lyf gepas het. Sy het na vars rose geruik.

      Die ete in die Franse restaurant het goed afgeloop. Anton het begin dink dat hy hulle in ’n ernstige verhouding kon voorstel. Sy was die soort meisie wat hom gelukkig sou kon maak.

      Al hierdie romantiese gedagtes was egter van korte duur. Toe die twee met Anton se luukse silwer Audi TT uit die parkeerterrein wegtrek, het sy haar slanke arms opgelig en haar hare losgemaak. Sy wás pragtig, enige man se droom, het Anton gedink en die motor links in Gordonweg se rigting gestuur. Maar terwyl hy nog die stuurwiel draai, voel hy hoe Sonia hom aan die belt beetkry en sy broeksknoop met een beweging afpluk.

      “Ek het ’n díng vir mooi mans in duur karre,” het Sonia gehyg en aan sy ritssluiter begin vroetel. “Ek soek jou nóú, Anton Badenhorst! Hier, in jou kar!”

      Wat het van sy

Скачать книгу