Donatello en Volksie. Marion Erskine

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donatello en Volksie - Marion Erskine страница 14

Donatello en Volksie - Marion Erskine

Скачать книгу

het wydsbeen oor Anton gesit. Toe sy afklim, het Anton met bewende hande sy broek se gapende gulp probeer toerits. Maar dit was te laat: nuuskierige klante het reeds die hele petalje op selfoonkamera verewig.

      Toe Anton later daardie nag, ná ure se gesoebat en verduidelikings, die Melville-polisiestasie verlaat en amper met ’n klag van openbare onsedelikheid agter sy naam, het hy geweet dit was die laaste sien van die geslepe, gesplete SuperSonia. Sy het binne oomblikke wéér verander en nog ’n nuwe persoonlikheid gewys. Sonia het huilend aan die polisie verduidelik dat die hele affêre Anton se idee was en dat sy dan mos nie weens onsedelikheid aangekla kan word nie. Hoeveel kante het die vroumens dan gehad? Nee wat, SuperSonia was nie Die Een nie.

      Anton vervies hom. Hy sal ’n tweede mening oor die das moet kry. Dit is darem ook mos nie die enigste twee dasse wat hy besit nie!

      “Dorothy!” roep hy na die kamerdeur se rigting. “Dorothy, kom help gou hier!”

      Dorothy Moletse is reeds die afgelope agt en dertig jaar deel van die Badenhorst-huishouding. Sy was by die dag toe Anton gebore is, en as baba het sy hom op haar rug geabba terwyl sy bedags huiswerk gedoen het. Sy was saam in die motor toe hy die eerste keer skool toe is en het jare daarna trots langs hom vir sy matriekafskeidfoto geposeer. Die dag toe hy graad vang, was dit Dorothy wat die hardste in die Puk se konserwatorium gehuil het. “My kjênd! Dis my kjênd daardie.”

      Dorothy is al byna sestig en Anton het haar aangeneem die dag toe sy ouers finaal besluit het om Kaapstad toe te trek. Sy woon by haar dogter en kom help drie keer ’n week met koskook en huiswerk doen. Eintlik kom Dorothy maar net in om ’n ogie te gooi oor hom. Want Anton is ietwat van ’n perfeksionis. In die dertig jaar wat sy hom ken, was daar nie ’n enkele dag wat sy bed nie opgemaak was of wat sy ’n kous of onderbroek agter hom moes optel nie. Hy kan hom sy lewe nie sonder Dorothy voorstel nie.

      Dorothy loer agterdogtig om die deur. “Des nog my afdag vandag. Ek wil nie gatpla wortie. Ek het net kom kyk of es alles ôkei.”

      “Jy hoef nie te werk nie, Dorothy. Ek wil jou net iets vra.”

      Sy kom traag die kamer ingewaggel. ’n Groen satynrok span om haar vol heupe. “Haau,” glimlag sy toe sy na Anton kyk, “nou ma’ vor wat lyk Anton so ghrênt? Gat jy ôk kjerk toe vanaand?”

      “Nee, Dorothy,” sê Anton skugter en loer na sy horlosie, “ek neem ’n meisie uit vir ete. Watter das?”

      Dorothy klap haar tong. “Hoe’t jou ma jou dan galeer? Gat jy nie meer na die Jhirre se hys toe by Oudjaar?”

      Anton probeer sy irritasie wegsteek. “Nie vanaand nie, Dorothy!” sê Anton en wens hy het liewer stilgebly. “Watter das?”

      “Da’ ma’ die gryse,” sê Dorothy, maar sy gaan beslis nie die saak sommerso laat staan nie. “Ek sê vor jou al lank se tyd, jou vrou sy wag vor jou by die kjerk. Die Jhirre sal haar stier. Dorothy weet. En nou gat jy vor ha’ soek byte die kjerk!”

      Anton maak of hy haar nie hoor nie, draai terug na die spieël en knoop sy das in ’n Winchester-knoop. Sy oupa het altyd gesê ’n vrou kan baie van ’n man leer deur net op te let na hoe hy sy das knoop.

      “Dorothy, hoekom is jy nog hier? Gaan jý nie laat wees vir kerk nie?” por Anton.

      Dorothy sug hard. “Nee, ek wag ma’.”

      Nou raak Anton effe ongeduldig. “Wáárvoor wag jy?”

      “Vor my hêppy! Mies Magda het altyd my hêppy voor Krismis gagee. Ma’ Anton het jintemal van Dorothy gavargeet hierie jaar.”

      Anton is verleë – hy hét heeltemal vergeet. Hy wou nog vir Dorothy blomme of iets bykry.

      “Jammer, Dorothy. Dis net … ek’s die afgelope ruk só besig en ek – ”

      Sy val hom in die rede en swaai haar vinger soos ’n gevaarlike stuk dinamiet. “Ekka sien jy es besig op daai ysterdywel van jou in die anner kamer.” Sy het lank gewag om met hom hieroor te praat. “Ellike dag, jy sit en jy sit met daai dywel en praat. Maar daai dêng hy praat gan terug by jou.”

      Anton haal ’n paar honderdrandnote uit sy beursie en sit dit in ’n koevert.

      “Dorothy, ons almal gebruik rekenaars deesdae. Dis deel van die toekoms,” probeer hy skerm.

      “Eisj. Watse toekoms?” kap Dorothy terug en maak haar oë groot. “Het jy nog nie al die crime gatkyk op TV? Da’s net rape en mêdar in die land. Da’s niks se future vor dié land.”

      Anton knip haar kort. “Dorothy,” sê hy beslis en hou die koevert na haar toe uit. “Ek móét nou gaan. Hier’s vir jou ietsie vir Kersfees en ek’s rêrig jammer ek het vergeet.”

      Dorothy vat die koevert en druk dit in haar handsak. Maar sy is nog nie klaar nie. Sy loop agter Anton aan waar hy tot by sy rekenaar stap en vir oulaas die foto van Volksie oopmaak. ’n Fyn, blonde krulkop glimlag terug. Haar groen oë lyk asof dit Dorothy se rok weerkaats. Ja, hy is seker hy sal haar herken. Hy hoop net sy lyk soos op haar foto.

      Dorothy kyk na die foto, hande op die heupe, en skud haar kop vies. “Wie’s dié vrou?” vra sy bars. “Darie ysterdywel van jou gooi die kiekies van die vroumense rond! Waar kry daai dêng daai kiekie?”

      Anton is skielik dik van die lag. “Dorothy, dis nie die duiwel nie. Dis ’n rekenaar. Selfs jou kerk het sy eie webwerf.”

      “Haau!” sê Dorothy vererg. “Jy gabryk die woorde van die dywel. Vanaand sal Dorothy vor jou bid.”

      Anton gryp sy motorsleutels met ’n sug. Hierdie storie kan vir ewig aanhou.

      “Kom, dan gaan laai ek jou af.”

      “My kjênd kom my vor kjerk haal. Hieso.”

      “Is jy seker?”

      Dorothy knik.

      “Nou goed.” Anton stap voordeur toe. “Gelukkige Nuwejaar, Dorothy!” roep hy voordat hy die voordeur agter hom toetrek.

      Hy kan nie help om ’n bietjie skuldig te voel nie. Dorothy was nog altyd so goed vir hom – en waarskynlik meer van ’n ma as wat sy eie bloed ooit was.

      8

      Die duiwel dra soms Ackermans

      Zoë loer angstig na die horlosie teen die heldergroen muur. Sy gaan laat wees, dink sy verbouereerd terwyl sy deur die nommers in haar klerekas gaan. Sy besluit uiteindelik op ’n helderbont Indiese romp vir vanaand se afspraak met Donatello. Die romp het sy tien jaar terug by ’n winkeltjie in Moembaai gekoop. Dit was sorgelose tye. Nou nog net ’n bypassende toppie.

      Jan-Hendrik hou haar dop terwyl sy die een ding ná die ander uit die kas pluk. Hy sit in ’n jogaposisie op haar bed – die enigste posisie wat hy nog kon baasraak. Om hom lê ’n hoop klere soos Zoë die een ding ná die ander uit die kas gesmyt het. “Hoekom probeer jy nie daardie Dior-top nie?” beduie hy.

      “Jan-Hendrik, jy weet voor jou heilige siel ek’t nie ’n clue watter top van Dior is nie!” sê Zoë ergerlik en gooi ’n spul toppies gelyk op die bed. “Watter een?”

      Jan-Hendrik rol sy

Скачать книгу