Donatello en Volksie. Marion Erskine

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donatello en Volksie - Marion Erskine страница 11

Donatello en Volksie - Marion Erskine

Скачать книгу

in die parkie gekry het!) Eventually sien ek toe sy gaan sit langs hierdie ou oom. Ag, weet jy, Donatello, dit was vir my só mooi. Die manier hoe die twee mensies vir mekaar kyk. Daar’s nog so ’n connection, jy weet. Hulle is oud, maar daar’s hierdie magic tussen hulle. Die tannie het rondgekrap in ’n sakkie langs die oom en ’n lemoen uitgehaal. Stadig maar seker het sy die lemoen begin skil (met die stomp mes). Toe sy klaar is, breek sy ’n stukkie af vir die oom en ek sien hoe hy begin rondkyk. (Hy’t nie gesien ek kyk vir hom nie.) Die tannie het lekker gelag en twee tissues tussen hulle neergesit. Weet jy wat doen die oom toe? Ag, jitte, hy sit sy een hand bewerig voor sy mond en haal sy valstande uit en sit dit netjies op die tissue neer. En hy glimlag vir haar met sy pap bekkie en neem die skyf lemoen. Die tannie is nie hoe nie en sit haar tande ook mooi langs die oom s’n neer en vat ’n skyf. Sit die twee en lemoenskywe suig – en boonop sit hulle nog en hande vashou ook! Dit was waarskynlik een van die mees romantiese dinge wat ek nóg gesien het. Ek wil ook eendag só oud word. Met ’n maatjie om lemoene mee te deel. Wat is die geheim? Dié twee mense weet dit waarskynlik hul lewe lank al. Hoekom kyk mens daagliks na paartjies en jy kan sien die liefde is al jare by die agterdeur uit? Jong paartjies! Hoekom cope party mense bloot met mekaar, terwyl daardie oom en tannie nog altyd meer as net mekaar verdra? Hulle het saam-saam die lewe gelééf. Hulle is nog steeds verlief. Ag, sorry dat ek soos ’n regte girl klink. Wou dit maar net met jou deel.

      V

      Twee uur later kry Zoë ’n boodskap van Donatello:

      Volksie, ek kan jou nie genoeg bedank vir jou boodskap nie. Ek het self saam met vriende gaan braai (op húl aandrang, natuurlik) maar dit het my besig gehou. Dit is ’n vreugde om hier voor my rekenaar te kan kom sit en iets só uit jou hart te lees. Die storie van die ou oom en tannie het werklikwaar my hart geraak en ek kan verstaan waarom dit vir jou spesiaal is. Ek het al dikwels gewonder of sulke liefde nog regtig bestaan in hierdie moderne eeu waarin ons vasgevang is. Miskien is die oumense se geheim dat hulle altyd net dieselfde gebly het; dwarsdeur die lewe, sonder voorgee, sonder om in te gee en op te gee wie hulle regtig as mens was. Maggies, nou begin ek vrek filosofies klink en ek wil jou nie verveel nie. Wat ek net nie kan verstaan nie, is hoe ’n meisie soos jý nog so swerwend is op plekke soos Matchmate. Waarom het geen man die eintlike jý al raakgesien nie? Jammer, ek raak nou persoonlik. Ek wonder maar net.

      * * *

      Zoë blaas haar neus die hoeveelste keer en vee die trane af terwyl sy soek na die TV se afstandbeheer om dit af te skakel. Sy’t vroeër vir haar ’n DVD gaan uitneem. Dis al ná tien, Jan-Hendrik en mnr. Troy is steeds nie by die huis nie en sy het verveeld geraak. Dit was dié keer anders toe sy in die videowinkel instap. Daar was ’n paar ouens in die plek; haar ouderdom en redelik aantreklik. Sy’t gewonder of een van hulle nie Donatello kon wees nie. Hy woon ook mos in hierdie omgewing. Wat as dit wel die geval was? Wat as hulle letterlik langs mekaar gestaan het? Sou sy weet? Sou sy omgee as hy glad nie aantreklik is nie? ’n Kaalkop ou met ’n bierpens? Sy wonder die afgelope ruk so baie hieroor. Zoë raak sommer weer tranerig. Sy weet nie wat dit met haar is nie! Vies stap sy na die Mac in haar kamer en lees weer Donatello se laaste boodskap voordat sy lostrek:

      From: Volksie

      To: Donatello

      Subject: August Rush

      Dierbare Donatello

      Natuurlik gee ek nie om dat jy so ’n vraag vra nie, maar net as jy nie omgee dat ek die ball weer in jou court kan slaan nie. Waarom het ’n nice ou soos jy op Oukersaand alleen by die huis gesit, terwyl jy al lankal iemand moes kry om mee lemoene te deel? Ek probeer jou nog uitfigure. Daar’s iets anders aan jou. Ook maar ’n goeie ding jy sien my nie vandag nie, want ek sit nog heeldag in my pajamas en movies kyk. Ek kry nie meer tyd vir hierdie goed nie, weet jy? Hierdie paar dae tussen Kersfees en Nuwejaar is terrible, want nie net ooreet mens jou nie, maar dit gee jou tyd om te dink oor dinge. En ek wil nie altyd dink nie.

      Ek weet nie van watter soort flieks jy hou nie, maar ek neem toe mos die een uit wat die vrou in die videowinkel aanbeveel. Die naam is August Rush. Al gehoor daarvan? Anyhoo, ek kyk toe mos vanaand die fliek en op die ou end het ek meer tissues wat rondlê as in ’n gewone maand van snotverkoues. Now just wait a minute! Dis nie só ’n chick flick dat jy dit nie kan kyk nie. As jy hou van musiek en ’n mooi storie, sal jy dit baie geniet. Laat weet of jy dit al gesien het.

      “The music is everywhere. All you have to do is … listen!”

      Volksie

      Teen twintig minute oor twee die volgende oggend hoor Zoë ’n bliep vanaf haar rekenaar. Sy sit haar plakboek met ’n lang gaap opsy en sien dit is ’n boodskap van Donatello.

      To: Volksie

      From: Donatello

      Subject: RE: August Rush

      Genugtig, Volksie. Nooit in my wildste drome het ek gedink dat daardie film my só sou raak nie. Ek hou van ’n mooi storie, maar ek kyk baie meer realisties na die lewe. Films soos Shawshank Redemption is meer in my lyn van flieks, maar ek moet erken dat August Rush iets in my geraak het. Die seun se woorde, “Open your heart and listen”, het my laat dink. Ek het besef dat mens in die hedendaagse lewe soms toeval onder al die verwagtinge van ander. Jy lewe so hard, so vinnig – meestal om te doen wat ander van jou verwag. Ek kan byvoorbeeld nie onthou wanneer laas ek net in ’n park gaan sit en luister het nie. Sommer net bewus word van ander dinge wat om my aangaan.

      Jy sal dink dit is snaaks, maar vanaand toe ek in die videowinkel instap, het ek rondgekyk. Gehoop om jou te sien. Gewonder of ons mekaar sal herken as ons langs mekaar staan.

      Die enigste manier waarop ek soms kan ontsnap, is deur boeke te lees. Maar ek kry nie meer baie tyd hiervoor nie. In ’n stadium het ek maklik een of twee boeke per week gelees. Wanneer ek in daardie wêreld vasgevang is, voel ek vry, voel dit ek hoef my nie te bekommer oor die dag van môre nie. Nou ja, ek het my kant gebring en die film gekyk, gaan kry vir jou Dis ek, Anna van Elbie Lötter. En as jy dit al gelees het, laat my weet wat jy daarvan dink.

      D

      NS: Wees gewaarsku: dit is ietwat rof op die gestel.

      * * *

      Die oggend stap Zoë weer na haar gunstelingpark en luister na die geluide om haar. Donatello het gesê hy wil dieselfde doen. Die skaterlag van kinders wat speel, die voëlgekwetter om haar en selfs die verbystromende verkeer het ’n melodieuse gesuis. Dit is ’n simfonie van alledaagse klanke. Sy het lank nagedink oor Donatello se vorige e-pos. En nou luister sy weer na iets wat sy net elke dag as vanselfsprekend aanvaar. Sy haal die Anna-boek, wat sy van Jan-Hendrik se boekrak af geleen het, uit haar rugsak en maak dit oop. Jan-Hendrik het doerietyd ook so aangegaan oor die boek, dit is dié dat sy nou maar besluit het om Donatello se aanbeveling te volg. Dit is nie nét omdat hy haar gevra het nie, troos Zoë haarself.

      * * *

      To: Donatello

      From: Volksie

      Subject: Dis ek, Volksie

      O nee, meneer! No ways! So werk dit nie. Ek sê jy moet ’n twee uur lange movie kyk en jy laat my ’n dikke boek lees. Dit het my ’n volle twéé dae gevat, en my oë lyk asof ek die een of ander deadly disease in Afrika op die lyf geloop het. Maar ek’s klaar en glo my, dis ’n rekordtyd vir my, want vir lees is ek nie baie lief nie. Wat’s jou plan met my? Om my vir altyd te laat opsluit in ’n depressiekliniek? Ek het my skoon simpel gehuil! Nog meer as in die fliek! O, ek belowe jou, daai man moet laat ek hom in die hande kry! Ek sal … ek sal hom … iets aandoen!!! En die ergste van als is, dit is ’n ware

Скачать книгу