Brouhaha. Eben Venter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Brouhaha - Eben Venter страница 13

Brouhaha - Eben Venter

Скачать книгу

Kraletjies se Kersfees sal altyd die Kersfeeste op Alartsfontein wees, die plaas in die Colesberg-distrik waar sy en my pa gebly het tot hulle te oud geword het vir die winters daar.

      En vir die gevaar van ’n moontlike aanval. Nie ’n bang haar op my kop nie, sê ouma Kraletjies nou nog. Haar kalkoen is al van voor die winter af op geel mielies gevoer: Magtig, maar hy’s moddervet vijaar.

      Ek hoor my pa nou nog as hy met die geslypte vleismes begin kerwe. Ouma Kraletjies hoor hom ook in haar gedagtes. Sy sal huil dié jaar, so ver weg en die eerste keer sonder haar wederhelf.

      Daardie tyd op Alartsfontein, apartheidsjare, was Kersetes eintlik ’n verligting. Die Groot Baklei kon persoonlik raak, maar dit was nooit uitsluitlik oor dié of daardie een nie. Politiek was die koue, harde vlam. Dis waaroor alles toe gegaan het.

      Uit Suid-Afrika het ouma Kraletjies vir Christa met haar allergieë en uitslanery ’n bottel velroom gebring wat met rooibostee gemaak word. Ek draai die bottel om en om: Clicks. Ek kan jou nou al sê, Christa is te Londens vir so ’n allemansnaam. Ek swyg.

      Onder familie word baie menings meer dikwels as nie onuitgespreek gelaat. Ek wil mos nie vir ouma Kraletjies met die grootste hart in die wêreld seermaak nie. As Christa maar net in die hitte van die Kerstyd verby die naam na ouma Kraletjies se suiwer bedoeling kan kyk.

      En dan’s daar Cindy, my suster, wat van Pennsilvanië af gekom en al hoeveel keer vertel het hoe sy twéé kaartjies moes koop. Net ingeval sneeu vir die Woensdag voorspel is – dan sou sy al die Maandag haar verbindingsvlug na Los Angeles haal.

      Met die twééde kaartjie. Sy’t seker maar gedink ouma Kraletjies sal haar ’n bietjie haak met die geld, maar Ouma, afgehaal oor ons vreemde goeters soos garnale op ons Kersfees-spyskaart het, het net haar mond gepruim. Nou toe, wat het julle Aussies vir poeding? Dis al wat sy wou weet.

      Toe gaan haal Liam sy jellie uit die yskas. Gestol in ’n outydse Victoriaanse vorm met lemoensap en rooswater en vonkelwyn, en voorgesit met room en vars kersies en mango en so aan. So ’n lieflike drillende ding wat ons almal aangegryp het.

      Monde ’n slag gesnoer ja, maar iets kinderliks, iets vroliks en onbevange het ook in ons losgekom. En net daar spring Robbie op, heeltemal teen sy geaardheid, en skree ’n heildronk op daardie eensame pa van hom in sy huisie op Reddersburg.

      *

      Die definisie van ‘cool’

      Twee filmregisseurs kom kuier in die Karoo. Ariane Besson maak reklamefilms van 45 sekondes vir televisie, Darrell Roodt maak vollengtefilms vir die grootskerm.

      Die twee het goed gekies, want die Karoo lyk soos hy een maal in sewe jaar lyk: Vol pers en oranje en wit en geel blomme wat na heuning en stuifmeel ruik. Ons ry na die Gamkarivier met ’n koelboks vol van alles wat jy nodig het: Bombay Sapphire-jenewer en ys, en tonic en suurlemoen en angostura bitters.

      Ons praat oor films en veral oor cool – hoe ’n film moet lyk om as cool en sexy te kwalifiseer, hoe jý moet lyk en wat jy moet doen om so te wees.

      Ek probeer agterkom wat Ariane en Darrell se formule vir hulle onderskeie suksesse is. Teen sononder, vlamoranje oor die soet veld, het hulle sonder dat hulle dit weet, ’n definisie van cool uitgespel. Eintlik is dit ’n resep vir sukses: ’n kortlys van goue reëls wat jy teen jou yskas opplak vir daaglikse inspirasie.

      *

      Ariane het as stilis en kunsregisseur vir reklamefilms begin en teen die laat jare negentig, byna sonder eie toedoen of opsetlike bedoeling, begin sy self reklamefilms redigeer. Vandag is daar al heelwat vroueregisseurs in reklame, maar Ariane reken teen 1999 was sy een van drie wêreldwyd.

      Ariane, petite van figuur en hipermodieus geklee, het daarin geslaag om ’n mannedomein te betree. ’n Alice in Wonderland-figuurtjie wat grootgeword het in Johannesburg se beskeie Observatory en op ’n dag by ’n Daimler Chrysler-vertoonvloer instap en teen die verwagting van die pinstripe-verkoopsmanne in (kan ons jou help, meisie, waar is jou pappie?) ’n tjek uitskryf vir ’n Mercedes Sport.

      Dit is wat Ariane Besson deesdae ry, omdat sy kan. En omdat sy dit geniet, is sy van kop tot tone in Prada of ons eie Black Coffee op pad na haar “wêreldkantoor”: Shanghai, Beijing, St. Petersburg, Hongkong of Bangkok.

      Nou, sodra sy in die Karooveld ’n sein op haar Blackberry kan kry, gee sy instruksies vir haar volgende opdrag. Dit is ’n advertensie vir Galaxy-sjokolade wat in Beiroet geskiet gaan word. Die hoofbeeld is dié van ’n meisie wat in die holte van ’n sekelmaan sit met silwertoegedraaide sjokolade – dit kon Ariane gewees het.

      In Suid-Afrika was een van haar bekendste TV-advertensies een vir Appletiser, maar meestal werk sy oorsee: vir Kroepskaja-sjokolade in Rusland, die modehuis Balmain in Parys, Nissan in Tokio, en in China tel Motorola, Nokia, Samsung en Ford onder haar kliënte. Hoogs mededingend, geld, baie, wat praat, kliënte met eise wat net-net deur sterflikes uitgevoer kan word.

      Ariane is min gepla: “Werk waaraan ek ’n lekker byt kan kry, is die bevredigendste.” En oor haarself: “Ek sou my graag gelykstel aan ’n glas yskoue Cristal-sjampanje.” Cool? Is dit wat dit is?

      *

      Darrell Roodt het in Hillbrow grootgeword en was van kleins af ’n kompulsiewe storieverteller. Hy het saam met sy ouma gaan fliek in His Majesty’s en die Colosseum. En hy het comics en boekies verslind. Maar die bron van hierdie storievertellery – “elke dag draai daar nog ’n storie van begin tot finish in my kop” – wie kan sê waar dit lê?

      Darrell het 28 films agter die blad, en die hoogtepunt was ’n Oscar-benoeming as beste buitelandse film vir Yesterday. Sonder uitsondering draai Darrell se stories om die mense en aarde van ons land. Yesterday is die verhaal van ’n jong Zoeloevrou wat deur haar mynwerkerman met die MI-virus besmet word en dan aan die lewe probeer bly om haar kind deur die skool te kry.

      Een slag het hy ook saam met die twintigste-eeuse komponis Philip Glass gewerk aan Faith’s Corner, ’n film sonder dialoog. Dit gaan oor ’n vrou met twee seuntjies wat op ’n Johannesburgse straathoek sit en bedel.

      Op die openingsaand van Darrell se Cry the Beloved Country, met Richard Harris in die hoofrol, was oudpres. Nelson Mandela ook daar. “Ek is so trots op my seun,” kom sê Darrell se ma toe vir Madiba. “Ons seun,” korrigeer hy haar. “Darrell Roodt behoort aan ons almal.”

      As dít nie cool is nie.

      *

text2.tif image8_sprinkaan.tif

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard,

Скачать книгу